Kom vier fees by Fort Klapperkop

Resensie: Bruid – Anders
Januarie 19, 2018
Musiekgeskiedenis: Vader Jakob
Januarie 19, 2018

Fort Klapperkop word op 18 Januarie 2018 120 jaar oud. Om hierdie geskiedkundige mylpaal te vier word daar vanaf die 18de tot en met die 21ste Januarie verskeie aktiwiteite by dié fort aangebied:

Op die 18de Januarie om 18:00 word ’n gedenklesing deur prof. AC van Vollenhoven aangebied. Koste vir hierdie geleentheid beloop R60 per persoon en sluit die kaas-en-wynfunksie in. Indien jy hierdie geselligheid wil bywoon, is dit belangrik om voor die tyd jou bywoning te bevestig by Melissa Lindeque by 071 873 0705 of melissal@tshwane.gov.za.

Op die 19de Januarie is die toegang na die erfenisterrein gratis (heeldag vanaf 08:00 tot 19:00). Die publiek word uitgenooi om laatmiddag ’n skemerkelkie te kom drink (almal moet hul eie verversings saambring).

Die 20ste Januarie is die hoogtepunt van die feesvieringe en sluit in ’n vlaghysing deur Die Voortrekkers om 10:00, gedenktoer deur prof. AC van Vollenhoven, kanonskoot, heliograafdemonstrasie deur kol. Andy Malan, perderitte en tradisionele speletjies vir die kinders, volksdanse deur verskeie groepe en ’n vlagstryking deur Die Voortrekkers. Toegang na die erfenisterrein is die heeldag (08:00 tot 19:00) gratis. Die publiek kan hul kampstoele, piekniekkombers en -mandjie pak: Daar sal beperkte vuurmaakplekke beskikbaar wees vir diegene wat wil braai.

Daar sal deur die loop van die dag ’n paar stalletjies beskikbaar wees wat snoeperye, inheemse plantjies en handgemaakte items sal verkoop. (Indien jy graag ’n stalletjie wil oprig om jou produkte te verkoop tydens hierdie geleentheid kontak asseblief vir prof. AC van Vollenhoven by 083 291 6104 of antonv@archaetnos.co.za vir meer inligting en reëlings. Let asseblief daarop dat daar alreeds genoeg kosstalletjies is.)

Op die 21ste Januarie kom die verrigtinge tot ’n einde met ’n gedenkdiens om 10:00, gedenktoere deur kol. Andy Malan en ’n lesing oor die Anglo-Boereoorlog-posseëls. Toegang na die erfenisterrein is die heeldag (08:00 tot 19:00) gratis. Almal moet asseblief hul kampstoele of piekniekkombers saambring tensy jy gemaklik is op die gras of op jou voete. Daar sal weer perderitte vir kinders aangebied word.

Kom vier hierdie geskiedkundige mylpaal saam met ons van 18 tot 21 Januarie 2018 by Fort Klapperkop.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!