Vanaand dans ons weer – Die Ventertjies

Uitbasiun – Ray Dylan
Oktober 12, 2018
Formules is die suksesgeheim van sy trefferliedjies
Oktober 19, 2018

Dit gebeur nie altyd dat kunstenaars wat tot die musiekbedryf toetree terwyl hulle nog tieners is, die deursettingsvermoë het om vol te hou met hul musiekloopbane nie.

Een uitsondering is die kitaarduo Die Ventertjies, wat hulself gevestig het as een van die voorste instrumentale groepe in Suid-Afrika. Nicola en Lindie-Lee, onderskeidelik die ouer en jonger sussie van die groep, het pas hul derde album, Vanaand dans ons weer, vrygestel.

Die eerste snit op die album is Nicola se eie komposisie, “Waslap-vastrap”, en ’n mens kom dadelik agter dat hulle ware musiektalent het. Nicola en Lindie-Lee bespeel onderskeidelik die melodie- en baskitaar, en op hierdie album is daar ’n aantal musikante wat saam met hulle speel, onder meer Joshua Oosthuizen, wat  ook kitaar speel, asook tromme op ’n paar snitte, asook Buddy Marais, wat banjo en konsertina speel. “Misvloer-seties” is ’n komposisie van twee legendes van plaaslike musiek, Nico Carstens en Anton de Waal. Die Ventertjies speel egter nie net Afrikaanse musiek nie; die volgende snit is ’n Don Williams-keurspel wat bestaan uit “I recall a gypsy woman”, “Amanda” en “Some broken hearts never mend”. “Outa in die langpad” is ’n ou bekende komposisie, die vraag is net hoe polities korrek die titel nog is. Dit maak egter natuurlik glad nie saak nie; hul weergawe daarvan is baie goed. : Die kalfiewals” is ’n tradisionele Boeremusiek-komposisie; seker een van die bekendstes tot nog toe. Dis goed om te sien dat hulle nie net tradisionele of bekende instrumentale snitte ingesluit het nie, maar ook kontemporêre treffers. Een daarvan is Nic Stevens se groot treffer “Jonk bly”.  “Hantam Opskop” is ’n komposisie van die oorblywende stigterslid van die Kilpwerf-Orkes, Kobus Visagie.  Jan Brits was ’n legendariese kitaarspeler en hy het “Nuwejaarstango” gekomponeer.  Nicola het die titelsnit gekomponeer en dit sal beslis die dansvloere vol kry.

Japie Laubscher se bekendste komposisie was sonder twyfel “Die ou waenhuis”, maar Die Ventertjies het besluit om “Magoebaskloof-wals” eerder in te sluit. Nicola se kitaarspel op hierdie snit is besonder goed, en dit is goed om te hoor dat daar geen foefies en fieterjasies is nie. “Boeretroue” was ’n groot treffer vir Kurt Darren en hul weergawe daarvan is baie goed. Weer eens is dit ’n snit wat mense aan die dans sal kry. “Aan en aan” is ’n komposisie van Rudie Grobler en seker een van die beste snitte op die album.  Hansie Roodt was een van ons land se heel bekendste kitaarspelers en Die Ventertjies bring hulde aan hom met sy komposisie “Kitaartrane”. Vir die laaste snit span Pieter Smith saam met hulle. Dit bestaan uit “Sarie Marais”, “Die oukraalliedjie”, “Daar kom die Alibama”, “Hoe ry die boere” en “Wie maak vir Gansbaai lekker?” Dit sal ’n mens sommer dadelik saam laat sing.

Met hierdie album het Die Ventertjies weer bewys dat hulle nie net een van ons land se beste instrumentale groepe is nie, maar dat hulle hier is om te bly. Die kanse is baie goed dat dit een van die beste instrumentale albums van vanjaar sal wees.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!