Die begin van groot dinge vir Lizandra Winter

Mosselbaai is mos ’n plek wat my hart steel
Junie 29, 2017
Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se Nasionale BSV-skryfwedstryd 2017
Julie 5, 2017

Hoendervleismooi is die perfekte woord om LIZANDRA WINTER se splinternuwe enkelsnit op te som. DIE BEGIN bou voort op die sukses van haar eerste amptelike solo-snit en musiekvideo, Fluister, wat nie net deel was van die 2016-lokettreffer, Vir Altyd, se klankbaan nie, maar ook steeds gereeld speeltyd kry oor die radio en op die kassie. Volgens haar, gaan hierdie Pop-Rock-treffer daaroor dat ’n mens so vasgevang word in die gejaag van die lewe, dat jy vergeet wat regtig belangrik is. “Ek sê altyd vir my man dat ek nie vir eendag wil leef nie en tog vang ek myself so baie dat ek toelaat dat ‘môre’ die skoonheid van vandag steel. Ek het die lied geskryf om myself te herinner dat die tyd soms moet stilstaan, en ek myself moet verloor in die oomblik. Ook dat geld nie geluk kan koop nie. Die lied het ’n goedvoel-verwerking waarby die meeste luisteraars sal aanklank vind,” vertel sy opgewonde. “In vandag se tyd is dit die norm dat, terwyl jy besig is met een ding, jy alreeds besig is om aan die volgende een te dink. Dan mis jy so maklik die mooi van die hier en nou. Die eenvoudige goedjies wat werklik saakmaak.”

Ek het die lied geskryf om myself te herinner dat die tyd soms moet stilstaan, en ek myself moet verloor in die oomblik. Ook dat geld nie geluk kan koop nie. Die lied het ’n goedvoel-verwerking waarby die meeste luisteraars sal aanklank vind.

Haar selfgetitelde Afrikaanse debuut-album word binnekort bekendgestel en sluit ’n spesiale duet van die Christa Steyn-treffer, Ek wil vir jou, in saam met sangsensasie, Joshua na die Reën, wat beloof om selfs die kritiesste oor te beïndruk. “Die liedjies wat ek gekies het om op die album te wees, is oor ’n tydperk van twee jaar geskaaf. In elke seisoen van my lewe, was daar nuwe inspirasie en het ek geskryf oor die lesse wat ek geleer het en die dinge wat ek voel ek nog moet bemeester. Die musiek op die CD gaan oor daardie kosbare dinge in die lewe, wat geld nie kan koop nie en waarin ewigheidswaarde lê,” verklap die ster. “Ek het besluit om dit ’n selfgetitelde album te maak, omdat die liedjies vasvang wie ek is. Dis amper soos ’n aankondiging wat sê: ‘Hier is ek, Wêreld!’.”

LIZANDRA, wat haar musiekopleiding in Jazz, Populêre Musiek en Uitvoerende Kunste aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie verwerf het en spog met ’n Gr 8-musiekkwalifikasie van Unisa, kom uit ’n musikale familie uit en sing al vandat sy vyf jaar oud is. Sy het aanvanklik in 2013 naam gemaak as die ‘blonde meisie wat saam met Joshua na die Reën sing’ na die vrystelling van sy debuutalbum, waarop hulle die liedjie, Soos Altyd, saam geskryf het. Omdat hulle stemme mekaar so mooi aanvul, het die sangers ook verskeie duette opgeneem daarna, waaronder die oorspronklike snit – Until Love – waarvan daar ook ’n musiekvideo gemaak is. Sedertdien het sy haarself ook gevestig as liedjieskrywer en solo-kunstenaar. Buiten vir optredes by verskeie musiekfeeste en korporatiewe funksies, het sy ook al die verhoog gedeel met gesoute kunstenaars soos Bobby van Jaarsveld, Chris Chameleon, Koos van der Merwe, Elvis Blue, Riana Nel, Touch of Class, Roan van As, Bittereinder, Len Muller, Vernon Barnard, Armand Joubert, Dozi, Karlien van Jaarsveld en baie ander. Sy was ook deel van Bobby van Jaarsveld se M-Net & Friends Special in 2016, wat in Desembermaand uitgesaai is.

Die komende album, wat deur Joshua na die Reën en Jason Ferreira van LittleBig Studio vervaardig en deur Stefan Swart vermeng is, bestaan uit 13 snitte wat sorgvuldig uitgesoek is om hierdie begaafde kunstenaar se talent ten toon te stel, die hartsnare te prikkel en jou onwillekeurig te laat saam neurie. Die inhoud van die CD is ’n vars en indrukwekkende versameling van genres, wat Rock, Kontemporêre Wêreldmusiek- (Liefde Wen en Afrika Grond) en Popmusiek insluit, asook ’n paar emosiebelaaide ballades soos Sielsvryheid. Baie van die liedjies is uit die sangeres se eie pen en spreek temas aan waarmee almal sal kan vereenselwig. “Ek wil nie nét oor romantiese liefde of liefdesteleurstellings sing nie. Daar’s reeds soveel liefdesliedjies daar buite. Ek voel dis nodig dat ons oor meer as net dít begin praat in ons musiek,” vertel sy. Haar man, Ryhno von Hagen, het ook bygedra tot die musiek en verwerking van die album en liedjies, soos Geraas, spog met ’n sterk orkestriële en klassieke aanslag. Gesoute kitaarspelers soos Nathan Smith en Andrew ‘Rixi’ Roman was betrokke by die skep van die agtergrondmusiek, terwyl Joshua na die Reën ook sy klaviervernuf ten toon stel.

“Wanneer lirieke, melodieë en verwerkings saam iets skep wat vervaardig kan word om ’n mens op reis te neem na plekke in jouself, wat jy nie eers geweet het bestaan nie, dán wéét jy dat ’n kunstenaar, avontuur binne-in hulself ontdek het en nie anders kan as om hul lewe daaraan te wy – om hopelik daarmee die wêreld ’n beter plek te maak nie. LIZANDRA WINTER het nie net hierdie kuns bemeester nie, maar het ook die vaardigheid van stemgebruik so versuiwer dat dit ’n perfekte verhouding met die musiek skep. Ek was nog nóóit so trots om deel te wees van iemand anders se musiekwêreld, soos van hare nie,” verklap Joshua na die Reën.

Alhoewel sy nie een is wat daarvan hou om te ver vooruit te beplan nie, het LIZANDRA nog verskeie musiekdrome om te verwesenlik. Sy het groot bewondering vir kunstenaars soos Ed Sheeran en sou graag ’n verhoog met hom wou deel en saam met Chris Chameleon ’n duet wou opneem. Sy luister ook graag na rockgroepe soos Live, Muse, Alter Bridge en Dream Theater en meen dat sangers soos Josh Groban, Imogen Heap en Florence Welch van Florence and the Machine ’n invloed gehad het op haar eie styl. “As my musiek luisteraars kan help om met nuwe oë na hulself en die lewe te kyk, sodat hulle weer  opnuut besef waaroor dit alles eintlik gaan, dan voel ek die album en my musiek het bereik wat dit moet,” sê sy.

LIZANDRA WINTER se nuwe enkelsnit en strelende fluweelstem, gaan nie net diep spore in die Afrikaanse musiekbedryf trap nie, maar is ook ‘die perfekte begin’ van ’n baie belowende solo-loopbaan vir hierdie talentvolle kunstenaar. Haar album word op 22 en 23 Julie 2017 amptelik vrygestel by die Encore Teaterkompleks in Hatfield en beloof om luisteraars, van die eerste noot af, soos ’n warm winterskombers te omvou en weg te voer na ’n wonderland van luistergenot.

LIEDJIES OP DIE ALBUM

  1. Geraas
    2. Winter kom
    3. Tranedans
    4. Die begin
    5. Fluister
    6. Bekende vreemdeling
    7. Ek wil vir jou
    8. Liefde van ’n kind
    9. Kleurblind
    10. Jy sien my
    11. Sielsvryheid
    12. Liefde Wen
    13. Afrika grond

 

SOSIALEMEDIASKAKEL

Facebook: https://www.facebook.com/lizandrawinter/

Twitter: @Lizandra_Winter

Instagram: @lizandrawinter

Webblad: www.lizandrawinter.co.za

 

KAARTJIES VIR DIE BEKENDSTELLING

Bespreek aanlyn by Quicket: www.quicket.co.za

 

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!