Resensie: Lizandra Winter
Maart 19, 2018
Die Klein Prinsie nou ’n oudioboek
Maart 19, 2018

deur Christa Steyn

 

“Die vloek gaan my kry, die vloek gaan my nie kry nie, die vloek gaan my kry …”, só vermoei die kranksinnige, Gideonette de la Rey (gespeel deur Anshen du Plessis), haarself oor ’n sogenaamde vloek waardeur die De la Rey-familie geteister word. Haar ooraktiewe verbeelding en vrees vererger wanneer haar pa (gespeel deur Drikus Volschenk) skielik oorlede is en sy besef dat sy die enigste oorlewende familielid is wat nog met dié vloek moet saamleef.

In ’n poging om Gideonette van haarself te red, besluit haar ma (gespeel deur Hanlé Barnard) om Gideonette vir ’n rukkie na haar ouma (gespeel deur Rika Sennett) en oupa (gespeel deur Pierre van Pletzen) op die plaas te stuur. Hier ontmoet sy haar eerste, beste vriend, Bhubesi (gespeel deur Themba Ntuli), wat besig is met opleiding om ’n ruimtevaarder te word. Hy en oupa is juis besig om ’n maantuig, die Meerkat Maantuig, te bou toe Gideonette op die plaas aankom. Dit is ’n hartroerende film wat die kosbare en kortstondige vriendskap tussen twee kinders uitbeeld, maar ook Gideonette se persoonlike reis om die vloek te oorwin.

Willie Nel se puik kamerawerk lewer ’n onmisbare bydrae tot die film en word ondersteun deur die magiese wêreld van Magoebaskloof, waar dit verfilm is. In 2017 is dit by die jaarlikse kykNET Silwerskermfees genomineer vir die beste produksieontwerp (Waldemar Coetsee) en regisseur (Hanneke Schutte) in die kategorie vir vollengte films en bekroon met die prys vir die beste kinematograaf (Willie Nel) in dieselfde kategorie.

Meerkat Maantuig is gebaseer op die jeugnovelle, “Blinde sambok”, deur Riana Scheepers en is deur die produksiemaatskappy, The Film Factory (Vir die Voëls, Vuil Wasgoed), onder leiding van André en Dries Scholtz, vervaardig. Hanneke Schutte het die verhaal tot draaiboek verwerk en was ook verantwoordelik vir die regie van die film. Na vier jaar is haar droom verwesenlik en bowenal is dit reeds vir ongeveer 16 internasionale feeste gekeur.

Vir meer ‘agter die skerm’-video’s, feeste waarvoor dit gekeur is en ander interessante inligting, kan jy die film op die volgende sosialemedia-platforms gaan volg:

Webblad: https://thefilmfactory.co.za/meerkat-maantuig-en/

Facebook: https://www.facebook.com/MeerkatMaantuig/ (Meerkat Maantuig)

Twitter: https://twitter.com/meerkatmaantuig?lang=en (@MeerkatMaantuig)

Instagram: https://www.instagram.com/meerkat_maantuig_film/ (meerkat_maantuig_film)

 

Meerkat Maantuig word op 16 Maart 2018 landswyd vrygestel.

 

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!