Emoji – Coenie de Villiers
November 30, 2016
DIE VERENIGING VAN REGSLUI VIR AFRIKAANS
November 30, 2016
Anton Goosen

FAK/ANTON GOOSEN COMMENDATIO

COENIE DE VILLIERS
NOVEMBER 2016

As die kring van Afrikaanse musiekskrywers en komponiste ’n gesin was, was dit nie ’n besonderse groot familiekring nie. Ja, daar is ’n klomp verloopte neefs en niggies, aangetroude mog-het-troffes en aanspraakmakers by die gesinstafel op feesdae, maar in werklikheid is dit ’n taamlike klein groepie musikante en skeppers wat deurgaans en oor dekades heen by die tafel kan aansluit: diegene wat nie sogenaamde one-hit wonders skep nie; daardie skrywers wat nie net meer liedjies maak nie, maar van wie se oeuvre ’n mens in die ware sin van die woord kan praat.  Hulle is die ringkoppe, die katte met dikker sterte, en in hierdie gesin is daar net een ouer broer na wie die sibbe om die metaforiese tafel opsien.  Sy naam is Anton Goosen.

In hierdie gesin, en in die groter dampkring van die luistergemeenskap, loop hy voor.  Soos die ware ouer broer wat voorgaan in die tafelgebed, ons lewens en op die pad van die medeskeppers in sy gesin, word hy na opgesien, deel hy die spreekwoordelike snotklap uit na hulle wat waag om ’n backtrack te gebruik, tugtig hy die jonger snuiters wat geen snars verstaan van kwaliteit nie, en gee hy eweneens erkenning en aanmoediging aan diegene wie se talent nog in die skeppende smeltkroes sy beslag moet vind.  Hy moedig aan, korswil, debatteer, en loop voor soos dit betaam.

img_5802

Coenie de Villiers

Maar meer nog: hy bly self steeds aan die skep, en al is die debat en diskoers alte dikwels verleidelik, is dit sy musiek, sy woorde en sy kragtige teenwoordigheid wat in die kollektiewe oor van Suid-Afrika bly vassteek.

Soos die ouer broer wat nou op die familieplaas boer, is sy holte vir die voet eg Afrikaans.  Dis in Gansbaai waar hy op helder oggende oor die see kyk en bakhand maak teen die glinstering van die oggendson op die water.  Dis hier waar hy soos ’n sensei van ouds aan liriek begin proe-proe, en waar hy akkoorde en melodieë toets wat soms stoei, soms strook met die teks.  Want dis wat ware liedjieboere doen: hulle skeppings is sterk genoeg om ’n kollektiewe gehoor van miljoene oor baie jare te oortuig dat “Waterblommetjies” eerstens ’n pragtige lied is, en dan eers ’n smaaklike tradisionele dis.

Hy is ’n grensverskuiwer, ’n lewende erfenis, ’n eietydse shape-shifter, ’n shamaan wat goël met woorde en wysheid, wat toor met note en melodieë.  Sy naam is Anton Goosen. Ek is bevoorreg om hom dekades reeds te eien as my ouer, wyser broer wat die weg berei het in ’n tyd waar die Afrikaanse musieklandskap woes en leeg was.

En ’n voorloper is hy voorwaar.  Telkens as ’n mens dink dat jy self die grens verskuif, was die ouer broer reeds daar.  Wil jy die etniese grense van Afrikaanse musiek verskuif?  Moenie bodder nie; Anton Goosen en die ontslape Lucky Dube het reeds die teerling gewerp.  Wil jy die innovasie van hip-hop en rap ontgin?  Weer eens sal Anton, sonder om ’n ooghaar te lig, uitwys dat hy reeds daar was en dat jy moontlik ’n bietjie links of ’n bietjie regs behoort te mik.

Wil jy gewoon net ’n Afrikaanse lied met struktuur en skoonheid skep?  Wel, jy is ’n dekade of drie te laat: die spreekwoordelike Anton Goosen songbook het dit alles reeds gedoen en werk van toeganklike integriteit geskep.

En as jy wil rock, vergeet daarvan: hy het die teksboek geskryf wat gatskop betref.  Sosiale kommentaar?  Helaas, weer eens te laat: Goosen is die enigste familielid wat deurgaans soos ’n aweregse Bob Dylan sonder skroom vir die establishment kan tande wys, met net sy gewete en sy talent as kompas.

img_5851

Danie Langner en Coenie de Villiers

Hy beskik oor die rare gawe om die tradisionele met die waarlik moderne te kombineer, en in die proses skep Anton Goosen iets wat kritici laat rondval om dit te omskryf.  Dus dan maar terugval op oorbruikte etikette soos “legendaries” of “ikonies”.  Hy is beslis al hierdie dinge, maar as ’n mens na die trajek van sy loopbaan kyk, as ’n mens luister na hoe moeiteloos hy van genre na genre kan spring, en hoe deksels goed hy dit doen, is daar vir my net een woord wat Anton Goosen en sy oeuvre omskryf: Anton Goosen is tydloos.

Hy pas in geen vakkie nie, en hy pas in almal.  Al die elemente van klassieke skryfkuns is in sy werk, maar so ook die watermerk van innovasie.  Hy is sekerlik die enigste skepper wat ’n middeljarige vrou in die Karoo trane van erkenning kan laat stort as sy na een van sy liedere luister, en terselfdertyd stedelike millennials laat mosh in klubs en op die dansvloer.  Anton Goosen is oud gebore, en hy is 70 jaar jonk.  Hy is relevant; hy is waarlik tydloos.

Ek is bevoorreg om onder aan die tafel net langs die kombuisdeur te sit en op ’n baie klein skaal deel uit te maak van sy familie van tydgenote en musikante.  Vir my, soos vir soveel skrywers en musiekmakers, is hy die ouer broer na wie ons opsien; die een wat jou op jou tafelmaniere wys maar wat per geleentheid – en op verdienste – vir jou ’n tweede kelkie wyn by die Sondagmaal sal skink.

Daar is niemand wat vanaand se toekenning meer verdien nie.  Geluk Anton, en dankie vir die jare van vriendskap en voorloop.  Mag ons nog lank die liedjies uit jou pen en uit jou verbeelding hoor, en mag ons nog dekades lank daai rooi sonbril en kenmerkende pet agternaloop.

Saluut

img_5857

Danie Langner, Anton Goosen, Adam Tas, Beeskraal en Coenie de Villiers

 

 

Comments are closed.

error: Content is protected !!