Herdenking vir konsentrasiekamp
September 21, 2017
Sing in Harmonie, kreatief ondersteun deur die FAK
September 28, 2017

Dr. Danie Langner      

Die Voortrekkers het die afgelope naweek hul eerste Krugerwildtuin-geskiedenistoer aangebied. Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK en Hoofleier van die Voortrekkers deel die volgende inskrywing op sy Facebookprofiel.

Vanjaar 292 jaar gelede, in 1725, het ’n dapper VOC- ekspedisie van 31 man o.l.v. Kaptein Frans de Cuiper uit Fort Lydsaamheid in Delagoabaai (Maputo) vertrek om ʼn landroete deur die laeveld na Monomotapa te verken. Hierdie groep VOC-amptenare was die eerste Europeërs om die gebied wat ons vandag ken as die Kruger wildtuin te betree. Tussen vandag se Krokedilbrug kamp en Onder-Sabie is hulle aangeval en tot oor die Komati-rivier teruggedryf. Eers 120 jaar later, in 1844, het ʼn afvaardiging olv die Voortrekkerleier Andries Hendrik Potgieter deur die Suidelike dele van die laeveld na Delagoabaai gereis. Hulle het ʼn verdrag met die Portugese goewerneur gesluit wat die Voortrekkers sou toelaat om hulle in Mosambiek te vestig. Die roete het bekend geword as die “ou Wapad” en was van 1844-1849 in gebruik. Carolus Trichardt, seun van Louis Trichardt, het die Voortrekkerpad gedurende Oktober 1845 opgemeet. Vandag is die Voortrekkerpad tussen Pretoriuskop en Afsaal-piekniekterrein die oudste pad in die laeveld. Die nuwe Transportryerpad het gestrek van Lydenburg oor Pelgrimsrus, Pretoriuskop tot by Krokedilbrug en is tot 1892 gebruik.
171 jaar gelede, in 1846, het die Portugees Joao Albisini die eerste kafee tussen Krokedilbrug en Onder-Sabie gebou. Die winkel is tot 1848 gebruik.

In 1845, sterf ʼn jongman, Willem Pretorius onder ʼn Maroelaboom naby spitsgranietkoppies aan malaria. Die spitskoppie het bekend geword as Pretoriuskop. Daar word tot vandag gestry op Pretoriuskop na Willem Pretorius vernoem is, of na President MW Pretorius wat die gebied 152 jaar gelede, in 1865, besoek het.

Op 27 Oktober 1884 sterf ʼn jong Duitser, Adolf Soltke, op die ouderdom van 23jaar by ʼn waterpan naby Pretoriuskop. Hy het sy been per ongeluk met ʼn dubbelloop haelgeweer afgeskiet. ʼn Paar maande later, op 4 April 1885 kamp Percy Fitzpatrick op dieselfde plek. Op daardiedag het sy vriend se hond, Jess, geboorte gegee aan ses kleintjies waarvan Jock een was. Jock sou vanjaar 132 jaar oud gewees het.

Op 31 Julie 1889, vanjaar 128 jaar gelede, lewer Staatspresident SJP Kruger ʼn toespraak in die historiese Goewermentsgebou op Kerkplein waarin hy kennis gee van die wildbeskermingsgebied tussen die Sabie en Krokedilrivier.

In 1926, vanjaar 91 jaar gelede, proklameer Minister Piet Grobler die Nasionale Krugerwildtuin tot ʼn wildreservaat.

Die eerste betondam in die wildtuin is 85 jaar gelede, in 1932, deur Pretoriuskop se kampopsigter, M Rowland Jones gebou.

In 1941 hou die Voortrekkerbeweging hulle heel eerste kongres in Sukuza. Vroegoggend is die vlag gehys, dan leeus gesoek en daarna kultuursake bespreek.

In April 1947, vanjaar 70 jaar gelede, kamp die Britse Koningsgesin saam met Generaal Smuts Pretoriuskop besoek. Koningin Elizabeth was toe ʼn jong prinses van 21 jaar.

Die afgelope Erfenisnaweek het Die Voortrekkers ons heel eerste Krugerwildtuin-geskiedenistoer gehou in Pretoriuskop. Behalwe Jock van die Bosveld se spore het ons heerlik gekuier, gebraai en tussendeur ook pragtige wild gesien.

Dankie aan die flink Voortrekkers wat soos ware Verkenners die groot vyf agter bossies, bome en klippe uitgesnuffel het en op WhatsApp gedeel het. Ek dink nie daar is n dier of voël om Pretoriuskop wat nie gesien is nie. Al jammerte is dat so lekker naweek net te kort is.

Vir meer inligting oor die Voortrekkers, klik hier

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!