FAK-Sangbundel internasionaal bekendgestel
Maart 13, 2018
Resensie: Lizandra Winter
Maart 19, 2018

Jurie Ferreira: ’n pionier van Afrikaanse musiek

Daantjie Dinamiet

 

In 1948 is die eerste musiekrolprent in Afrikaans vrygestel.

Kom saam vanaand, onder die regie van Pierre de Wet, het die Suid-Afrikaanse publiek voorgestel aan die komediant en sanger Al Debbo, en die orkesleier Hendrik Susan, asook ’n sanger wat diep spore in die beginjare van Afrikaanse musiek getrap het.

Johannes Jurgens (Jurie) Ferreira is op 3 Maart 1921 in Ventersdorp in die Noordwes-provinsie gebore. Hy het van kleins af ’n aanleg in musiek gehad en op twintigjarige ouderdom sy eerste tree in die musiekbedryf gegee toe die orkesleier Arnout Malherbe hom genooi het om by sy orkes aan te sluit. Hulle het gereeld konserttoere onderneem en hulle was ook gereeld op die radio. Vier jaar later het Hendrik Susan hom ’n kontrak aangebied wat eers ses maande lank geldig was maar veel langer geduur het. Kom saam vanaand was die eerste van vier rolprente waarin Jurie saam met Hendrik Susan en sy orkes opgetree het; hy het ook die temaliedjie daarvan gesing.

Dit het gebeur ’n jaar nadat Jurie saam met die orkes van Hendrik Susan in Standerton vir die Britse koningsgesin, wat toe besoek aan Suid-Afrika afgelê het, gesing het. Jurie het net Afrikaanse liedjies gesing en hoewel die koningsgesin die liedjies nie verstaan het nie, het hulle dit blykbaar geniet.

In 1950 is een van Al Debbo en Frederik Burgers se suksesvolste rolprente , Hier’s ons weer, uitgereik en weer eens het Jurie as sanger daarin opgetree. Dit is gevolg deur Alles sal regkom in 1951 en Altyd in my drome in 1952, weer eens met Al Debbo en Frederik Burgers in die hoofrolle. Laasgenoemde rolprent is onlangs as ’n musiekblyspel vir die verhoog verwerk, met Willem Botha in die hoofrol.

In dieselfde jaar het Jurie by die orkes van Nico Carstens as kitaarspeler en sanger aangesluit en groot sukses behaal, maar twee jaar later het hy sy eie orkes begin. Die bekendste orkeslede was die konsertinaspeler Dirkie Smit en die kitaarspeler Boet Pretorius, wat later bekendheid sou verwerf as regisseur en een van die vennote van die Decibel-platemaatskappy. Hy was ook die medestigter van ’n dansklub, maar in daardie jare het die ruk-en-rol-era aangebreek en die jongmense van daardie tyd het daarop aangedring dat hulle musiek gespeel moes word. Die klub het agteruitgegaan en is op Oujaarsdag in 1958 gedwing om sy deure te sluit nadat Jurie ’n aantal van sy bekende liedjies gesing het.

Na jare se afwesigheid het hy in 1965 opnuut tot die musiekbedryf toegetree, hierdie keer as lid van die Suid-Afrikaanse Leërorkes. Een van die grootste treffers van sy loopbaan het uit daardie tyd gekom. Die program Tienerateljee is op die destydse Afrikaanse radiodiens van die SAUK uitgesaai en die temaliedjie was “Rowbottom square”, wat deur TW Ardy op die Hammond-orrel gespeel is. Omtrent dieselfde tyd het Barry Mason ook ’n weergawe daarvan opgeneem. André Viljoen het Afrikaanse woorde daarvoor geskryf en dit “Annamarie” genoem; dit was een van Jurie se grootste treffers. Onder sy vroeëre treffers was “Die blonde matroos”, “Daar doer in die Bosveld” (luister gerus hier na die snit), “Wiederschau” (wat later ook deur Worsie Visser en Ricus Nel opgeneem is), “Tahiti”, “Die wapad”, “Aan die muur hang nou sy toom en saal” en “Bella Marie”.

In 1977 het Jurie en Nico Carstens bymekaargekom om ’n koffiehuiskonsert te reël waartydens ou bekende name soos hyself, die klavierspeler Taffie Kikilus en die konsertinaspeler Neels Steyn saam met destyds opkomende sterre soos Laurika Rauch en Sonja Herholdt opgetree het.

In 1990 is ’n program op televisie uitgesaai waarin daar hulde aan Jurie gebring is; onder die gaskunstenaars wat opgetree het, was Al Debbo, Nico Carstens en die liedjieskrywer Jan Pohl. Hy het ook in 1996 as gaskunstenaar in Johan Stemmet se program Noot vir noot opgetree.

Jurie is op 24 Junie 2002 in die ouderdom van 81 jaar oorlede. Sy nagedagtenis sal egter bly voortleef, veral nadat Gerrie Pretorius twee van sy trefferliedjies, “Annamarie” en “Die blonde matroos”, opgeneem het.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!