Kaboemfees weer plesierig
Julie 5, 2017
So blus jy met ‘n #PLUS
Julie 24, 2017

GEE MY DIE BERGE!

Openingstoespraak van Die Voortrekkers se 23ste Kongres op Donderdag 13 Julie 2017 te Grey Kollege, Bloemfontein, deur Hoofleier Danie Langner.

 

115 jaar gelede het ’n penkop met ’n bliktrommel in sy hand aan die voordeur van Grey Kollege geklop. Hy was deel van ’n handjievol konsentrasiekampkinders wat tydens die Anglo-Boereoorlog deur Milner na topskole gestuur is om te verengels. Toe NJ van der Merwe grootword, het hy sy lewe daaraan gewy om ’n Afrikaanse toekoms te skep. Die penkop het as eerste Hoofleier van Die Voortrekkers gedien en vir ontwortelde Afrikanerkinders die leuse, Hou Koers, gegee.

104 jaar gelede het ’n jong onderwyser uit die buiteland teruggekeer met die droom van ’n eie Afrikaanse jeugbeweging. In 1913 was daar geen naam, geen simbole, geen lede nie. Hy het die naam Voortrekkers gekies, vir die Afrikanerkinders van Bloemfontein ’n kultuurtuiste in Werk-en-Wen kommando geskep en met sikspense en pennies in 1920 ’n stigtingskongres gereël. Toe net 12 mense dit bywoon, het hy nie moed opgegee nie, maar kinders geleer: “Voortrekkers moet optree as leiers wat die onsienlike sien.” Sy droom wat in 1913 begin het, is eers in 1931 met die stigting van Die Voortrekkers verwerklik. Toe hy in 1959 as Hoofleier uittree, het Die Voortrekkers vir Cornelius Francois Visser die eretitel: Vader van die Voortrekkers gegee.

Tien maande voor die 1994-verkiesing moes Die Voortrekkers besluit wie is welkom in Die Voortrekkers en wie nie. Onder leiding van Johan van der Walt het Die Voortrekkers tydens die 1993-kongres gekies dat ras nooit weer die maatstaf vir lidmaatskap sou wees nie, maar vrye vereenselwiging met ons identiteit en waardes.

Toe ’n miljoen Afrikaners die land verlaat het, moes Die Voortrekkers kies tussen kulturele verstarring of aanpassing, tussen sterf of leef. Tydens die 1997-kongres het Tom Dreyer teen weerstand en skeurmakers opgestaan en JA! gesê vir die toekoms van Afrikanerjeug. Hy het die Voortrekkers as ’n moderne kultuurorganisasie herposisioneer, die ABC as idee-koördinate ontwikkel en kulturele vryheid as bestaansvoorwaarde neergepen.

Oom Johan van der Walt het Afrikaners se eietydse dilemma verlede Donderdag tydens ’n gesprek op Seejol mooi opgesom. Anders as in 1993 en 1997 lê Die Voortrekkers se toekomskeuses nie meer op die vlak van burgerskapbesluite nie. Die beste bewys van ons verbintenis tot positiewe burgerskap is in elke geval nie hoeveel keer ons die Nasionale lied sing of die Nasionale vlag laat wapper nie. Die beste bewys van ons verbintenis tot positiewe burgerskap is die feit dat ons steeds hier is.

Vandag staan ons weer op ’n historiese beslissingspunt. As Afrikanerkultuurbeweging moet ons tussen kulturele bywonerskap of kulturele eienaarskap in ons land kies.

In ons konteks sny die mes dieper. Dit sny tot op die been van ons kulturele identiteit. Tot op die murg van ons Afrikanerskap.

Keer op keer sien ons hoe jongmense onbeskaamd uitgesproke is oor hulle Christenskap, verbind is tot ’n positiewe rol in ons land, maar onbeholpe struikel wanneer ons praat oor moderne Afrikanerskap.

Wie kan hulle hieroor kwalik neem?

Hoe kan hulle opgewonde wees oor Afrikanerskap as oom Blackie uitgebeitel en in ’n visdam gegooi word, as oom Paul op Kerkplein met petrolbomme bestook word, of as die Zuptas staatbates vinniger plunder as wat ’n tienerseun ’n yskas kan leegmaak en dan die skuld op apartheid en witbevoorregting pak?

Voordat ons die splinter in ander se oë raaksien, moet ons nie blind wees vir die balk in ons eie oog nie.

Laat ons eerlik vra:

  • Is ons nog trotse Afrikaners of het ons nie skaamteloos skaam geword vir Afrikanerskap nie?
  • Het ons nog die kulturele selfvertroue om respek vir ons taal en erfgoedere te eis?
  • Doen ons genoeg moeite om ons kinders aan ons helde te herinner en oor die prestasies van ons geskiedenis met hulle te praat?

Vandag staan ons weer op ’n historiese beslissingspunt. As Afrikanerkultuurbeweging moet ons tussen kulturele bywonerskap of kulturele eienaarskap in ons land kies.

Kulturele bywoners leef met ’n ekskuus-dat-ek-Afrikaner-is-houding. Hulle is skaam vir hulle identiteit, hulle taal, selfs vir die naam Voortrekkers. Kulturele bywoners word gekenmerk deur ’n traak-my-nieagtige onbetrokkenheid, ’n koerslose en onderdanige politiese korrektheid en die wegskop van eie verantwoordelikheid met ’n doellose gelatenheid as dit by Afrikanerskap kom.

Dan is daar gelukkig diegene wat vanuit ’n interne locus standi kulturele eienaarskap aanvaar.

Miskien word kulturele eienaarskap die beste beskryf deur die keuse van Kaleb.

Toe Kaleb 40 was, het hy en ander verspieders die moeilike opdrag van Moses gekry om Kanaän te verken. Josua en Kaleb het God en toekoms gesien, die ander het die reuse en probleme gesien. Josua en Kaleb het gesê ons kan, die ander was bang. Ons ken die gevolg. ’n Geslag moes sterf.

In Josua 14 ontmoet ons Kaleb 45 jaar later weer op die rand van Kanaän. Hy is nou 85. Hy het weer ’n moeilike opdrag ontvang. Hy moet die bergwêreld verower. Die Enakiete, dieselfde reuse van 45 jaar gelede, woon steeds in die berge.

Die leiers van Israel het vir hom ’n sagter opsie, ’n makliker uitweg gegee. In Josua 14:12 antwoord Kaleb: Gee my die berge!

Dit is die gees en hart waarmee ’n KAN-organisasie ’n KAN-toekoms skep.

Kulturele bywoners se instandhoudingsdenke, die sagter opsies, die weg van die minste weerstand, is sonder twyfel die makliker pad. Dit is ook die pad van ’n organisasie wat kort voor lank in ’n kulturele doodloopstraat beland, uiteindelik boedel oorgee en hulle kulturele selfdood administreer. Daarvoor kan niemand anders die skuld kry nie. Nie die regering nie, nie die landsomstandighede nie, net die selfsug van die eie ek.

Kulturele eienaarskap is allesbehalwe ’n selfvoldane arrogansie of ’n ontkenning van die foute in ons geskiedenis.

Kulturele eienaarskap is die aanvaarding van eie verantwoordelikheid om dít wat vir ons kosbaar is vir ons kinders erwe te laat bly.

Kulturele eienaarskap is opstaan, moue oprol, inisiatief neem, bakens plant, potensiaal raaksien en dit ontsluit.

As Voortrekkers vanaand kulturele eienaarskap as toekomskeuse kies,

  • aanvaar ons die uitdaging om ons kinders trots te maak op wie hulle as Afrikaners is, trots op wat Afrikaners in die verlede bereik het en trots op die positiewe werk wat Afrikaners steeds in die land doen.
  • aanvaar ons die uitdaging om diversiteit as bate te ontgin deur nuut te dink oor ons strukture sodat gemeenskappe groter eienaarskap daarvoor mag neem.
  • aanvaar ons die uitdaging om meer mense, veral jongmense, die geleentheid te bied om in leierstrukture te dien en daardeur mede-eienaarskap vir ons kultuur te neem.

NP van Wyk Louw skryf ’n volk het baie jeugde. Daardeur bedoel hy geloofsdapperheid, innoverende denke, vindingrykheid en kulturele ondernemerskap het niks met ouderdom te doen nie. Dit het alles te doen met ’n jong gees, die vermoë om by nuwe tye aan te pas en die verwerkliking van ’n kultuurtoekoms met KAN-keuses.

Dankie aan KAN-mense wat met die daadkrag van NOU sê: Gee my die berge!

Dankie aan ’n KAN-mens soos ons hoofbeskermheer, Nico Tromp, wat in hierdie tyd die grootste meubelkompleks in Suider-Afrika gebou het en toe President Geingob van Namibië uitnooi om dit te open. Deur die skeppende daad bevestig hy die waarde van selfsorg, selfstaan en selfdoen, maar ook die noodsaak van goeie verhoudinge in Afrika.

Dankie aan Voortrekkeroffisiere wat moeite doen om Voortrekkers vir ons kinders lekker te maak. Hierdie weeklikse liefde, getrouheid en diensbaarheid skep nie net geborgenheid vir ons kinders nie, maar vermenigvuldig die oorlewingskrag van Afrikanerkultuur duisendvoudig.

Sosiale media gons van Voortrekkers wat uitreik na nood in gemeenskappe. Soms met kos en klere. Ander kere met waterbottels in droogtetye. Die afgelope week het Swartvlei elke dag ongeveer 200 etes aan Knysna se brandweermanne, ouetehuise en mense in nood voorsien, rampbestuurspanne gehuisves en store vol hulpmiddels uitsorteer en reggepak. Dankie aan Voortrekkers wat raaksien en omgee. Diensbare leierskap is die hefboom waarmee ons stabiliteit en positiewe waardes in ons gemeenskappe se grond KAN inwerk.

Elke vakansie beleef duisende Voortrekkerkinders wonderlike avonture op kampe. Dankie aan elke kampbestuur wat die positiewe resultaat van haarfyn beplanning, goeie organisasie en harde werk bevestig en elke Voortrekkeroffisier wat hulle verlof- en gesinstyd opoffer om in ons kinders se karakterontwikkeling te belê.

Dankie aan ouers wat in moeilike ekonomiese tye hulle hande diep in die sak steek sodat hulle kinders mag behoort aan ’n waardegedrewe KAN-organisasie. Dankie aan ouers wat help kook op kampe, kinders rondry, en op vele maniere Voortrekkers help. Dankie aan ons Voortrekkervriende, kultuurvennote en mede-kultuurbouers waarvan baie vanaand hier teenwoordig is. Julle bevestig die krag van ’n gemeenskap wat weet ons beste toekomsbelegging is ons kinders.

Dankie aan jeuglede wat tussen hulle skoolmaats opstaan en eienaarskap neem vir ons taal en kultuur. Jong Afrikaners vir wie kultuur nie ’n ou woord is nie, maar ’n ontdekkingsreis vol avontuur. Jeuglede vir wie kentekens nie lappies op hulle onderbaadjie is nie, maar die versameling van kennis, tegnieke en vaardighede wat hulle toerus vir die toekoms. Julle entoesiasme en deelname inspireer. Julle maak ons opgewonde oor die toekoms.

Om berge te verower, is nie maklik nie. Ja, ons twyfel soms oor die toekoms. Twyfel is nie vir Voortrekkers ’n stopwoord nie. Ons beantwoord die vraagtekens van twyfel met uitroeptekens van hoop. Twyfeltye gee vir ons die geleentheid om nuwe berge te klim en nuwe bakens te plant.

Die Voortrekkers weet hoe afhanklik ons elke dag van die Here se genade en liefde in die bergwêreld is. Ons kyk op na die berge en bid:

O God maak

my hande sterk

my oë oop

my verstand skerp

my rug reguit

om vandag vas te staan

en die deeltjie wat U aan my toevertrou het

te bewerk en te bewaar as trotse erfenis vir hulle na my.

 

Foto: Mlungusi Louw

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!