Vriendskappe word gesmee in die Ketelkelder

Varsgedruk stel nuwe Afrikaanse aanlyn-boekwinkel bekend!
Mei 4, 2017
FAK vereer Dawid de Lange
Mei 4, 2017

Annelien Diedericks

Die afgelope jaar het groot skrywersname ’n draai by NALN kom gooi vir boekbekendstellings in vennootskap tussen NALN, Human & Rousseau en Exclusive Books. Dit sluit skrywers in  soos  Deon Meyer (Koors), Chris Karsten (Die dood van ’n goeie vrou),  John Miles (Op ’n dag, ’n hond) en  Wilna Adriaanse (Eindspel).

Prof. Jaap Steyn se bekendstelling van Afrikanerjoernaal: ‘n vervolgverhaal in 365 episodes is ingelei deur dr. Danie Langner se treffende toespraak, “Die mag van vernedering en die krag van vryheid” (25 Februarie 2017). Die Vriende van NALN se Algemene Jaarvergadering het tydens dieselfde geleentheid plaasgevind. Mnr. Paul Colditz is eenparig as voorsitter van die Vriende van NALN-vereniging aangewys.

NALN was ook bevoorreg om boekbekendstellings aan te bied van Nico Moolman (Karren-melk vir Ta’ Nonnie),  Ena Jansen (Soos familie), Irma Joubert (Immer wes), Hilda Smits (die bome reusagtig soos ons was) en  LJ Bothma (Huilwater: 30 lekkerleesstories in die langpad). Kas van den Bergh se Vryheid Vaarwel is 18 jaar na sy dood deur prof. Das Steyn by NALN bekendgestel.

NALN is ook baie opgewonde oor die vennootskap met die Vrystaat Kunstefees. Vanjaar word vyf programme elke dag om 18:00 in die NALN-ouditorium aangebied. As deel van die Hulde met helde-reeks kan feesgangers uitsien na programme oor Adam Small, Karel Schoeman, Dot Serfontein en Thomas Mofolo. Bekendes tree op soos Leana Lategan (NALN), Antjie Krog, Antoinette Kellerman en Tribal Echo. Bloemfontein se ryke geskiedenis kry ook ’n beurt saam met Hannes Haasbroek en Marianne Botes van die Nasionale Museum.

Huldigingsgeleenthede is gedurende die afgelope twee jaar aangebied vir Elisabeth Eybers, Hermien Dommisse en Arthur Fula. Arthur Fula is die afgelope naweek postuum vereer met die Orde van Ikhamanga.

Vriendskappe word gesmee in die Ketelkelder! Maandae kuier ons heerlik in Vriende van NALN se Boekemark in die pragtige Ketelkelder. Kom loer gerus in en maak nuwe vriende tussen rakke propvol van die beste Afrikaanse, Nederlandse, Britse en ander tweedehandse boeke waarvan jy net kan droom…

Hertzogville se leeskring het op 18 April 2017 Rykie van Reenen se lewensverhaal, Rykie: ’n lewe met woorde, deur Lizette Rabe, saam met Leana Lategan van NALN in die Ketelkelder bespreek. Hierna het hulle die leefwêrelde van ons geliefde Afrikaanse skrywers tydens ’n begeleide museumtoer bewonder.

Die Spooktoer, saam met Engo Kinder- en Jeugsorg se matrieks, is afgesluit met ’n piekniek by kerslig in die NALN-ouditorium en ’n skyfievertoning oor die hartpionier Christiaan Barnard en Madiba se liefde vir Afrikaans. Ander skrywers is ook hierby betrek. ’n Groep van 200+ skoolkinders en 200+ UV-studente het ook onlangs die wonderlike aromas van Afrikaans kom inasem (sien berigte op Vriende van NALN se Facebookblad). Verskeie kerkgroepe het ook reeds vanjaar hier ’n lekker Afrikaanse letterkundedraai kom gooi.

’n Deel van die werk wat NALN doen, is leeskringbesprekings, aangebied deur Leana Lategan, hoofvakkundige. Dit dra by tot die waardering en bewusmaking van Afrikaanse boeke. Reeds geskeduleerde leeskringe vir 2017 is sewentien, soos die Verdwyning van Mina Afrika en Die tuiskoms van Mina Afrika (Zuretha Roos), Rykie, ’n lewe met woorde (Lizette Rabe), ’n Man van min belang (Chris Karsten), Philida (André P. Brink) en Valsrivier (Dominique Botha). ’n Heidedal-leesgroep, lesers waarvan die eerste taal óók  Afrikaans is, besoek NALN binnekort vir ’n museumtoer en die bespreking van Amraal (Marinda van Zyl).

Leana Lategan praat ook binnekort oor Dot Serfontein se boeke en kortverhale by Riana de Beer se Langenhovenpark Leeskring. Sy neem later vanjaar tydens die Vrystaat Kunstefees se Literatuurfees deel aan ’n paneelbespreking oor Dot Serfontein in die NALN-ouditorium.

Tydens ’n huldigingsaand wat die ATKV Gariep-tak vir die Afrikaanse teaterman en liedjieskrywer/komponis aanbied, lewer sy ‘n lesing oor Jan Pohl.

 

Vir navrae oor die Boekemark en begeleide museumtoere kontak Annelien Diedericks by  annelien.naln@sacr.fs.gov.za. By NALN wag ’n wonderwêreld op jou! By NALN is elke dag beslis Wêreldboekedag!

Nooi asseblief u vriende om aan te sluit by die Vriende van NALN-vereniging vir 2017 en lewer ’n aktiewe bydrae as gewone lid, student of instansie, of hernu gerus u lidmaatskap. Die lidmaatskapvorm en grondwet is beskikbaar by NALN se webwerf: http://www.fssacr.gov.za/internet/index.php/NALN (punt 10), of stuur ’n boodskap aan vriendevannaln@gmail.com en ontvang dié twee dokumente. Skakel gerus in by die Vriende van NALN se facebookblad:  https://www.facebook.com/vriendevannaln?fref=ts

 

Comments are closed.

error: Content is protected !!