Vat my terug – Angel de Lange
Oktober 12, 2018
Uitbasiun – Ray Dylan
Oktober 12, 2018

Sedert Jan Blohm se eerste album, Melkstraat confessions, in 2005 vrygestel is, het hy ’n gunsteling onder veral liefhebbers van meer alternatiewe Afrikaanse musiek geword.

Nadat hy lank stil was, het hy pas sy jongste album, Die liefde album, vrygestel, natuurlik met die liefde as sentrale tema. “Sondagaand” is, soos die meeste snitte op die album, sy eie komposisie. Hoewel Jan hoofsaaklik as ’n rock-sanger bekend is, wys hierdie snit ’n rustiger kant van hom. “Huis toe” is dalk een van die enkelsnitte vanaf die album; dit is ’n baie goeie snit wat hy self geskryf het. “Word wakker” is nog een van Jan se eie komposisies, en die kenmerkende deurmekaar taalgebruik wat gedurig deel van sy lirieke is, kom ook hier voor, maar andersins is dit ’n goeie snit wat wyd byval behoort te vind. “Liefde maak” is ’n pragtige snit wat ’n groot treffer behoort te wees. Die kitaarwerk op “Rodeo” is besonder goed. “Beter man” is die eerste snit op die album waarvoor Jan nie die woorde en musiek geskryf het nie; dit is ’n komposisie van Paolo Nutini, met Afrikaanse woorde wat deur Jan geskryf is. Hy doen nie gewoonlik so iets nie en daarom is dit nie ’n probleem nie. Ten spyte van die Engelse titel is “Kiss kiss Annie” ’n Afrikaanse snit; jy sal daarvan hou of jy sal nie, veral as gevolg van die deurmekaar taalgebruik. Daarteenoor is “Charlie” ’n beter snit. “Dieper blou” is ’n pragtige snit wat radiolugtyd verdien. “Johnny het die blues” is ’n goeie snit, maar dis moeilik om te sê of almal daarvan sal hou. Die laaste twee snitte is die enigste twee waarin Jan nie ’n aandeel gehad het nie. “Winternag”, geskryf deur Eckard Potgieter, geïnspireer deur Eugène Marais se gedig met dieselfde naam. Eckard was vroeër jare ’n platebaas en het Jan se debuutalbum vrygestel. Eckard het dit ook al vantevore opgeneem; dis goed dat Jan dit weer ingesluit het omdat dit een van die heel beste snitte op die album is. Die laaste snit is “Beautiful in Beaufort-Wes”. Dit is deur Gert Vlok Nel geskryf maar dit sal altyd met Theuns Jordaan geassosieer word. Jan se weergawe is nie naastenby so goed soos Theuns s’n nie.

Hoewel hierdie album groot byval by Jan se aanhangers sal vind, sal dit moeilik wees om enigiemand anders te oortuig dat dit die moeite werd is. Daar is wel ’n aantal goeie snitte, maar ’n mens sal self moet besluit of dit genoeg is.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!