Irma Joubert en stories is sinoniem

PRESIDENT KRUGER SE GRAF DEUR VANDALE GETEIKEN
Julie 18, 2018
Carike – van joolkoningin tot legende
Julie 30, 2018

Deur Seugnet van Zyl

Die skrywer Irma Joubert (71) is onlangs deur die Bloemfonteinse Afrikaner Kultuurraad (BAK), in samewerking met die FAK, met ’n toekenning vir haar besonderse bydrae tot die bevordering van die Afrikaanse taal, kultuur en letterkunde vereer.

Flink het vir haar ’n paar vrae gevra.

Tydens die ontvangs van dié toekenning het jy gesê al het jy in ’n kultuurhuis grootgeword, is die Afrikaanse taal en kultuur vir jou baie lekker.
Hoekom sê jy so?

In ons huis was baie boeke, Afrikaans en Engels. My ma het vir ons van kleins af gelees: The Waterbabies, Little Women, Winnie the Pooh, verhale van Anderson en die Grimm-broers. Daar was ook musiek, hoofsaaklik ligte klassieke musiek. Ons was van kleintyd af Voortrekkers, het aan kunswedstryde en redenaarskompetisies deelgeneem, volkspele gedoen, Unisa se musiekeksamens gespeel.
Daarby was beide my stelle grootouers (Moerdyk en Holloway) in die 1920’s–1940’s in Pretoria intens betrokke by die uitbouing van die Afrikaanse taal en kultuur. Beide my oumas het geskryf – Tienie Holloway kinderversies en Sylva Moerdyk politieke en aktuele artikels vir publikasies soos Die Boervrou en koerante soos Die Transvaler. My twee oupas het op verskeie rade gedien waar Afrikaans en die Afrikanerkultuur bevorder is, bv. op die Monumentraad, Saambou of die Universiteitsraad van die Universiteit van Pretoria.
My pa het geboer, maar my ma was in Nylstroom, waar ek grootgeword het, baie betrokke by Die Voortrekkers, die VLU en vele ander plekke.
As ’n mens so geborge en gelukkig binne die kultuur grootword, dit elke dag te ete kry, kan jy nie anders as om lief te word daarvoor nie.

Wat lê jou veral na aan die hart van Afrikaans?

Die taal self, sy aardsheid, miskien bekendheid. Dis heerlik as ’n anderstalige met jou in Afrikaans probeer kommunikeer – daardeur sê hy: ek erken jou taal en kultuur, al is dit anders as myne.
Dis vir my besielend om te sien hoe die bonte massa op die pawiljoen al die tale van ons Volkslied uit volle bors sing – ook die vier Afrikaanse reëls.
En watter voorreg is dit om met my kleinkinders (wie se moedertaal in werklikheid Duits is) vlot en heerlik in Afrikaans te kan praat. Of om te hoor hoe sê ons kleine Jan, wat tans in Nederland grootword, “paard” en “perd” as hy daardie vierpoot rydier sien. Dis warm-om-die-hart lekker.

Jy het my vertel dat jy op die trappe van die Voortrekkermonument grootgeword het, waar jou oupa, Gerard Moerdyk die argitek van die Voortrekkermonument was en jy die storie van die Groot Trek geken het lank voordat jy die storie van Rooikappie gehoor het.

As klein dogtertjie en sy oudste kleinkind het ek gereeld saam met hom monument toe gegaan, waar hy ná die inwyding retensiewerk gedoen het.
Hy het dan tussendeur vir my onder meer die friese gaan wys en die hele storie van die Groot Trek vertel.
Baie van die persone wat as modelle vir die friese gedien het, het ek geken. My ma en pa was daar, my twee oumas en my oupa, my ooms en tantes. En ek het hulle herken – Debora Retief was vir my ’n lewende mens. Selfs die hond op twee van die friese, ou Leeu, het ek goed geken.

*Die Voortrekkermonument vier vanjaar sy 80ste bestaanjaarsjaar.

Hoe voel jy daaroor dat jy eerder met werklike stories en nie met sprokies grootgeword het nie?
Ek het wel met baie sprokies en klassieke kinderverhale ook grootgeword – daarvoor het my ma en my ouma Tienie Holloway gesorg. Ek het net “ware stories” soos verhale uit die geskiedenis, verkies. Dit het my oupa en veral my ouma Moerdyk vir my vertel.
Dink jy dít help jou vandag met jou historiese romans?

Dit het beslis die fondament vir my liefde vir geskiedenis en die mens-stories binne die kil feite gelê.

Jy het ongekende welslae in die buiteland met ses van jou boeke behaal.
Wat inspireer jou?

Ware verhale oor gewone mense. Daar is vir my ’n tipe nostalgie aan die tye waaroor my ouma vir my vertel het, veral die eerste helfte van die 20ste eeu.

Wat dink jy, maak jou boeke so aanloklik vir ander nasies om te lees?

Eerstens glo ek dis omdat dit elke keer ’n absoluut ware verhaal is wat werklik met mense gebeur het, vertel in eenvoudige, verstaanbare taal en styl.
Lesers waardeer ook die deeglike navorsing (nie net in my boeke nie, in enige boek waar met feite van watter aard ook al gewerk word). Verder bou ek telkens (nie altyd nie) ’n brug tussen Suid-Afrikaanse historiese gebeure en wat in dieselfde jare in Europa gebeur het.
Ek dink dit anker veral my Europese lesers in iets wat hulle ken en daarby vind hulle ook iets uit oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Vir baie van hulle bly Afrika maar die ver, eksotiese vreemde.

Wat het jou ná 35 jaar in die onderwys besluit om te skryf?

Ouderdom … Op ’n stadium sê mens se lyf vir jou: genoeg is genoeg – veral in ’n baie aktiewe werk soos die onderwys. Dan tree mens af, maar jy moet tog iets anders kry om te doen. Ek is nie baie goed met tuinmaak of naaldwerk of koeke bak nie, ek kan glad nie skilder of met klei werk of selfs ’n instrument bespeel nie. Toe begin ek maar skryf.

Jy het ook genoem dat die hemelse Vader jou al kleintyd ’n storiekop gegee het en jy nou tydens jou aftrede uiting daaraan gee.
Sou jy graag al vroeër wou begin skryf het of was dit só bestem dat jy eers tydens jou aftrede moes begin?

Ek sou my jare in die onderwys vir niks ter wêreld verruil nie. Wonderlikste beroep wat daar is. Ek glo ook as ’n mens bietjie lewenservaring en veral mens-ervaring opgedoen het voordat jy begin skryf, kan dit net tot jou voordeel wees.

Jan-Jan, ’n politieke verslaggewer en Irma se oudste seun, het onlangs sy eerste boek geskryf. Hoe voel jy daaroor?

Ek is geweldig trots op hom. Die boek Wie gaan in 2019 regeer is uiters boeiend, lees heerlik en is so duidelik geskryf dat selfs sy ma die politiek van hierdie land kan begin verstaan. En om met jou eerste boek reeds ’n topverkoper te wees, is verstommend.

Soos ek verstaan, skryf jou ander seuns ook? Nee, net Jan-Jan skryf. Michael en Wikus het beslis wel die talent – miskien wag dit ook vir hulle in hulle aftreejare.

Irma Joubert is een van ons groot uitvoerprodukte.
Sy is gebore en getoë in die Bosveld (Nylstroom) en het aan die Universiteit van Pretoria gestudeer. Sy het vir 35 jaar onderwys gegee (Afrikaans en geskiedenis vir senior sekondêre leerlinge) voordat sy einde 2004 afgetree en begin skryf het. Sy publiseer verskeie artikels en kortverhale as vryskut-joernalis wat in tydskrifte gepubliseer is en word in 2005 aangewys as Media24 se “Spesialisjoernalis van die Jaar” en was ’n Mondi-finalis.

Deesdae kombineer sy haar twee passies, Afrikaans en geskiedenis, om historiese romans te skryf en behaal sy hier in Suid-Afrika, asook internasionaal, groot sukses. Sy het reeds nege historiese romans gepubliseer, waarvan agt vertaal is in Nederlands, vyf in Duits, drie in Engels en in Noorweegs. Die ATKV-veertjie vir Liefdesromans word in 2010 aan Anderkant Pontenilo toegeken en in 2016 aan Immer wes. In 2014 ontvang sy die TuksAlumni-Laureaat, die Universiteit van Pretoria se hoogste eerbewys aan oudstudente.

In 2014 verower Kronkelpad in Nederland die BCB Publieksprijs en in Suid-Afrika word Anderkant Pontenilo deur die biblioteekvereniging aangewys as een van die twintig beste Suid-Afrikaanse boeke van die afgelope twintig jaar van demokrasie.
Sy is al 48 jaar lank gelukkig getroud met Jan en woon in Bloemfontein. Hulle het drie seuns, ’n dogter en vier kleinkinders. Hulle vyfde kleinkind word in Augustus verwag.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!