Die toekoms van Afrikaans is in die hande van die jeug

Boeredansgroep maak geskiedenis
Junie 20, 2018
Ons kerkerfenis: ’n Orrel in die middel!
Junie 20, 2018

 

JD (Tom) McLachlan

Suiwer goud is 24-karaatgoud; dit beteken sulke goud bevat geen ander element nie. In die meeste gebruike word egter nie suiwer goud gebruik nie, maar wel ’n legering of allooi, wat beteken dat minstens een ander element by die goud gevoeg of ingemeng word, byvoorbeeld om dit harder te maak of meer geskik vir ’n bepaalde gebruik. Geelgoud wat in juweliersware gebruik word, bevat byvoorbeeld ook silwer en koper.

Daar word dikwels gepraat van “suiwer Afrikaans”. Afrikaans, soos seker alle tale ter wêreld, is egter ’n legering, by wyse van spreke. Daar is dus nie iewers ’n ideële soort 24-karaat-Afrikaans wat as volkome “suiwer” beskou kan word nie. Afrikaans is wesenlik ’n vermenging van verskeie tale. Anders gestel: Hoewel ’n groot deel van Afrikaans op die Nederlands van ’n eeu of twee, drie gelede berus, het verskeie ander tale – Europese, Oosterse en inheemse tale – gedurende die 17de, 18de en 19de eeu ’n beduidende invloed uitgeoefen op die spreektaal van ’n groot groep mense hier aan die suidpunt van Afrika.

Een van die tale wat ’n enorme invloed op Afrikaans uitgeoefen het, is Engels. Die rede hiervoor is enersyds die politiek-staatkundige geskiedenis van Suid-Afrika en andersyds die feit dat Afrikaanssprekendes en Engelssprekendes so nou saamleef. Wedersydse taalbeïnvloeding is en was dus onvermydelik.

As daar dan geen 24-karaat-Afrikaans is nie, beteken dit dat enigiets maar kan deug in Afrikaans? Die antwoord op dié vraag is beslis “nee”. Daar is verskeie redes voor.

’n Mens moet onthou dat Afrikaans nie soos ’n enkele blok hout is nie, maar eerder soos ’n boom met verskeie takke. In die taalkunde word dit variëteite genoem. In hierdie rubriek gaan dit veral om een van daardie variëteite, naamlik Standaardafrikaans. Standaardafrikaans is nie ’n variëteit wat “beter” as ander is nie. Trouens, geen variëteit is beter as ’n ander nie; een is miskien net meer geskik vir ’n bepaalde doel as ’n ander. Variëteite kan ontstaan volgens gebruikersgroepe, wat weer deur faktore soos beroep, geografiese gebied, sosiale groep of maatskaplike omstandighede bepaal word. Die standaardvariëteit “behoort” egter nie aan of by net een groep nie, maar is teoreties die variëteit waarmee aan die grootste deursnee van sprekers oor die grootste aantal onderwerpe gekommunikeer kan word.

Standaardafrikaans is een van ’n klein handjie vol tale wat in die loop van minder as ’n eeu – die 20ste eeu – gestandaardiseer is, dit wil sê van ’n spreektaal tot ’n skryftaal ontwikkel is waarin daar sekere norme en standaarde geld.

’n Belangrike norm is dié van spelling, want voordat daar op ’n vaste spelwyse besluit is, het diegene wat wel Afrikaans probeer skryf het, dikwels maar gespel soos wat woorde vir hulle geklink het. Bowendien het baie mense wel Afrikaans gepraat maar steeds Nederlands geskryf.

’n Gestandaardiseerde spelwyse het daartoe gelei dat boeke in Standaardafrikaans gepubliseer, woordeboeke opgestel en terminologie geskep kon word; die grammatika van Afrikaans afgelei en opgeteken kon word; onderrig in en deur Afrikaans gegee kon word; en Afrikaans hom op alle terreine van die nasionale lewe kon handhaaf. So is die norme en standaarde van Standaardafrikaans geleidelik vasgelê.

In die 1950’s en ’60’s het prof. SPE Boshoff (1891–1973), een van die vroeëre groot geeste van die Afrikaanse taalwêreld, in radiopraatjies oor Afrikaans gesê dat elke taal sy eie “stem” het wat hom net so herkenbaar maak as byvoorbeeld ’n radio-omroeper wat deur luisteraars aan sy of haar stem uitgeken word. Hierdie “stem” van Standaardafrikaans word bepaal deur die woorde wat ons gebruik, die manier waarop ons hulle in sinne inspan, hoe ons ons uitdruk, watter idiome en uitdrukkings ons gebruik, wat ons humoristies vind, en so meer.

In die vorige eeu was daar talle landsfaktore wat gehelp het om Standaardafrikaans te ontwikkel tot wat hy wel geword het. Daardie omstandighede is in die 21ste eeu drasties anders. Vandag is Afrikaanssprekendes nie meer so besorg oor die ontwikkeling en handhawing van hulle taal nie en miskien leer skoliere nie meer op dieselfde manier oor taal as vroeër nie. Afrikaans moes ook heelwat van sy ekonomiese en staatswaarde prysgee.

Wat egter soos ’n paal bo water staan, is dat die invloed van Engels op Standaardafrikaans al hoe vinniger toeneem. Hoewel geen lewende taal staties is nie en voortdurend verander, en al is daar nie ’n 24-karaat-Afrikaans nie, is die “stem” van Afrikaans vinnig besig om sy eiesoortige herkenbaarheid te verloor omdat mense nie meer besef dat dit nie deug om bloot Engelse woorde en uitdrukkings en segswyses op die mees direkte manier te gebruik en net die Engelse woorde deur Afrikaanses te vervang nie.

Die toekoms van ons taal – in al sy variëteite – is nou in die hande van ons jeug. Hoe kan die jonger geslagte Afrikaanssprekendes die vaandel van ons taal vir nog ’n eeu en meer hooghou?

Daar is seker baie maniere en daar sal seker in die toekoms nuwe maniere ontstaan. Vir die onmiddellike en die huidige noem ek slegs twee maniere:

  • Doen moeite om jou taal te leer ken – veral sy woorde- en uitdrukkingskat, sy eiesoortige kenmerke, sy norme en standaarde – sodat jy nie altyd die eerste die beste woord of uitdrukking, wat ongelukkig veels te dikwels die Engelse een is, in Afrikaans hoef te “vertaal” en te gebruik nie. Daar is niks oudmodies of agter-die-bult aan goeie, oorspronklike taalgebruik nie (en dit geld vir énige taal!).
  • Moenie skaam wees om naslaanbronne te gebruik nie, en Afrikaans s’n is allesbehalwe net uit die oude doos!
    • Daar is byvoorbeeld ’n moderne nuwe HAT (Pearson, 2015) beskikbaar.
    • In 2017 het ’n nuwe Afrikaanse woordelys en spelreëls by Pharos verskyn, wat sommer baie meer as net ’n vervelige woordelys is. Dit het baie en toeganklike inligting wat in die hedendaagse wêreld baie nuttig is. Afgesien van talle moderne terme bevat dit ook woorde soos bevriend (op Facebook), bra (vriend) en sy meervoude bra’s of brasse, dikding (bendeleier), drieëvraat, gangster (lid van ’n kriminele bende), mahala, poenankies en so meer.
    • Vanjaar het ook die Pharos Afrikaansgids deur Nicol Faasen verskyn, wat spesifiek op jongmense gerig is. Dit bevat ’n nuttige versameling inligting, van kitsnaslaanlyste (bv. meervoude, verkleinwoorde, versamelname) deur basiese taal- en spelreëls tot tekstipes en kritiese taalbewustheid. Dit sal nie net vir skoolleerders van nut wees nie, maar vir enigiemand wat Afrikaans moet skryf en soms oor sulke goed twyfel.

Laat ons nie deur ongeërgdheid of onkunde ons taalvlag voortydig stryk nie!

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!