Jan Pierewiet
Julie 26, 2017
Musiekskat met vasbyt verwerklik
Augustus 7, 2017

Artikel verskaf

Mammas en pappas wees gereed en maak reg vir groot pret, soos wat kinders landswyd dolverlief raak op die Klikkerlanders!

Huppel Hoepel, Boebel Babbel, Woepel Wappel, Rimmel Rammel, Tink Tinkie en Liela Loela is hier om te bly! Die Ghoema-benoemde (Beste Kinderalbum of –DVD) kinderreeks, KLIKKERLAND, met sy kleurvolle karakters en prettige opvoedkundige aanslag, verower reeds kinderharte vandat Volume 1 in 2013 bekendgestel is. Die vierde DVD in die seisoen is pas op die rak, en beloof om nie net voort te bou op die hoë gehalte musikale vermaak waarvoor dit bekendheid verwerf het nie, maar ook om die aandag van meer ouderdomsgroepe te trek.

Die nuwe vrystelling dek ’n wye verskeidenheid opwindende en moderne temas, wat wissel van die belangrikheid van insekte tot die towerkrag van die verbeelding. Dit bevat ook heerlike sang- en dansnommertjies, selfdoenprojekte, kos en uitstappies, waarby gehore sommer dadelik sal aanklank vind. KLIKKERLAND het gegroei van drie tot ses karakters. Met elke nuwe uitgawe, raak dit makliker om programme te skryf en te skep, omdat ons leer wat werk en wat die behoeftes van die aanhangers is. Ons musiek is vars, vrolik en lekker om mee saam te sing. Die karakters het hope pret, en kinders kan uitsien na splinternuwe poetse en planne wat Rimmel Rammel uitdink. Daar is ook ’n Engelse karakter ingewerk en die programme is nou voller met meer insetsels,” vertel Marinda Fourie, een van die stigterslede van die projek.Die nuwe stories is pret en die temas is modern. Ouers sal baie hou van ons ‘skoonmaak’-tema en die kinders sal dit geniet om die herwinningsprodukte te maak,” voeg Carina Beukes, die ander lid van dié dinamiese duo, by.

Huppel Hoepel is baie gaaf en gaan uit haar pad uit om ander te help, terwyl Boebel Babbel

KLIKKERLAND is in die hartjie van die Tuinroete gebore toe ’n groep kunstenaars, met ’n passie vir kindervermaak en teater, mekaar by die Oakhurst Insurance George Arts Theatre ontmoet het en besluit het om ’n opvoedkundige reeks vir kinders tussen die ouderdom van drie en nege uit te bring. Die teater huisves ook tans die KLIKKERLAND-stel. Liedjies is getoonset, draaiboeke is geskryf en die kleurvolle karakters is ontwikkel. Laasgenoemde is goed beplan, sodat daar ’n persoonlikheidstipe vir elke kind is. Selfs die name van die karakters is gekies om te help om kindertongetjies te oefen om moeilike klanke uit te spreek, wat dit ook ideaal maak vir kykers wie se huistaal nie Afrikaans is nie.

Huppel Hoepel is baie gaaf en gaan uit haar pad uit om ander te help, terwyl Boebel Babbel

meer ondeund en versot is op rekenaarspeletjies. Woepel Wappel is oefen- en reismal en bang vir die donker, terwyl Rimmel Rammel weer hou van poetse bak en die musikant van die groep is. Tink Tinkie is die slimkop wat gereeld lees en verduidelik maar ook skaam is en Liela Loela praat Engels en hou van kosmaak. Met hierdie oulike karakters in plek, en baie hulp en gunsies, is die eerste DVD van die reeks opgeneem. “Ons wou altyd seker wees dat die produk geskik is vir die ouderdom kind wat ons wou bereik, en het baie moeite gedoen om alle aspekte van die produk by kinders te toets. Die naam moes ’n verbeeldingswêreld verteenwoordig, waar enigiets moontlik kan wees, en waar kinders verlore kan raak in die avontuur en verlief kan raak op die karakters,” verklap die dames.

Volume 1, wat hoofsaaklik gefokus het op troeteldiere en hoe om vrese te hanteer, was ’n groot sukses. Die tweede aflewering het kort daarna gevolg en kykers op ’n uitstappie na ’n melkplaas geneem en hulle ook meer geleer oor oefening. Elke DVD bestaan uit twee dertig minuut-stories en lewendige musiekvideos wat by die tema pas. Na een van die oorspronklike skeppers van KLIKKERLAND verhuis het en dus moes onttrek uit die produksieproses, moes Carina en Marinda hergroepeer en het hulle die res van die reeks aangepak.

In die derde deel van die seisoen, is nuwe karakters aan kinderogies voorgestel en is hulle op reis geneem na ’n Volstruisplaas, terwyl Rimmel Rammel saam met haaie gaan swem het. Hierdie is dan ook die reeks se grootste suksesverhaal, omdat dit in 2017 benoem is vir ’n gesogte Ghoematoekenning. “Ons ontwikkel self elke episode, doen navorsing oor die onderwerpe, spreek relevante kwessies aan en hou ook onderwystemas in gedagte. Dinkskrumsessies word gedoen en idees word heen-en-weer gestuur totdat ons tevrede is. Die temas is belangrik, want dit is dinge waarmee kinders elke dag te doen kry en daarom sal dit ook  help om Afrikaanse woordeskat en uitspraak te verbeter. Ons wil kinders vermaak en laat speel, beweeg en lag.”

KLIKKERLAND se plesier is egter nie net beperk tot DVD-opnames nie, maar kan ook as verhoogproduksies ervaar word, wat aan kinders die geleentheid bied om hulle gunsteling-karakters in persoon te ontmoet. Die produksie het ook al draai gemaak by van die land se voorste feeste, wat die Knysna Oesterfees, Woordfees, Bloeiselfees, George Skou, New Castle Winterfees, Oesfees, Diaz Somerfees, Afrikaans Gaan Klein, KKNK en Innibos insluit. Hulle is ook later in die jaar te sien by die Kierieklapper Kunstefees, East Rand Expo en vele ander geleenthede. Daar is ook onlangs ’n CD vrygestel, wat al die musiek uit Volume 1 tot 4 insluit, asook ’n musiekvideoversameling op DVD. Die inhoud van die eerste drie DVD’s is ook in episodes verdeel en word tans op kykNET uitgesaai as deel van die kindervermaak.

Die KLIKKERLANDERS het nog baie planne en doelwitte vir die toekoms, wat DVD 5 en 6 van die reeks insluit. “Die nuwe programme volg die wenresep van musiek, handwerk, poetse, stories, grappies en nou ook eksperimente, en kykers kan uitsien na splinternuwe polsende ritmes. Ons wil KLIKKERLAND aan die hele Suid-Afrika bekendstel en die positiewe boodskap van ons karakters versprei. Ons wil kinders laat speel, dans en leer om gemaklik te wees met hulleself.” Hulle sou ook baie graag eendag saam met Elvis Blue en Carike Keuzenkamp wou kuier op die verhoog.

KLIKKERLAND se reeks opvoedkundige DVD’s is beskikbaar by uitgesoekte musiekwinkels, soos Musica, en word versprei deur WOW Music Distrubition.

Die produksie tree ook eerskomende Saterdg, 5 Augustus om 10h00 by die Pierneefteater in Pretoria op.  Vir besprekings kontak (021) 329 0709 / info@pierneefteater.co.za

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!