Wikipedia: Doen jou deel vir Afrikaans
November 30, 2016
FAK-Sangbundel trek splinternuwe baadjie aan
Januarie 31, 2017

Babbelkous is die titel van die 1974 film geregisseur deur Koos Roets waarin Katinka Heyns en Tobie Cronjé die twee hoofrolle vertolk het. Die storielyn wat handel oor ’n bisarre en terselfdertyd skreeusnaakse moord wat deur ’n babbelkous ontvangsdame aanskou word, is oorspronklik deur ’n Franse teaterstuk uit die 1950’s geïnspireer.

Vandag, 43 jaar na die oorspronklike Roets-rolprent, maak Koos weer so met Hoener met die Rooi Skoene. In die nuwe weergawe bevind Bonnie van der Byl (Lizz Meiring) haarself in ’n penarie. Een stormnag terwyl sy,oudergewoonte met haar vriendin oor die telefoon sit en klets, aanskou sy haar baas, mnr. De Waal du Toit (Deon Lotz), hoof van De Waal du Toit Musiekpromotors, wat uit sy kantoor strompel en morsdood neerslaan met ’n mes in sy rug. Bonnie raak flou en wanneer sy later weer bykom, skakel sy vir Kaptein Hendrik “Hoener” Greyling (Louw Venter) om ondersoek te kom instel. Wanneer die norse en grieperige Greyling op die toneel opdaag is daar ’n groot probleem – waar is De Waal se lyk dan? Hoener met die Rooi Skoene herinner aan die Agatha Christie-speurverhale met karakters soos Inspector Clauseau van Pink Panther-faam.

Iets wat Koos se rolprent regkry is om die “whodunit”-aspek sterk te laat deurkom en gehore vir 90 minute te laat kopkrap en wonder wie agter die rits moorde (ja, daar is meer as een) sit. Wanneer hierdie uiteenlopende karakters saam in een vertrek geprop word, dans die poppe behoorlik. Die ster van Hoener met die Rooi Skoene is ongetwyfeld Lizz Meiring, wie se dierbare Bonnie van der Byl haar ou skoolliefde, Kaptein Greyling, opdraende gee. Bonnie se beterweterigheid, maar terselfdertyd haar deernis en onskuld, sal gehore se harte steel. Alhoewel die meeste van die karakters net as “plot devices” dien (soos dit maar van toepassing in ’n tipiese 1950’s speurverhaal is), is daar tonele waar karakters soos André Weideman se verstrooide Konstabel Mickey Mentz en Geon Nel se Percy Celliers,  wys dat hierdie akteurs ’n intuïsie het wat Koos as regisseur puik ontgin.

Hoener met die Rooi Skoene het (in my opinie) ’n beperkte gehoor. ’n Jonger Afrikaanse mark sal nie so opgewonde na die teaters stroom soos met ander Afrikaanse films nie. Die humor in Koos se rolprent is veilig, skoon en spreek beslis tot ’n baie ouer, selfs ietwat gesofistikeerde gehoor, veral dié wat grootgeword het met speurder Sherlock Holmes. Soos in van my vorige resensies al genoem, wil dit vir my voorkom dat daar ’n al wyer “kloof” tusssen die jonger, opkomende filmmakers en die ouer meesters vorm. Waar die jonger filmmakers meer liberaal en riskant raak met hulle onderwerpe, wil dit amper vir my voorkom of die ouer generasie draaiboekskrywers en regisseurs in ’n waas van nostalgie en herinnering aan die goeie ou dae vasklou. Nie dat daar iets daarmee verkeerd is nie. Die vraag op die ou ent bly maar altyd of ’n rolprent vermaak verskaf of nie. Enige twee filmmakers uit verskillende eras se rede om stories te vertel, kan so ver verwyderd wees soos hul dag van geboorte.

Is Hoener met die Rooi Skoene die moeite werd om te sien? As jy weet wie Koos Roets is, sy werk waardeer en meegesleur raak deur teaterstukke wat spog met groot name, dan is die antwoord sekerlik ja. As jy jonger as 35 is en net Lizz Meiring se gesig op die plakkaat herken en die verkeerde (Molly en Wors) afleidings maak, dan is die kanse baie goed dat jy liefs iets anders sal gaan kyk. Nietemin is Hoener met die Rooi Skoene nog ’n pluimpie in die hoed van ’n regisseur en storieverteller wat dit doen omdat hy daarvoor lief is. En dis genoeg.

3/5 Sterre

Comments are closed.

error: Content is protected !!