Formules is die suksesgeheim van sy trefferliedjies
Oktober 19, 2018
Wees lief – Cordelia
Oktober 23, 2018

Een van baie Suid-Afrikaners se gunsteling tydverdrywe is visvang, maar Buddy Vaughn was in die 1980’s seker die eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar wat ’n album vol liedjies hieroor vrygestel het.

“Hartebeespoortdam” is seker een van die bekendste liedjies vanaf hierdie album, en verskeie kunstenaars , onder meer Wicus van der Merwe, het dit al opgeneem. Anton Myburgh se weergawe is hier ingesluit; jy sal dink dis skreeusnaaks of jy sal niks daarvan hou nie. Buddy het ook die volgende snit, “Ek baklei vir my plek by die viswater”, geskryf; Piet Papgooi en die Sinkers sing dit op hierdie album. Pieter Smith het “Elandsbaai se groot vyf” vir Andries Vermeulen geskryf; Andries kom natuurlik van die Kaapse Weskus af en dié snit pas baie goed by hom. Nog ’n kunstenaar wat van die Weskus af kom, is Rooies, wie se eie komposisie, “Hou my vas”, ingesluit is. Hierin sing hy van manne wat ’n bietjie te veel gedrink het en moleste op Swakopmund se sandduine maak. Basjan se regte naam is Brian Nieuwoudt; hy kom self van die Weskus af en hoewel hy ’n veelvuldige instrumentalis is, het sy musiek nie juis landwyd byval gevind nie. “Groenrivier se krewe” is sy eie komposisie.  “Viswater” is nog ’n komposisie van Buddy Vaughn, en Juandré Marais sing dit op hierdie album; soos gewoonlik is daar ewe veel Afrikaanse en Engelse woorde in hierdie snit; jy hou daarvan of jy kan dit nie verdra nie. Dit lyk asof Buddy nie juis lief is vir mense met motorbote nie, tensy hy “Voort voort meneer” geskryf het vanuit die oogpunt van mense wat nie van motorbote hou nie. Jakkie Louw se weergawe kom op hierdie album voor. Anton Myburgh se “alter ego”, Frikkie, het nog net een album vrygestel en “Visgat” kom vanaf daardie album. Zirk Berg was ’n legende van die Weskus en Rooies se weergawe van Zirk se skreeusnaakse komposisie “’n Huisie by die see”, is hier ingesluit. Een van twee country-snitte is volgende, naamlik Jason Bradley se “Fish”. Dit staan kop en skouers bo die res van die album uit.

Gerhard Steyn het “Gat’ ons more see toe” saam met Kobie Koen geskryf voordat hy “Baby tjoklits” op die Suid-Afrikaanse publiek losgelaat het, en dis goed dat dit hier ingesluit is. Koekoes Bezuidenhout het al vir ’n paar kunstenaars liedjies geskryf, onder meer Neil Somers en Adam Tas; hy het “Beste bra” vir Jan Rhaap geskryf. Die tweede country-snit op die album is “Toes”, wat oorspronklik deur Zac Brown Band gesing is; JJ Strydom se weergawe is net so goed soos die oorspronklike een.  Jakkie Louw se tweede bydrae op die album is “Kom ons vang vis”.  Nog ’n liedjie wat die oënskynlike haat tussen hengelaars en motorbooteienaars verwoord, is “Daar kom hy weer”. Dis jammer dat daar kragwoorde in hierdie liedjie voorkom; dit is glad nie snaaks nie. Basjan se skitterende weergawe van Worsie Visser se “Lekker ou Jan” is ’n hoogtepunt op die album.  “Noord-Wes” is Gert Koevert se eie komposisie, en weer eens is dit een van die beste snitte op die album.  Hugo het baie lank laas ’n album opgeneem; MD Greyling het “Kaptein Castle” vir hom geskryf.  “Jacobsbaai” is Andries Vermeulen se tweede bydrae tot die album; dit is ’n omgewing wat hy natuurlik goed ken.  Die laaste snit op die album is “Loopdop” van Kaptein Skuim; die lirieke van hierdie snit sal enige getroude vrou absoluut woedend maak.

Dis moeilik om ’n album soos hierdie een te beoordeel sonder om venynige kritiek teen sekere snitte te lewer; daar is egter ’n paar waarna ’n mens tog kan luister. Wat jy daarvan dink, sal egter van jou humorsin afhang.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!