The Piano Man
November 30, 2016
Anton Goosen
FAK/ANTON GOOSEN COMMENDATIO
November 30, 2016

Emoji – Coenie de Villiers

Sedert sy debuutalbum, Skoppensboer, in 1983 vrygestel is, het Coenie de Villiers hom as een van ons land se voorste sangers en liedjieskrywers gevestig.

Nogtans het hy besluit om nie elke jaar ’n album vry te stel nie, maar dit net te doen as hy met iets besonders vorendag kon kom. Daarom het sy musiek nog altyd die toets van die tyd deurstaan. Nadat sy aanhangers vier jaar moes wag, is hy eindelik terug met sy jongste album, Emoji.

As daar een tema is waaroor Coenie gereeld sing, is dit gebore Suid-Afrikaners wat na hul geboorteland verlang. Op “Notting Hill” kom hierdie tema weer na vore. Soos met die meeste snitte op die album, het Coenie die woorde en musiek geskryf. Coenie het saam met verskeie kunstenaars op die album gewerk, en op “Miskien” bespeel Gürkan Cakmak die duduk. Dit is ’n houtblaasinstrument wat inheems aan Armenië is. Prof. Hans du Plessis het Afrikaanse woorde vir Nkosi sikhelel’i Afrika geskryf, en Elvis Blue sing dit saam met Coenie. Hierdie weergawe kan net so wel as nasionale lied gebruik word by gepaste geleenthede. Daar is ook ’n musiekvideo van die opname van hierdie lied wat tydens ’n uitsending van Kwêla uitgesaai is. Die titelsnit is ’n instrumentale huldeblyk aan die legendariese Christa Steyn, wat Coenie baie goed geken het. Coenie beskou Dave Koz as die beste saksofoonspeler ter wêreld, en hy speel saam op Coenie se Engelse komposisie “Forbibben love”. Coenie is die twee kunstenaar in ’n paar maande wat ’n Afrikaanse weergawe van Noel Harrison se treffer “Windmills of your mind” opgeneem het nadat Laurika Rauch ook een op haar nuwe album ingesluit het. Linette Retief het die Afrikaanse woorde wat Coenie opgeneem het, geskryf, en dit staan bekend as “Windmeul van jou hart”.

Daar is nog ’n instrumentale snit op die album, naamlik “Shesha”, waarop die Grammy-bekroonde fluitspeler Wouter Kellerman saam met hom speel. Coenie het “Desert conversation” saam met Leon Gropp geskryf en hulle sing dit ook saam. Leon is een helfte van die kitaarduo CH 2, en hy bespeel ook die akoestiese kitaar op hierdie snit. “By jou” is een van Coenie se eie komposisies en is regtig ’n pragtige snit. Curtis Mayfield se bekende komposisie “People get ready” is die volgende snit; die koor No Limits sing dit saam met Coenie. “Die visser” is nog een van Coenie se eie komposisies, en een van die moontlike treffers vanaf die album. Die musiek herinner effens aan “Halala Afrika” van Johannes Kerkorrel, maar dit word nie as kritiek bedoel nie. Die laaste instrumentale snit op die album is “Naledi”, waarop ’n kora en ’n kalimba (onderskeidelik ’n harpagtige instrument en ’n vingerklavier) gehoor kan word. Op “Luister” rymklets Hemelbesem saam met hom; nie net sal Hemelbesem die kritici van rymkletsers twee keer laat dink nie, maar die boodskap is ook besonder sterk. Die laaste snit op die album is ’n nuwe weergawe van Coenie se eerste treffer, “Karoonag” waarop Karen Zoid saam met hom sing. Dit kan van voor af weer ’n treffer word.

Coenie het net weer bewys dat hy sonder twyfel een van ons land se heel beste Afrikaanse kunstenaars is. Hy het op hierdie album saam met ’n aantal interessante kunstenaars gewerk en hy stel die luisteraar bloot aan nuwe klanke wat ’n mens nie elke dag hoor nie. Daarby spreek sy lirieke van gehalte en integriteit. Daarom kan hierdie album nie sterk genoeg aanbeveel word nie; dit is dalk een van die heel beste albums wat vanjaar uitgereik is!

Comments are closed.

error: Content is protected !!