Resensie: Oulap se pad – Daniel Eeuwrick

Redes vir Shimlapark-verslag: Heimat en die rol van privaat koshuise by tersiêre instellings
Februarie 2, 2017
Afrikaanse musiek neem kollig in in België en Nederland
Februarie 22, 2017

In 2014 het die musiekbedryf vir die eerste keer kennis geneem van Daniel Eeuwrick toe sy debuutalbum, Op ’n leë paron, vir ’n paar Ghoema-toekennings benoem is en in die alternatiewe genre bekroon is.

Daniel, wie se regte naam Danie Bekker is, het in die argitektuur gestudeer en dit is ook sy voltydse beroep; daarom dat sy tweede album, Oulap se pad nou eers uitgereik is. Dié album bestaan nie net uit oorspronklike komposisies nie, maar ook die toonsetting van ’n gedig en een komposisie elk van twee kunstenaars wat vir hom rolmodelle en legendes in die musiekbedryf is.

Met die eerste snit, “Afrika-kind”, kom jy al agter dat Daniel se musiek meer om die lyf het as dié wat ’n mens elke dag oor die radio hoor.  Die kitaarwerk is besonder goed; Willem Möller, wat deel is van Johannes Kerkorrel se Gereformeerde Blues Band, bespeel onder meer die elektriese kitaar, maar Daniel is self ’n goeie kitaarspeler in eie reg. “Kaalvoet girls” is ’n lekker rock-snit wat hy self geskryf het. “Sien jou weer” is nog ’n snit wat hy geskryf het; dit is een van die moontlike treffers vanaf die album omdat dit by ’n breë gehoor byval behoort te vind. Ten spyte van die Engelse titel is “Pockets full of silence” ’n Afrikaanse liedjie. “Spooktrok” is ’n baie lekker rock-snit wat radiolugtyd verdien. Die klassieke kitaarwerk wat saam met die rock-kitaar gehoor kan word, is iets baie besonders.  Die titelsnit is die eerste enkelsnit en die musiekvideo is op You Tube te sien. Dit is een van die heel beste Afrikaanse liedjies wat tot dusver vrygestel is. Daar moet ook spesiale melding gemaak word van die pragtige rooi Ford Zephyr Merk 3 van die vroeë 1960’s wat op die CD-omslag en in die musiekvideo te sien is. Dit is blykbaar sy eie motor. Om terug te keer na die liedjie toe; dit gaan die een snit wees wat hom in die musiekbedryf gaan vestig. “Poker face” het niks met Lady Gaga se liedjie met dieselfde naam te doen nie, maar sy eie komposisie en nog ’n hoogtepunt vanaf die album.

Die eerste snit op die album wat Daniel nie geskryf het nie, is “Gansbaailapa” van Anton Goosen. Daniel beskou Anton as ’n rolmodel en Anton het vir Daniel goeie raad gegee wat sy musiekloopbaan betref. Die ooreenkomste tussen Anton en Daniel se stemme is opvallend en jy moet mooi luister om te hoor dat dit nie Anton is wat sing nie. Daniel is lief daarvoor om gedigte te toonset, en die volgende snit, “Aan Uys Krige” is ’n toonsetting van ’n Ingrid Jonker-gedig. Dit is nog ’n snit waarvan daar al ’n musiekvideo gemaak is. Die eerste Engelse snit op die album is “Your smile”; dit is aan Mia en Byron opgedra; en die datum wat op die omslag aangedui is, is 24 September 2016. ’n Mens kan net aanneem dat dit hul troudag is. Die laaste snit op die album is “Bourbon Street”, ’n komposisie van Piet Botha, wat ook mondfluitjie op die album speel. Op hierdie twee snitte bewys Daniel dat hy ewe goed in Engels as in Afrikaans kan sing.

Dit is nog baie vroeg in die jaar, maar ’n mens wonder of hierdie album nie dalk een van 2017 se bestes gaan wees nie. Daar kan geen twyfel oor Daniel se integriteit as sanger en liedjieskrywer bestaan nie en dit is duidelik dat hy hom omring met van die beste musikante in die bedryf. Hopelik sal hy gou die erkenning kry wat hy verdien, daar is geen rede waarom musiek van hoogstaande gehalte nie by ’n groot gehoor byval kan vind nie.

Comments are closed.

error: Content is protected !!