Vermaak in Duet-formaat
Oktober 3, 2017
Ons legendes: Lied van Gé se lewe
Oktober 18, 2017

Pieter Cloete

Ek wou so graag die toneelstuk by vanjaar se KKNK gaan kyk, maar tyd was te min en ek was baie kwaad vir myself toe ek die laaste vertoning misgeloop het. Paar maande later kon ek my ‘te-doen-lysie’ aftik, toe ek die openingsaand van Die reuk van appels kon bywoon. Die eenmanvertoning het my diep geraak. Ek sal dit weer gaan kyk.

Die reuk van appels (1993) is die veelbekroonde debuutroman van die Suid-Afrikaanse skrywer Mark Behr. Hierdie seminale boek is vir die verhoog verwerk en het by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn gedebuteer in April 2017. Die reuk van appels is ’n bildungsroman (Bildungsroman – ’n roman wat handel oor ’n persoon se jeug of spirituele groei) wat die verhaal vertel van Marnus Erasmus, die elfjarige seun van ’n generaal in die Suid-Afrikaanse Weermag. Dit beeld op meesterlike wyse die Afrikanermentaliteit in die laat sewentigerjare en vroeë tagtigerjare uit, asook die brutale gevolge van apartheid en die militansie in Suid-Afrika gedurende hierdie tydperk.

Die roman en Engelse vertaling (The smell of apples), ook in 1993, is ’n grensverskuiwende werk wat Behr in die geledere van jong en talentvolle skrywers soos Etienne van Heerden en Koos Prinsloo opgeneem het (Tony Eprile, New York Times). Met sy voortydige dood op 27 November 2015 was Behr ’n professor in kreatiewe skryfwerk by die Rhodes College in Memphis, Tennessee.

Vandat Johan van der Merwe (van die produksiemaatskappy Theatrerocket ) die roman die eerste keer gelees het, was dit sy droom om Die reuk van appels as ’n verhoogstuk aan te bied. Toe hy met mede-teaterliefhebber Rudi Sadler in 2015 begin saamwerk het, was dit ’n vanselfsprekende keuse vir hulle eerste onderneming as ’n produksiemaatskappy.

Na die debuut by KKNK, toer Die reuk van appels deur die land na verskeie feeste en teaters, onder meer die Nasionale Kunstefees in Grahamstad (Julie 2017), waar dit genooi is om deel te wees van die hoofprogram as die enigste Afrikaanse produksie op die hele fees; en die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein (Julie 2017). Speelvakke volg by die Suid-Afrikaanse Staatsteater, Pretoria (1 tot 24 September 2017), Aardklop Kunstefees, Potchefstroom (3-7 Oktober 2017) asook die Fugardteater, Kaapstad (18 Oktober tot 4 November 2017). Verdere opvoerings sal mettertyd bekend gemaak word.

Danksy die gewildheid van die toneelstuk, het die uitgewers besluit om nog ’n oplaag van Die reuk van appels te druk. Dit is beskikbaar by Queillerie, ’n druknaam in die stal van NB Uitgewers.

OPSOMMING

Dit is die somer van 1973. Apartheid floreer te midde van toenemende kritiek vanuit internasionale gemeenskappe teenoor Suid-Afrika. Boonop broei daar onrus op die Angolese grens. Elfjarige Marnus Erasmus en sy beste vriend, Frikkie, is salig onbewus van die sake wat die grootmense kwel. Hulle stel meer belang in visvang en walvisse en aanvaar die verdeling van landsburgers volgens velkleur as ’n gegewe.

Marnus lei ’n oënskynlik eenvoudige en gelukkige lewe: sy pa is ’n generaal-majoor in die Suid-Afrikaanse Weermag en sy ken is heeltemal vierkantig; sy ma is baie musikaal en vir hom die mooiste vrou in die wêreld; sy ouer en meer liberale suster is slim, al irriteer sy hom soms; en hul bruin huishulp, Doreen, gaan eendag hemel toe omdat sy nie suiker steel nie. Tog word hy blootgestel aan die kompleksiteit van internasionale politiek as ’n generaal van Chile vir ’n tyd by sy gesin kom kuier.

Weldra word Marnus gekonfronteer met vrae oor menswees en manwees, oor wat reg en verkeerd is. Die gehoor word medepassasiers op Marnus se reis na volwassewording en manlikheid en kan nie anders as om te wonder of hy kritiese bevraagtekening sal kies bo indoktrinasie en kondisionering nie.

Marnus se lewe verander onherroeplik wanneer ’n brutale daad sy kinderlike onskuld vernietig. Vanaf daardie beslissende oomblik kleef die reuk van appels aan alles wat Marnus aanraak.

 

 

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!