Mosselbaai is mos ’n plek wat my hart steel

Sing vir sente
Junie 28, 2017
Die begin van groot dinge vir Lizandra Winter
Julie 5, 2017

Deur Johan van Wyk

Soos veskyn by netwerk24.com

 

Die aanwys van Mosselbaai as Kwêla se Dorp van die Jaar vir 2017 het my die FAK-sangbundel laat nader trek.

Ja, hy staan nog op my boekrak – langs die lywige Gedenkboek van die Ossewatrek 1838-1938 vir die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument in Pretoria.

Terwyl ek “Aai aai die witborskraai, hiervandaan na Mosselbaai . . .” opgesoek het, het ek gewonder op hoeveel mense se boekrakke jy nog die FAK-sangbundel sal kry. Ek het ’n vermoede nie op baie nie. Ek het ook gewonder in hoeveel Afrikaanse huise word nog om ’n klavier volksliedjies gesing. Voor die koms van televisie was dit gewilde gesinsvermaak om die lang, koue wintersaande om te kry. Op plase in die Karoo was dit destyds om ’n traporrel.

Ná die groot wol-boom van die 1950’s toe ’n pond wol ’n pond geld gehaal en die voorspoed blou in die blom gestaan het, het plaashuise se voorhuis ’n elektriese Lowrey-orrel gekry, die kombuis ’n Aga-stoof en die boer se studeer­kamer ’n lugfoto (in kleur) van sy plaas. Plus ’n koelkamer vir vleiswerk en ’n Lister-batteryligtoestel.

In baie voorstede­like huise was dit vroeër moeder voor die klavier, vader wat insit en die noot hou, die kindertjies, danksy die baie treine wat toe nog geloop en hulle pa en ma snags wakker gehou het, soos orrelpypies aan hul voete.

Musiekaande is ook saam met vriende gehou. My ou geskiedenis- en musiekonderwyser, mnr. Dirkie de Villiers, het dit gereeld in Bloemfontein gereël. Ná die vrolikheid van prettige volksliedjies is ’n musiekaand in sy huis altyd afgesluit met Die Stem van Suid-Afrika, deur sy vader, M.L. de Villiers, getoonset.

Oompie wil na tannie vry, tannie trek haar neus opsy!

Maar terug na Mosselbaai. Toe my ouers in 1952 George toe gery het om ’n eerste kleinkind te gaan besigtig, was dit ’n rustige kusdorpie. Stukke tussen Albertinia en Mosselbaai was toe nog grondpad.

Toe ons Mosselbaai nader, het my pa sy Hohner-bekfluit uitgehaal en met een hand op die stuurwiel weggeval met: “Aai aai die witborskraai, hiervandaan na Mosselbaai. Oompie wil na tannie vry, tannie trek haar neus opsy!” Ons het almal saamgesing.

Niemand kan sy neus optrek vir Mosselbaai nie. Met een van die mees gematigde klimate ter wêreld, ’n pragtige ligging en die lekkerste swemplek in Suid-Afrika – die Poort tydens hoogwater – is dit ’n plek wat my hart steel.

Maar ek het effens droewig geword toe ons onlangs daar by ’n restaurant tongvissies effens groter as paddavissies gekry het teen wat ’n Volkswagen Kewer vroeër gekos het.

Terwyl ek langtand daaraan kou, het ek onthou hoe jy vars tongvis in Mosselbaai se hawe kon koop en dat ’n gebakte een jou bord volgelê het in die styvolle eetkamer van die Shepherd’s Park Hotel in Marshstraat.

En hoe Saterdagaande op die musiek van die Bay Jazz Band in die Santos Hotel gedans is.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!