Die keer toe ek my naam vergeet het is ’n moet-lees-boek 

Ons kerkerfenis: ’n Orrel in die middel!
Junie 20, 2018
Afrikaanse Liedjietuin: Blommetjie gedenk aan my
Junie 21, 2018

Petronel Fourie

’n Beroerteaanval is ’n vyand waarvan die meeste mense vaagweg bewus is, maar weinig werklik verstaan. Dis nie iets waarop jy jou kan voorberei nie. Hy bekruip jou heel onverwags, sonder waarskuwing, terwyl jy kos maak, televisie kyk, of – soos in die geval van die bekende skrywer FA Venter – terwyl jy skottelgoed afdroog.

Die keer toe ek my naam vergeet het, wat vyf jaar nadat die skrywer ’n beroerte gekry het die eerste keer verskyn het, beskryf die ingrypende wending wat beroerte teweegbring op eenvoudige en roerende wyse. Venter, met sy talent vir die geskrewe woord, is die ideale persoon om ’n boek oor dié siekte te skryf en sodoende lig op ’n andersins duistere onderwerp te werp.

In kleurvolle en keurige taal wat elke emosie presies verwoord, vertel Venter in besonderhede wat gebeur het die dag toe hy ’n beroerte gekry het, daardie dans met die dood en die lang pad na gedeeltelike herstel daarna. In sy eie woorde is hy, wat in sy lewe al miljoene woorde gelewer het, in ’n oogwink tot ’n groot swygsame gereduseer. Dít wat hy in sy kop reg gerangskik het, het ’n hopelose geroesemoes geword wanneer hy dit sê. Hy beskryf daardie gevoel as “… ’n treurmare van jouself verstaan maar jou verkeerd uitdruk. Die ergste is dat jy glo jy het presies gesê wat jy wou sê.”

Sy vertellings getuig van groot frustrasie, magteloosheid en moedeloosheid, soos toe hy nie ’n piering, of ’n stofsuier, of ’n suikerpot op die naam kon noem nie. Die realiteit wat vir dié boek se titel gesorg het, het hom soos ’n vuishou in die maag getref toe sy vrou vir hom vra: “Wat is jou naam?” Hy het sowaar nie ’n benul gehad nie! Om nie te weet wat sy naam is nie, was vir hom die allerergste.

Venter vertel dat hy ’n laagtepunt bereik het toe hy nie gedagte en aksie bymekaar kon kry nie. Met groot gevoel beskryf hy hoe woorde stadig, baie stadig, met die hulp van die terapeut, sy vrou, sy suster en die verpleegsters, weer betekenis begin kry het.

Hy getuig dat heimwee waarskynlik beroerte se sekerste nalatenskap is en dat dit ten volle toegeslaan het toe hy en sy vrou na die ouetehuis moes verhuis. Die boek getuig egter ook van ’n onblusbare gees wat met die regte hulp en ondersteuning weer ’n sinvolle lewe kon lei. Skryf soos hy al die jare geskryf het, was iets van die verlede. “Maar ophou skryf? Bewaar my daarvan!”

Die keer toe ek my naam vergeet het is ’n moet-lees-boek eer toe ek my naam vergeet vir elkeen wat beroertelyers beter wil verstaan en sodoende beter ondersteuning kan bied. Dit bied insig in ’n toestand wat net ’n oorlewende daarvan kan gee. Ouer lesers sal ook heelwat aanknopingspunte vind en Venter se raak beskrywings van die ouderdom geniet. Die boek vertel van ontnugtering en verlies, maar ook van geloof, hoop en liefde wat na vore tree wanneer die dood aan die deur klop.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!