Schuster maak g’n grap van stropery
Junie 13, 2018
Boeredansgroep maak geskiedenis
Junie 20, 2018

Seugnet van Zyl

Al het hy binne ’n jaar 11 musiektoekennings ingepalm en sy debuutalbum in dieselfde tydperk byna dubbelplatinumstatus bereik, is hy steeds net dieselfde Jo Black.

Hy het nog glad nie dié skielike roem kop toe gevat nie.

Dit is eerder ’n doelbewuste besluit as ’n mens so na hom luister.

“Daar het niks aan my verander nie. Ek sukkel nog om my kop daarom (sukses) te kry. Dit was nie die plan nie. Ek sing as ’n stokperdjie. Ek is ’n deeltydse musikant.

“En toe word ek raakgesien. Hoor hier, jy is nou ’n musikant. Dit is wat jy nou gaan doen vir die res van jou lewe.”

Black oftewel Engelbrecht, wat in Pretoria-Noord grootgeword en ná skool in die konstruksiebedryf begin werk het, se lewe het sowat ’n jaar gelede handomkeer verander toe Johan Vorster, musiekvervaardiger, hom hoor sing het.

Hy het voor die roem hom skielik bekend gemaak het vir 16 jaar deeltyds in kroeë gesing en later by skole motiveringspraatjies gelewer.

Sy eerste enkelsnit “Skepe”, wat in 2016 op YouTube vrygestel is het binne vyf maande meer as ’n miljoen trefslae behaal  en sy debuutalbum met gelyknamige titel, wat in Maart verlede jaar bekendgestel is, het al meer as 55 000 albums verkoop.

Toe volg drie Tempo-toekennings, sewe Ghoemas en ’n Sama-toekenning. Hy was ook verlede jaar as die topverkoper in die Afrikaanse musiekbedryf aangewys.

“Dis ongekend vir ’n debuutalbum,” sê hy baie beskeie.

Sy dagboek is nou tot die einde van die jaar vol bespreek en sy tweede album word in September vanjaar uitgereik. Hy haal sy slimfoon uit om te wys. Kort-kort kom daar ’n boodskap deur of bel iemand hom.

“Ek het nie geweet of ek dit gaan grootmaak in die bedryf of nie, want jy skryf ’n liedjie wat uit jou hart kom en as mense daarvan hou, dan word hy eers ’n hit.

“Die Ghoemas (en ander toekennings) definieer my nie. Ek hoop nie ek word ooit gewoond hieraan nie, want solank as wat ek voel ek verdien nie hierdie nie of hoort nie hier nie, sal ek dit vir die regte redes doen.”

Hy sê almal wag op hete kole vir sy tweede album.

“My eerste album is 34 jaar se stories. Die tweede album is ’n groter album as die eerste een. Ek het dieper gegaan. Ek het harder gegaan. Meer emosioneel ook. Ek het nie die mooiste stem nie, maar mense like dit.”

Nes sy baard wat hy al ses jaar lank dra en nou ewe skielik as die mooiste baard in die land bestempel is, vind hy dié sukses vreemd.

“Twee jaar terug het mense nog vir my baard gegril en nou het ek skielik die mooiste baard in die land. Ek leer nou eers om famous te wees.”

Dié baard wat in baie opsigte nou sinoniem met hom is, versorg hy nes hy sy hare was, droogblaas en sny.

Met dié einste baard het hy ’n paar jaar gelede sy oupa, Joe Bell (87), aangemoedig om ook baard te groei om só teen sy prostaatkanker te baklei.

Black het gesê sy oupa mag net ophou baklei as sy baard langer as die baardman s’n self is.

Saam-saam het hulle aan die gesigwolle gegroei en elke maand ’n foto van die vordering geneem. Ongelukkig het sy oupa in Julie 2015 die stryd teen kanker verloor. Met sy oupa se dood, het hy die baardhare laat waai vir liefdadigheid.

Hy sê hy dink daaraan om dít nou weer te doen, maar is ook bietjie versigtig oor hoe sy ondersteuners daarop sal reageer. Honderde was verlede jaar erg ontstoke toe Black kamstig dié baard laat waai het op die radio-omroeper, Martin Bester, se ontbytprogram.

Waar hy altyd gehoop het dat sy naam eendag net saam met dié van Karen Zoid genoem sou word, tree hy nou saam met haar op.

Black tree Vrydagaand saam met Zoid, Francois van Coke, Zolani Mahola, hoofsanger van Freshlyground, Kahn Morbee, hoofsanger van die Parlotones, Vusi Mahlasela en Ross Learmouth, hoofsanger van Prime Circle in Pretoria op.

“Karen is ’n legende. Francois ook. Ek het op Ross se musiek gerock,” sê hy hoorbaar in ongeloof dat hy nou saam met diegene optree wat hy van ’n afstand af bewonder het.

Hy wil nie nou al die aap uit die mou laat nie, maar hy gaan ook saam met Rolene Strauss, voormalige Mej. Suid-Afrika en Mej. Wêreld, aan ’n projek werk.

“Dit sal ’n inspirerende ding wees,” is al wat hy wou sê.

Hy is selfs verstom dat die FAK met hom ’n onderhoud wil voer.

“Dis mal. Ek wil teruggaan na my Afrikaanse onderwyser en vir haar sê kyk net hier … Teen alle verwagtinge (odds) het ek amper bo uitgekom, wat nie moes gebeur het nie. Dis ’n bonatuurlike geleentheid wat ek gekry het.”

Black beskou nie sy sangloopbaan as ’n werk nie, maar eerder as ’n passie wat hy daagliks uitleef.

“Dit gee my ’n platform om meer mense te bereik. In my hart wil ek net ’n verskil maak.”

Dan vertel hy hoe hy vir vier jaar lank deur die land gereis het om 500 skole te besoek om sodoende 300 000 kinders te bereik met sy Be That Guy/Girl-veldtog.

Sy doel met dié motiveringspraatjies is om kinders aan te moedig “om iemand te wees wat almal soos ’n iemand laat voel, want niemand verdien om soos ’n niemand te voel nie”.

“Dit gaan oor karakter. Dit gaan nie oor roem of geld nie. Ek doen Be That Guy, ek is nie that guy nie.”

Met sy musiek, hoop hy om groter ’n groter impak te hê.

“Ek wil die hoop weer terugbring. Ek wil meer mense bereik. Nie roem nie.”

Hy sê hy is al klaar dié suksesvolste man.

“Ek het ’n vrou, wat rotsvas agter my staan, ek het pêlle wat al vir die laaste 10 jaar my boesemvriende is. Dis my sukses. Daar is nie iemand in my familie wat meer swaarkry nie, wat honger is nie of nie die huur kan betaal hierdie maand nie.”

Hy en sy vrou, Debbie, is 13 jaar saam. Hulle het twee dogters, Dinieke (9) en Miané (6).

“Ek is nie Jo Black by die huis nie. Ek is my kinders se daddy.”

Die nederige Black kom weer na vore.

“Jo Black is nie net een mens wat suksesvol is nie. Daar is ’n span agter hom. Hulle is die regte helde agter hierdie suksesverhaal.”

Hy wil in die komende jaar eer aan dié mense bring wat sy lewe verander het.

“My lewe wat verander het, het veroorsaak dat ek weer ander se lewens kan verander.”

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!