FAK-Sangbundel internasionaal bekendgestel

Horisonjaar
Februarie 20, 2018
Legende: Jurie Ferreira
Maart 19, 2018

FAK-Sangbundel internasionaal bekendgestel

Op 4 Maart 2018 is die FAK-Sangbundel deur Corlea Botha, internasionaal bekendgestel. Die bekendstelling het plaasgevind tydens die Vlaams Nationaal Zangfeest wat vir die 81ste jaar in België by die Lotto Arena in Antwerpe aangebied is.

Sedert 1937 het die FAK-Sangbundel vir Afrikaanse volksmusiek die notebalk geskep wat ’n lewende, dinamiese en skeppende werklikheid is. Die eerste uitgawe van die FAK-Sangbundel wat in 1937 verskyn het, was die opvolger van Mansvelt se Hollands-Afrikaanse liederebundel (1907) en Van Niekerk se Groot Afrikaanse-Hollandse Liederbundel (1927). In dié twee bundels was daar 78 Afrikaans-Hollandse liedere, waarvan slegs 28 opgeneem is in die 1937-FAK-Sangbundel se 314 liedere. Van die 314 liedere was 275 liedjies spesifiek geskryf vir saamsing. Reeds hier het die FAK-Sangbundel ’n internasionale voetspoor gelaat en vandag 81 jaar later sing nie net Afrikaanssprekendes vrolik saam vanuit dié Sangbundel nie, maar ook die Vlaminge!

Danie Langner, uitvoerende direkteur van die FAK vertel “beide die FAK-Sangbundel en Vlaamse Zangfeest vier vanjaar 81 jaar vir die bevordering van saamsing en het dieselfde doel, om ’n platform te skep vir volksmusiek, die kragtige tradisie daarvan te vier en ook om vir die moderne musiek ruimte te bied sodat taal en kultuurgrense oor die wêreld heen kan groei.”

 “Botha het die voetspoor van die FAK-Sangbundel in België en Europa weer opnuut bevestig, ’n eietydse waarde is geskep vir Afrikaanse musiek en die assosiasie met beide die Afrikaanse en Vlaamse volksmusiek lewer baanbrekerswerk,” vertel Langner.

Wilfried Haesen, regisseur van die Zangfeest, meen dat Nederlanders graag van Sangbundels gebruik maak vir saamsing, “maar dat Afrikaanse musiek ’n groter skat het en dit is die FAK-Sangbundel.”

“Die FAK-Sangbundel is oorspronklik en volgens my geweldig belangrik vir die bevordering van volksmusiek. Dit is baie belangrik dat ons die bande tussen Nederlands en Afrikaans in stand hou en dit is gedoen deur die FAK-Sangbundel internasionaal bekend te stel tydens die Zangfeest,” vertel Haesen.

 Klik hier vir ’n video oor die bekendstelling en sien aangeheg ’n paar foto’s. Nog foto’s is beskikbaar op aanvraag.

Meer oor die Vlaams Nationaal Zangfeest

81 Zangfeeste tussen 1933 en 2018 en elke jaar ’n oomblik waarna die Vlaminge uitsien om saam te sing, saam hulle eie kultuur uit te dra, maar ook saam met luide stem die Vlaamse krag by te sit. Die Zangfeest het deur die jare aansienlik ontwikkel, maar die kern bly dieselfde: Om saam te sing met dieselfde oortuiging en ’n unieke kultuur oor te dra. Gelukkig is die vereistes nie meer dieselfde as in 1933 nie, en die program het ook die afgelope paar jaar verander. Die Zangfeest verbind sy gekoesterde tradisie tot moderne liedjies en moderne danse tot ’n Zangfeest wat ’n beroep kan doen op die hedendaagse Vlaamse Beweging.

Meer oor die FAK-Sangbundel

 Die eerste FAK-Sangbundel is in 1937 uitgegee met 314 liedere wat daarin opgeneem is. Ou bekendes wat hierin vervat was, sluit onder andere in “Saai die waatlemoen”, “Dis te ver om te ry”, asook “So ry die trein”.

In 1961 het die tweede, hersiene Nuwe FAK-Sangbundel onder die hoofredakteurskap van Dirk de Villiers verskyn met ’n bykomende toevoeging van nog 74 liedere. Teen hierdie tyd het daar reeds meer as 70 000 kopieë van die eerste uitgawe verkoop. In 1979 is die immergewilde sangbundel weer aangevul en het ’n derde uitgawe sy verskyning gemaak.

Nuwe Afrikaanse liedjies wat oor die afgelope 40 jaar deel van die Afrikaanse musiekerfenis geword het, is ingesluit. Uiteindelik kon die FAK in 2012 met trots die nuwe FAK-Sangbundel Volume II uitreik wat ook heel gepas was, siende dat dit die bundel se 75ste bestaansjaarviering was. In Volume II is daar plek gemaak vir 400 nuwe Afrikaanse liedjies wat geskryf is sedert 1979. Die eerste oplaag van Volume II het sedertdien totaal uitverkoop en na vele navrae het die FAK in samewerking met Protea Boekhuis besluit om ’n tweede druk beskikbaar te stel.

Geslagte Afrikaanse kinders het met die FAK-Sangbundel in die huis en klaskamer grootgeword. Ou bekende FAK-liedjies is om dié rede vandag steeds gewild en verskyn gereeld op CD’s, soos die onlangse Afrikaanse volksmusiek CD van Beeskraal en vriende. Die klaskamer is die enjinkamer van Afrikaans en daarom het die FAK met die verskyning van Volume 2 groot hoeveelhede sangbundels gratis aan skole in Suid-Afrika en Namibië  geskenk.  Die gevolg was dat daar binne maande ’n behoefte ontstaan het vir ’n tweede druk wat kommersieel beskikbaar is. Dit het ook geblyk dat hersiening nodig was. Protea Boekhuis het onder leiding van redakteur Rentia Bartlett-Möhl die enorme taak aangepak van die omvangryke hersiening van FAK-Sangbundel Volume II. Die gevolg is ’n uitnemende produk met ’n splinternuwe baadjie en wat ook nou internasionaal bekendgestel is.

Jak de Priester vertel dat hy reeds op laerskool kennis gemaak het met die FAK-Sangbundel. “Ek kom my lewe lank saam met die FAK-Sangbundel. Tydens sangperiode het juffrou Schoeman die FAK-Sangbundel oopgemaak, op die klavier gespeel en dan het ons saam gesing. Ek onthou liedjies soos ‘Al lê die berge nog so blou’, ‘Kolperd’ ens. En dit is hoekom mense van my generasie al daai liedjies nog ken.”

Die houtsnee-afdruk op die halftitelblaaie en afdelingsblaaie is deur JH Pierneef  ontwerp vir die amptelike program van die Afrikaanse Taal-en Kultuurkonferensie in 1929 by welke geleentheid die FAK gestig is. Slegs 400 afdrukke is gemaak. Die kunswerk, tesame met die Pierneef-skildery op die voorblad van die FAK-Sangbundel Volume II Druk II, onderstreep nie net die unieke kultuurhistoriese waarde van die FAK-Sangbundel nie, maar ook die noukeurigheid waarmee die redaksie spreekwoordelik die trotse produk uitgekerf het.

Ons het grootgeword met die Sangbundel wat op ma se klavier gelê het, oor naweke het ons saamgesing aan “Aanstap Rooies”, “Sarie Marais” en ander gunstelinge. Ons stap nie net ’n pad met die Sangbundel nie, maar so ook die Sangbundel met ons. Die Sangbundel het ons sedert 1979 tot vandag toegelaat om die room van Afrikaanse musiek te ontdek en bevorder. Deur vir kunstenaars erkenning te gee vir hul werk en bekend te stel aan die publiek, dra die FAK-Sangbundel by tot ’n kulturele skatkis vir die Afrikaanse musiekerfenis. ’n Direkte gevolg van die 2012-Sangbundel was die ontwikkeling van die Afrikaanse liedjietuin wat erkenning gee aan ons Afrikaanse kunstenaars deur middel van unieke, kleurvolle naamrose wat vernoem is na Afrikaanse sangers.

Anton Goosen meen “dit is moeilik om te sê watter liedjies is relevant, maar die FAK-Sangbundel is amper so dik soos die HAT, en ek sê dit nou, want hulle lê hier bo-op mekaar voor my. Dit is ’n belangrike erfenis, want oor 50 jaar is daar weer ’n hersiene weergawe met nuwe liedjies. ’n Taal en kultuur het nie grense nie, mense regoor die wêreld vra vir my waar kan hul die FAK-Sangbundel kry, selfs Afrikaners vanuit Engeland.”

“Vroeër was daar fenomenale mense soos Danie Bosman se musiek en vandag is daar weer nuwe mense. Die FAK-Sangbundel vang verseker ’n era se tipe musiek vas. Vandag is daar selfs liedjies van Kerkorrel en Koos Kombuis in, en dit wys hoe die FAK-Sangbundel oor die jare gegroei het. Die FAK-Sangbundel is nie tydloos nie, maar vang ’n stukkie van die geskiedenis vas,” vertel De Priester.

Die liedjies in die tweede druk van die FAK-Sangbundel vervang nie die nostalgiese volksliedjies nie, maar maak plek vir van die bekendste musiekstukke wat Afrikaanse musieklegendes oor die jare heen bekend gestel het.  Die nuwe kategorieë sluit o.a. in: immergroen en populêr, kleinkuns, kinderliedjies, geestelike liedjies, tradisionele liedjies; kunsmusiek en koormusiek. Die bundel bevat ook ’n rubriekindeling, ’n register van liedere se titels en eerste reëls.

Chris Chameleon, Anton Goosen, Anneli van Rooyen, Laurika Rauch, Bok van Blerk en selfs die Heuwels Fantasties is van die kunstenaars wie se werke beskikbaar is in die FAK-Sangbundel Volume II, Druk II.

FAK-Sangbundel Volume II, Druk II, is beskikbaar by Protea Boekhuis en uitgesoekte boekwinkels.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!