Vriendskappe word gesmee in die Ketelkelder
Mei 4, 2017
Andrew Murray-Toekenningsgeleentheid
Mei 8, 2017

deur Seugnet van Zyl soos verskyn op Netwerk24, 21 April 2017

 

“Luister bra, ons erken jou. Jy was fenomenaal.”

Ian Roberts, hoofsanger van die Radio Kalahari Orkes, het met dié woorde die eerbewys opgesom wat hy Donderdagaand (20 April 2017) namens Dawid de Lange in ontvangs geneem het. Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het die eerbewys aan Roberts vir De Lange se uitnemende bevordering van Afrikaanse volksmusiek by die Pierneef-teater in Pretoria oorhandig. De Lange het in 1934 bekendheid verwerf waar hy saam met Poea Stapelberg se Naglopers sy plate bekend gestel het.

Die “Kalfiewals”, “Daisypolka”, “Liewe Goudstad-polka” en vyf ander snitte het die mark aan die gons gehad. Danie Pretorius skryf in Musieksterre van gister en vandag dat De Lange ’n gebore optimis was en dat hy by ’n platemaatskappy se ateljee in Presidentstraat ingestap het en hom met dié volgende woorde voorgestel het: “My naam is Dawid de Lange. Ek speel konsertina en kitaar en sing ook. Ek wil graag plate maak in Afrikaans.”

’n Jong Eric Gallo het besluit om dit met De Lange te waag en die mark te toets. Die verkope het eenvoudig gesneeubal en later het Eric Gallo self gesê dat De Lange vir Gallo van ondergang gered het. Roberts sê dis vir die orkes ’n eer om die eerbewys te ontvang. “Dawid was een van die eerste groot skrywers van Afrikaanse lirieke. Hy het humoristiese lirieke geskryf wat ’n spieëlbeeld was van Afrikaners in die 1900’s en dit is ironies, maar daai humor is vandag steeds van toepassing op Afrikaners.”

Roberts se orkes het self ’n album, Die Nagloper – Die musiek van David de Lange, uitgereik. “Dave de Lange se musiek is vir ons baie lekker.”

Hy self het ook al in twee toneelstukke oor De Lange se lewe opgetree. De Lange is in 1905 as David Petrus gebore. Daar was ’n hele polemiek oor sy eerste naam. Dit het daarom gegaan of hy David in Engels of Dawid in Afrikaans was.

Volgens boeremusiek.co.za is al waarom daar “David” op sy geboortesertifikaat staan, omdat ’n mens Dawid in Nederlands met ’n “v” en nie ’n “w” skryf nie. Hy het sy naam in ieder geval ook self as Dawid uitgespreek. De Lange het van kleins af ’n aanleg vir musiek getoon en veral die kitaar en konsertina het sy aandag getrek.

Meer as 70 van sy plate is uitgereik. Tog het hy eienaardig genoeg homself as ’n myner van beroep beskou en sy stokperdjie was om musiek te maak en te sing. Uiteindelik het sy werkery in die myn sy tol geëis en is hy in 1947 op die ouderdom van 41 dood.

 

 

Comments are closed.

error: Content is protected !!