Alles van die beste – Die Heuwels Fantasties

20 jaar treffers 2008-2018 – Juanita du Plessis
Oktober 23, 2018
Baie, baie geluk aan vanjaar se Internasionale Afrikaans-Ekspo-wenners
Oktober 25, 2018

Sedert Die Heuwels Fantasties se gelyknamige debuutalbum in 2010 vrygestel is, het hulle een van die min “alternatiewe” Afrikaanse groepe geword wie se musiek vir ’n breë  gehoor toeganklik was.

Nou het hulle ’n versameling van hul grootste treffers, met die gepaste titel Alles van die beste vrygestel; dit bestaan uit ’n CD en ’n DVD met die onderskeie titels Liedjies vir die laserskyf en Beelde vir die beeldradio. Wanneer laas het ’n mens van ’n laserskyf en ’n beeldradio gehoor?

Die eerste, en laaste snit op die album is twee weergawes van dieselfde liedjie. “Klein tambotieboom” was hul eerste groot treffer en is selfs in die jongste FAK-Sangbundel ingesluit. “Pille vir Kersfees” is nog ’n snit vanaf hul eerste album wat ’n treffer geword het. Daar is ongelukkig een snit wat die hele album bederf en maak dat ’n mens nie kan toelaat dat jou kinders daarna luister nie. “Die vraagstuk” is ook ’n snit vanaf hul debuutalbum; ‘n gaskunstenaar kan op hierdie snit gehoor word, en sy aanhoudende gevloek maak dié snit heeltemal onluisterbaar en daar is ook geen waarskuwing oor hierdie soort taalgebruik op die omslag nie. Die CD sou baie beter sonder hierdie snit gewees het. Daar is net een snit vanaf hul tweede album, Wilder as die winltuin, naamlik die skitterende “Wonder bo wonder”, waarop Coenie de Villiers saam met hulle sing en ook op sy album Hart van glas voorgekom het. Een van Die Heuwels Fantasties se suksesvolste albums was Alles wat mal is; wat in 2012 vrygestel is. Onder die snitte vanaf daardie album wat treffers geword het en op hierdie album ingesluit is, is “Beloofde land”, “Rofstoeigreep” en “Die volkslied”. As daar egter een album is wat hulle gewild gemaak het, was dit Ja-nee lekker. Hulle het die temaliedjie vir die rolprentweergawe van “Ballade vir ’n enkeling” opgeneem en ’n mens hoef nie by te voeg dat dit ’n baie groot treffer vir hulle was nie. Die album is later heruitgereik met ’n bonussnit, “Doen net wat ons wil”, waarop Riana Nel saam met hulle gesing het. Hierdie twee snitte het baie gedoen om hulle meer gewild onder die algemene publiek te maak. Die laaste oorspronklike album wat hulle vrygestel het, was Okay, maar dit was nie gewild soos die vorige twee nie. Nogtans is vier snitte, naamlik “Gebruik my”, “Koeëlbaai”, “Laaste rondtes” en “Niks en nêrens” ingesluit. Die laaste snit, soos reeds genoem, is nog ’n weergawe van “Klein tambotieboom”; hulle het dit saam met Laurika Rauch opgeneem vir haar album Die reis; en dit het van voor af ’n treffer geword.

Die DVD bevat musiekvideo’s van meer as dertig snitte en nie net dié wat op die CD is nie. Onder die snitte wat op die DVD is, maar nie op die CD nie, is “Sonrotse” (saam met Francois van Coke), “Nare kaskenades”, “LED-liefde”, “Our heritage”, saam met onder die Soweto Gospel-koor en “Hip Hop Pantsula” (HHP) en ’n kortfilm getiteld Verraadplaas, waarop Francois van Coke ook voorkom.

As jy ’n aanhanger van Die Heuwels Fantasties is, moet jy beslis ’n plan maak om hierdie album by jou versameling te voeg. Indien nie, moet jy dalk eers na ’n paar snitte luister voordat jy besluit of jy dit gaan doen.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!