Formules is die suksesgeheim van sy trefferliedjies

Vanaand dans ons weer – Die Ventertjies
Oktober 12, 2018
Visvang tunes gaan groot
Oktober 23, 2018

Deur Seugnet van Zyl

Ja, dit is ’n Godgewe talent, waarvoor hy elke dag net te dankbaar voor is, maar hy beskou hom geensins as die beste liedjieskrywer nie.

So beskeie is Johan Vorster oor die meer as 70 nommer een-treffers wat hy al vir ’n verskeidenheid kunstenaars geskryf het.

“Dis nie jy nie. Jy is maar net ’n instrument.”

Johan, liedjieskrywer, sanger en vervaardiger, was van kleins af lief vir musiek en teater en op die ouderdom van ses het hy teaterproduksies aanmekaar gesit uit materiaal wat beskikbaar was in die huis en vir sy ouers en familie konsert gehou en R2 toegang gevra. Sy ma, Petro, het hom na elke Eisteddfod toe gery waar hy kon deelneem aan sang en voordrag.

Op die ouderdom van 12 is hy gekies om deel te vorm van die Drakensbergse Seunskoor en het sy groot liefde vir klassieke musiek ontwikkel. Hy het onder meer in Amerika en Egipte opgetree.

Op hoërskool het hy nie net uitgeblink in die kunste nie, maar het hy ook deelgeneem aan SA proewe in nalope. Hy het homself in die kamer vir ure toegesluit en op sy pa se rekenaarpapier van die apteek, wat vyf lyntjies opgehad het, musiek geskryf, sonder dat hy note kon lees.

Johan het ná skool by die Universiteit van Potchefstroom BMUS gaan studeer en sy eerste musiekblyspel in die Sanlam Auditorium met ’n volle orkes uitgevoer. Met sy liefde vir populêre musiek het sy komposisies nie die normale reëls gevolg nie en het hy ander horisonne gesoek.

Vandag is Johan ’n welbekende naam in die musiekindustrie. Hy staan bekend as een van die land se bekendste liedjieskrywers, maar hy is ook ’n gesoute vervaardiger wat lief daarvoor is om onbekende kunstenaars te neem, hul talent te ontgin en ’n suksesvolle loopbaan vir hulle te bou.

Min mense sal dit weet, maar voordat daar ’n noot vir Jo Black geskryf is, was sy manifes reeds uitgeskryf. Jo is die jongste toevoeging tot die groep van Johan se kunstenaars. Hy skryf onder meer ook liedjies vir Karlien van Jaarsveld, Dewald Wasserfall, Leah, Roan Ash, Bok van Blerk, Lianie May, Appel en Jay. Hy het destyds ook al die trefferliedjies vir Eden, waarvan hy ook ’n lid was, geskryf.

“Ek dink dis die mees effektiewe manier om te werk, want dan skryf ek regtig produkgedrewe.”

Hy gebruik woorde om dié produk oftewel dan die kunstenaar se handelsmerk uit te bou en liedjies vir dié betrokke kunstenaar te skryf. Voor dít ontwikkel hy egter die sielkunde agter die produk.

“Daar is ’n baie spesifieke prentjie in my kop voordat daar ’n idee moet opkom. Toe ek op universiteit was, het musiek eerste gekom en lirieke sekondêr, waar dit nou so 50/50 is. Ek sal ’n liriek kry soos “Jy soen my nie meer nie”, waarmee ek baie lank rondgeloop het en ek het melodie vir melodie probeer op daai liriek en ek onthou die spesifieke dag wat ek my vrou gebel het en vir haar gesê het: ‘ek gaan gou vir jou ’n koorgedeelte sing want ek dink ek het hom’. En toe weet sy al ek het vir twee maande lank gesoek.”

Toe wen hy en sy vrou, Rencha, die Huisgenoot Tempo-toekenning vir Liedjieskrywer van die jaar vir die lied “Jy soen my nie meer nie”.

Nes Rencha dien sy kinders, Joshua (10), Raphael (8) en selfs sy jongste seun, Daniël (18 maande) as klankborde vir sy liedjies.

Hy vertrou net ’n paar mense met insae oor sy liedjies. Nog iemand is sy besturende direkteur, Jacomien de Villiers by hulle maatskappy https://inhoudhuis.co.za/, en sy medeskrywers. Hy beskou Ewald Coleske ook as sy grootste mentor.

“Ek vat dit maar altyd daarna terug. Dieselfde wat die FAK met volksliedjies doen. Volksliedjies wat opgeneem was, was welbekend, eintlik populêre musiek. Anton Goosen het eintlik daai tyd, en hy sal dit haat as ek dit sê, maar hy het eintlik popmusiek geskryf. Hy was ’n rocker, maar dit was populêre musiek, want die breër Suid-Afrikaanse publiek was mal oor sy goed.”

Hy vertel hoe hy in sy tweede jaar op universiteit “iets besef het en dít was saam met ’n goeie vriend wat saam met hom geswot het”.

“Dit wat ek in musiek skryf, is baie na aan ’n verhouding wat in die natuur voorkom. Oor en oor in die natuur voorkom en waarom ’n roos of ’n boom vir jou mooi sal wees. Ek kon dít letterlik deurtrek na wat ek doen en ek kon ’n formule in plek sit, wat basies vir my sê: ‘Johan as jy sentreer om daai ritmiese elemente of om daai toonhoogtes of daai note of daai verhoudings van intervalle, is die kanse vir sukses of dat meer mense daarvan sal hou, ’n bietjie groter’. Ek het dit begin toepas en dit werk nou al vir my vir meer as 15 jaar.”

Daarom skryf hy op baie spesifieke formules liedjies vir elke kunstenaar.

“Dis maar net formules wat ek gesien het wat werk. Dis spesifiek. Dis ’n wetenskap. Baie mense sal sê dis ’n stokperdjie, maar ek het dit nog nooit só benader nie.”

Dit blyk die suksesgeheim te wees.

Met “Die Gelofte” en soms met ander liedjies sukkel hy om die regte melodie daarvoor te kry.

Die vierde melodie is uiteindelik as die regte een vir “Die Gelofte” gekies.

“Dit was ’n baie moeilike lied om te toonset. Die ander drie melodieë het eenvoudig net nie gewerk nie. Dit kon nie so lekker saamsing nie. Ek het iets gesoek wat klink soos die “Onse Vader” of jou laat voel soos die “Onse Vader”, maar kan saamsing. Ek onthou toe ek die demo vir die eerste keer vir my kinders speel. Die tweede keer toe ek by die tweede koorgedeelte kom, toe begin Joshua (sy oudste kind, wat volgens hom nie baie musikaal is nie) saam te sing. Toe weet ek dit is oukei, want as die kinders daarvan hou, dan beteken dit dit is eenvoudig genoeg vir die breër publiek om dit te kan saamsing.”

Johan en Christoph Kotzé (Appel) het kragte saamgesnoer en “Die Gelofte” vir die eerste keer in Afrikaans getoonset. Dit word deur Chris Chameleon, Adam Tas, Appel, Ghapi en Juan Boucher gesing.

Vir Johan gaan “Die Gelofte” oor niks anders as ’n belydenis van afhanklikheid nie.

“Daar is geen ander plek om antwoorde te kry nie. God kan net sterk wees as jy swak is. Die lied is vir my ’n verskriklike oortuiging in my hart. Dis ’n spesiale lied.”

Hy meen die vyf kunstenaars wat “Die Gelofte” sing, is “gestuur” na hierdie projek toe.

“Hulle dien die lied en die boodskap. Dit gaan nie oor hulle nie.”

In sy familieverband wou hy graag hê dat sy seuns moet weet waar hulle voorvaders vandaan kom en “Die Gelofte” bereik dié doel perfek.

“Hoe kan hulle weet waarheen hulle heengaan? Hoe kan hulle enigsins ’n identiteit hê as ’n Afrikaanse seuntjie as hy nie ’n clue het wie Retief of Cilliers of wie ook al voor dit of na dit sal kom, was nie?

“Ek het nie ‘n kinderalbum gaan probeer maak nie, maar as my seuns vrae gevra het, kan ek hiermee vir hulle iets vertel het. Dis ’n lekker manier om geskiedenis lewend te maak.

“Daar is salwing op die lied en op die woorde. Daar is ’n baie definitiewe groot plan met die lied. Ek kan nie iets anders sê as wat in my hart was toe ek dit geskryf het nie.”

 

 

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!