Ver van hier – Grethe van der Merwe

Donnalee en Ivan droom groot saam
September 20, 2018
Lizandra Winter
September 25, 2018

Die Afrikaanse musiekbedryf is vol kunstenaars vir wie sukses en geld belangriker as musikale integriteit is, en daar is net ’n handjievol wat hul musiek ernstig opneem.

Een kunstenaar wat klaarblyklik in laasgenoemde kategorie val, is Grethe van der Merwe, wat die afgelope drie jaar twee CD’s uitgereik het. Grethe se debuutalbum, Ver van hier, het in 2014 verskyn, maar om een of ander rede het nie een radiostasie van haar kennis geneem nie. Grethe is in klassieke musiek opgelei en het ’n B Mus-graad aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf, asook ’n meestersgraad met spesialisasie in kabaret. Daarna het sy klasgegee aan die dramadepartement van die Universiteit van Stellenbosch en lirieke vir kabarette en kinderteater geskryf. Sy het in 2013 besluit om ’n sangloopbaan te volg.

Soos wat ’n mens luister na haar debuutalbum, Ver van hier, kom jy agter dat jy te doen het met ’n kunstenaar wie se musiek meer om die lyf het as die kommersiële snert wat soms oor die radio gespeel word. Ten spyte van haar agtergrond in klassieke musiek, het sy nie ’n hoë sopraanstem nie, en kan eerder as ’n alt geklassifiseer word. Die lirieke van die titelsnit is nie so oppervlakkig soos dié van die gemiddelde radiotreffer nie. Daar moet seker ’n storie agter die snit “Vir Josef” wees, maar dit is moeilik om vas te stel presies wat haar geïnspireer het om dié liedjie te skryf. In “Alles is fine” sing sy van mense wat voorgee dat dit goed gaan terwyl dit nie die geval is nie. Daar is baie mense wat met die woorde van “3-sekond ontmoeting” kan identifiseer; hierin sing sy van mense wat mekaar toevallig raakloop maar sukkel om mekaar te leer ken. “Break the silence” is een van die lekkerste snitte op die album. “Dit traak my niks” is nog ’n hoogtepunt, want dit gaan daaroor dat ’n mens jou eie ding moet doen, maak nie saak wat ander mense dink nie. “Eenvoud” het ’n effense jazz-klank, en ’n mens besef dat dit op ’n uitgelese gehoor gemik is.

Grethe se tweede album, Jy weet, is verlede jaar uitgereik, maar weer eens is daar nog geen van die snitte van hierdie album oor die radio gespeel nie. Met die eerste snit, “Aksie-reaksie”, kom jy al agter dat Grethe se lirieke werklik iets besonders is, wat dit is beslis nie jou tipiese kommersiële Afrikaanse liedjie nie. Op “Ander man se land” sing sy van mense se neiging om iemand anders die skuld vir hul probleme te gee. Op “Worth it” wys sy dat sy ewe goed Engels as Afrikaans kan skryf. Die titelsnit is nog ’n hoogtepunt op die album. Daar is sekerlik mense wat hulle met die lirieke van “What-if love” se woorde kan identifiseer, want sy verwoord die onsekerheid van die liefde baie goed. Die volgende snit, “Oomblik”, bewys dat ’n mens soms niks meer as ’n klavier nodig het vir begeleiding nie; hierdie snit is op die meer ernstige musiekliefhebber gemik en daar is niks daarmee verkeerd nie. “Vergewe my” val in dieselfde kategorie; dit is ’n pragtige snit met lirieke wat jou laat dink. In teenstelling daarmee is die lirieke van die laaste snit, “Excuse my French”, lekker speels, en dit bewys haar veelsydigheid.

Met hierdie twee albums bewys Grethe dat sy ’n kunstenaar is wat ernstig opgeneem behoort te word. Sy het die regte agtergrond en sy kan feitlik enige musiekvorm baasraak. Die probleem is dat Suid-Afrikaanse radiostasies, en veral die Suid-Afrikaanse publiek, doodeenvoudig nie in ordentlike musiek belangstel nie. Hopelik is daar egter tog ’n musiekpromotor wat bereid sal wees om haar ’n kans te gee, want sy het beslis die talent om dit nog ver te bring.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!