Afrikaanse musiek met integriteit
Junie 26, 2018
Wen R3000 vir jou kommando!
Julie 6, 2018

Deur Daantjie Dinamiet

Die Afrikaanse sanger Hessel van der Walt is op 2 Julie 2018 in die ouderdom van 68 jaar aan kanker oorlede.
Hessel is op 22 Oktober 1949 in Benoni gebore en in 1968 het hy en drie vriende wat saam met hom aan die Goudstadse Onderwyskollege gestudeer het, die sanggroep Die Vryersklonge gestig. Hulle het ’n natuurlike aanleg gehad en in 1970 ’n langspeelplaat getiteld Kunstig en gunstig uitgereik. Hierdie album het bekende Afrikaanse liedjies soos “Solank as die rietjie”, “Waarom nie vrolik” en “Donkerbruin oë” bevat, tesame met bekende oorsese treffers soos “Morningtown ride”, “Tom Dooley” en “Gypsy rover”.

Hessel se eerste optrede as professionele sanger het in 1983 saam met Sonja Herholdt, wat hom as’t ware ontdek het, plaasgevind. Sy deurbraak op die Afrikaanse musiektoneel het die volgende jaar gekom toe hy ’n treffer met “Rooisand” gehad het. Hy het daarna ’n album met Koos du Plessis se komposisies, onder meer “Briefie uit die see”, “Boshoek” en “Najaarsdroom” opgeneem. In 1985 het sy treffers “Kom ons dans tesame”, “Karladien” en “Suidwes se damme” baie goed op die radioprogram Afrikaanse Treffers gevaar. Sy grootste treffer was egter seker “Die lekkerste lekker”. In 1988 was Hessel die sangleier tydens die 150ste herdenking van die Groot Trek en ’n reeks feeskonserte is ter viering hiervan gehou. Hiervoor het hy die hoogste eerbewys van die Junior Rapportryers ontvang.
Sedertdien het hy hom op Christelike musiek toegespits en hy en sy dogter Mariesia het saam met hom begin optree. Onder sy Christelike albums was Ek wil die Here loof, Ek sing ’n nuwe lied, Simfonie van lof en 10 000 engele.

Hy het gewoonlik een keer per jaar deur Namibië getoer en van 2010 tot 2012 jaarliks op uitnodiging in Israel gesing.
Hessel het ook hartseer in sy lewe beleef. Sy enigste seun, Hessel (junior) en sy vrou, Helen, is op pad na hul wittebrood in April 2005 in ’n motorongeluk oorlede. Hulle was in ’n trompop-botsing buite Ventersburg in die Vrystaat betrokke toe die bestuurder van ’n bakkie beheer verloor en reg van voor teen hul motor gebots het.
Hessel het gereeld toere na Israel onderneem, en ten tyde van sy dood was hy besig om nog een, wat in Oktober vanjaar sou plaasvind, te beplan.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!