Ons kerkerfenis: ’n Orrel in die middel!

Die toekoms van Afrikaans is in die hande van die jeug
Junie 20, 2018
Die keer toe ek my naam vergeet het is ’n moet-lees-boek 
Junie 21, 2018

Evelyn D. Ferreira

In die Weskusdorpie, Hopefield, se NG Kerk is daar ’n pyporrel wat vanjaar reeds 107 jaar oud is deur die orrelbouers, mnre. Forster & Andrews van Hull in Engeland, opgerig. Hierdie pragtige orrel is steeds in volle gebruik en nog in sy oorspronklike toestand wat maar net weer bevestig wat die waarde van ’n pyporrel as musiekinstrument is, wat die toets van die tyd (fisies en kultureel gesproke) kan deurstaan. Die orrel was, soos daardie tyd die gebruik was, van ’n handpompmeganisme voorsien om sodoende wind aan die blaasbalke, windkaste en pype te verskaf. Dit is later vervang met ’n elektriese motor, alhoewel die ou handpomp nog steeds aan die regterkant sigbaar is. Wat hierdie orrel besonders maak, is sy plasing voor reg in die middel van die kerkgebou – ’n plek wat normaalweg vir die preekstoel gereserveer word! Dit was natuurlik ’n afwyking van die Protestantse liturgiese beginsel dat die preekstoel ’n sentrale plek in die kerkgebou moet inneem. Die interessante plasing van beide hierdie belangrike elemente in die kerkgebou het tot gevolg dat die gemeentelid met een oogopslag ’n buitengewone visuele en ouditiewe belewenis het. Daarvoor sorg gewoonlik ’n goeie prediker en ’n musikale orrelis! En natuurlik ’n meelewende gemeente!

Die orrel het ’n treffende voorkoms. Die middelste gedeelte van die orrelkas is so ontwerp dat dit hoog bo-oor die speeltafel hang. Die orrelis sit dus amper asof onder ’n oordak. Op ’n onlangse besoek aan die orrel is ek en my gaste wat ook graag die orrel wou sien en hoor, deur die huidige orrelis, mnr. Ben Theron, oor die orrel se geskiedenis ingelig. Die gemeente verdien lof vir die sorg waarmee die orrel in stand gehou word. Ben tree dan ook op as kurator van hierdie waardevolle instrument. Dit is beslis die ideaal dat so ’n stukkie kerkgeskiedenis op hierdie wyse bewaar en met die nageslag gedeel word terwyl dit terselfdertyd in stand gehou word. Ook kan Ben se pragtige orrelbegeleiding nog elke Sondag deur die gemeente tydens die gemeentesang en tydens voor- en naspele waardeer word. Hierdie kerkgebou se inhoud is ’n voorbeeld van hoe ons in Suid-Afrika ons erfenis op vele terreine behoort te koester. Dis bloot ’n gesindheid van toegewyde sorg en respek vir die verlede wat verlang word.

Vervolgens iets oor die gemeente se interessante geskiedenis soos deur Jan Hoevers in sy baie interessante boek, Van kerke en dorpe, genoem. Die bekende reisiger, Oelloff Bergh, het reeds in 1682 melding gemaak van sy geselskap se reis verby die “Zouterivier” waar Hopefield uiteindelik op die plaas Langekuil aangelê sou word. Die twee beamptes wat betrokke was by die uitlê van die dorp se vanne was menere Hope en Field en uiteindelik is besluit dat die dorp na hulle twee vernoem sou word, vandaar die naam “Hopefield”.

Teen 1850 het die gemeente van Malmesbury ’n petisie van die inwoners langs die “Zouterivier” ontvang om ’n gemeente te stig. Op hierdie stadium moes inwoners van die Hopefield-omgewing Malmesbury toe gaan om kerkdienste by te woon – ongeveer sewe uur met ’n kar en perde! Die gemeente is uiteindelik in 1852 gestig en tot 1879 is kerkdienste gehou in ’n opgeknapte waenhuis en graanskuur. Uiteindelik is ’n pragtige nuwe kerkgebou in 1879 ingewy wat later vergroot is en in 1911 ingewy is. Die kenmerkende toring is tydens hierdie aanbouing opgerig.

Maak gerus ’n draai by hierdie kosbare stukkie kerkerfenis wat steeds vir die nageslag behoue bly danksy die NG Gemeente Hopefield se erns met die bewaring daarvan.

Bronne:

  1. Hoevers, J. : Van kerke en dorpe. Stellenbosch, 2009.
  2. Troskie, A. : The pipe organ heritage of South Africa. Port Elizabeth, 2010
  3. Pamflet: Die Orrel van die NG Kerk Gemeente te Hopefield.
  4. Persoonlike besoek, E.D. Ferreira.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!