FAK sal digter, komponis steeds erken

Afrikaanse Liedjietuin: Blommetjie gedenk aan my
Junie 21, 2018
Afrikaanse musiek met integriteit
Junie 26, 2018

Deur dr. Danie Langner

Die FAK het sonder twyfel ’n kultuurhistoriese verantwoordelikheid teenoor “Die Stem”. In 1932 het die FAK ’n kompetisie geloods vir sowel die woorde as die musiek van ’n eie Afrikaanse Volkslied. Vyf-en-vyftig gedigte en veertig toonsettings is ontvang. Die gedig van Langenhoven en die toonsetting van Marthinus Lourens de Villiers is in 1936 eenparig deur die keurkomitee van die FAK as Volkslied aanvaar. Deur die FAK se formele samevoeging van Langenhoven se poësie en De Villiers se toonsetting, het daar ’n nuwe Volkslied tot stand gekom wat deur die publisering in die 1937-FAK Sangbundel gekonstitueer is.

1937-FAK Sangbundel

Volgens die outeursreg bestaan ’n lied uit ’n samestelling van twee aparte werke (woorde en musiek) wat elk afsonderlik beskerm word. Die outeursreg van “Die Stem”-gedig het ná Langenhoven se afsterwe in 1932 aan sy familie behoort en is deur Sarah Goldblatt, eksekutrise van sy letterkundige nalatenskap, geadministreer. Die outeursreg van die toonsetting het aan M.L. de Villiers behoort. In 1957 is die outeursreg van “Die Stem” aan die Suid-Afrikaanse regering oorgedra. Die outeursreg van “Die Stem”-gedig het op 31 Mei 1982 verval en is tans openbare besit. Die regering het egter nie die outeursreg van “Die Stem” se toonsetting behou nie. Dit het in Mei 1977 teruggeval in die boedel van Marthinus Lourens de Villiers en sal eers in 2027 verstryk. Wat die regstegniese aspekte van die outeursreg betref, is Willemien Brümmer heeltemal korrek.

Die appèl op president Ramaphosa om “Die Stem” aan die Afrikaner-kultuurgemeenskap terug te gee, berus nie op ’n regstegniese uiteensetting van outeursreg nie. Nog minder op die verkeerde voorveronderstelling dat die FAK iets wil toeëien wat nie hulle s’n is nie. Die FAK het reeds in die voorwoord van die 1937-FAK Sangbundel erkenning aan Langenhoven se letterkundige nalatenskap gegee. In 1957 is M.L. de Villiers deur die FAK met ’n spesiale erepenning vir sy toonsetting van “Die Stem” vereer. Sy seun Dirkie de Villiers het later jare ’n wesenlike rol in die totstandkoming van die 1979-FAK Sangbundel gespeel. In 1973 het die FAK in samewerking met me. Goldblatt die Langenhoven-gedenkjaar gereël waartydens ’n gedenkplaat by Arbeidsgenot in Oudshoorn onthul en Langenhoven-dag op 1 Augustus 1973 by skole gevier is. Dit is steeds vir die FAK belangrik om in die eeufeesjaar van “Die Stem” erkenning aan beide Langenhoven en De Villiers te gee.

As jy dink dat “Die Stem” na 100 jaar steeds ‘n plek in Suid-Afrika het, SMS STEM en Jou naam na 45730

’n Debat oor die grondwetlike ruimtes vir kultuureie en die verantwoordelikheid van kultuurgemeenskappe hierteenoor is noodsaaklik. Soos dikwels gestel, moet Afrikaners baie sensitief wees vir die waarde wat baie medeburgers aan “Die Stem” heg. By verreweg die meerderheid Afrikaners is hiervoor sensitief. Nie almal hoef ook van “Die Stem” te hou of dit te sing nie. Dit is hulle volste reg. Dit neem nie die feit weg dat “Die Stem” deel van Afrikaners se kultuurstorie, kulturele identiteit en kultuurerfenis is nie. Ook nie die feit dat baie Afrikaners, indien nie die oorgrote meerderheid, steeds “Die Stem” koester en graag as kultuurlied wil sing nie. Om dit te ontken, te misken, of om apartheid in elke debat te gebruik om Afrikaners voor stok te kry, skep onnodige vervreemding. Kulturele onteiening gaan eerder rasse-polarisasie verdiep as wat dit sosiale kohesie bevorder.

Besturende Direkteur van die FAK, Dr. Danie Langner

Dit gebeur te maklik dat Suid-Afrikaners in die huidige politieke en ekonomiese klimaat klakouse word wat teen alles en almal is. Professor Marius Swart skryf dat sedert die verskyning van die eerste FAK-Sangbundel in 1937, het die FAK vir twee dekades op die voorpunt van die strewe gestaan het om “Die Stem” as die enigste Volkslied vir Suid-Afrika te bevestig. Hierdie strewe was destyds deur me. Sarah Goldblatt, en ek glo ook deur die Langenhoven-familie, ondersteun. Die FAK se dryfkrag was in die woorde van Swart “pro-Afrikaans en ten gunste van Suid-Afrika as enigste vaderland”. Ironies genoeg is die FAK se strewe en standpunt deur die polities-korrektes in die destydse konteks as “antikoloniaal” vertolk.

Die FAK se versoek aan pres. Ramaphosa om nie voorskriftelik ten opsigte van Afrikaners se kultuurhistoriese identiteit te wees nie, maar eerder te help om “Die Stem” as kultuurlied te bevestig, is allesbehalwe ’n TEEN-standpunt. Die FAK beskou ook nie “Die Stem” as ’n proteslied nie. Dit is ’n standpunt VIR wedersydse respek; VIR kulturele verdraagsaamheid; VIR die akkommodering en viering van diversiteit; VIR die reg van ’n kultuurgemeenskap om hulself te mag definieer en uit te leef; VIR ’n ruimteskeppende toekoms.

Kulturele identiteit en simbole kan op ’n beter manier bestuur en in die openbaar hanteer word as wat tans die geval is. Om dié rede is ek bly dat die president in die parlement die geleentheid tot debat hieroor geopen het en dat ons hieroor met mekaar kan praat.

 

 

Hier is twee video’s wat deur die FAK vervaardig is om die eeufeesjaar van “Die Stem” te vier.

100 Jaar van die “Die Stem” van Suid-Afrika

Sing saam aan 100 jaar se Afrikanergeskiedenis

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!