Daar’s ‘n engel in Willie Strauss se koskas

Nog internasionale roem vir Jaco Jacobs
November 6, 2018
Taaltrots
November 14, 2018

Deur Yolanda Barnard-Lemmer

Die uittog na Rosstraat in die myndorpie Cullinan is ’n stamperige gedoente, maar dan ná verskeie draaie en uitswaaie, stop jy uiteindelik voor die Sinkhuisie. Twee ou poppe – behoed en aangetrek in hulle Sondag-beste – klim teen die bome uit wat seker al langer as ’n eeu gelede wortels ingeslaan het.

Die huis dateer uit die 1900’s en dit is waar jy die skrywer, sanger, akteur en sjef, Willie Strauss, sal vind. Tussen sy kookboeke, sy vet gerubs wat geluidloos op hulle harpe speel, sy antieke meubelstukke en parafernalia uit vervloë dae, sy swetterjoel honde en sfinks-katte. Sy ganse en sy hoenders.

En daar vlieg die skrywer van die spiksplinternuwe kookboek, Daar is ’n Engel in my koskas, by die Sinkhuisie se voordeur uit. Sy diere knorrend, spinnend, kekkelend en snaterend onder sy voete. Om sy bene flap ’n wit linnebroek, sy T-hemp bedruk met kolwyntjies. Natuurlik figureer kos selfs in sy boheemse kleredrag, want hy is Cullinan se rare kosdiamant, vertel die plaaslike inwoners as jy oor Willie uitvra.

“My kookboek is dié week se topverkoper by Graffiti.” Willie grinnik soos ’n kat wat ’n piering room gekry het.

Sy kookboek het pas by Human & Rosseau Uitgewers verskyn. 188 glansblaaie vol kosgenot. Geïnspireer deur die engele, glo Willie, want hy het al baie keer ’n veer wat uit ’n engelvlerk geval het, in sy kombuis opgetel. “En nee, dit is beslis nie ’n gansveer nie,” knipoog hy. Sy pad het al agt jaar gelede met dié van engele gekruis. “Ek het nog nie ’n engel gesien nie, maar ek het al hulle vere gesien. Dit is bewys dat hulle my wel besoek het. Ons was sowat ’n jaar gelede in ’n kaping betrokke. Die koeëls het om ons gefluit. Ek moes dood gewees het. Die engele was daardie aand daar.”

Dit is ook waarom sy tafellinne-reeks bekend is as die engele-reeks. Dit is waarom daar gerubs in sy tuin staan. Dit is ook waarom sy liedjies deur engele geïnspireer word.

In sy oorvol kombuis waar konfytbottels soos soldate in ’n gelid staan en sy hoender-inni-kombers in die oond stoom, maak Willie homself agter ’n lang houttafel tuis. “Die resepteboek het ook nie oornag verskyn nie,” vertel Willie, wat jare gelede vir die nou gestorwe Rapport Tydskrif kosstories geskryf het. “Ek het vir ses jaar soos ’n hoender op haar eier gebroei. Ses jaar van proe en probeer, flop én aanbrand én weer probeer. Tot die resepte volmaak was.”

Boerekos met ’n fokstrot, spot Willie, want al sy geregte het net so ietsie by waaraan ouma nooit sou dink nie. Sy bobotie, byvoorbeeld, het nie net die prosaiëse knippie borrie en kerrie by nie, maar gedroogde bosbessies, tamaties en suurlemoensap. “My resepte is almal baie maklik om te maak. Die bestanddele is gewoonlik in jou koskas en die resepte is flatervry.”

Sy hoender-inni-kombers, “julle middagete” het hy en die aktrise Lizz Meiring jare gelede vir die kosprogram Roer gemaak. Dan is daar ook nog sy hoenderpasteie en sy visbobotie, sy koeke, sy terte en sy slaaie. Elke hoofstuk fyn verweef met ’n kosstorie, onthoustorie. Slim woordspelings soos Moenie in my slaai krap onder die afdeling wat volgepak is met slaairesepte en So mak soos ’n lam oor die lamsgeregte.

“Toe ons kinders was, begin hy vertel, het my ma sulke groot dik oumabrode gebak. Ons kinders het altyd oor die korsies baklei.”

Stories vertel, kook, sing. Hy het drama aan die destydse Technikon Pretoria studeer, maar het na sy studies besluit om eerder op ’n loopbaan in die musiekbedryf te fokus. Eers jare later het hy begin kook en nou het hy ook sy eie kruie- en sousreekse. Hy beplan ’n televisiereeks, hy hou langtafel-etes by sy Sinkhuisie. Hy toer die land vol.

Is hy nie ’n Nataniël-na-aper nie? So ’n snuif en ’n verergde kopskud. “Ek haat dit as mense my met Nataniël vergelyk. Dit is wat my mal maak. Ons almal is uniek. My kos en musiek is uniek. Net soos wat Nataniël se musiek en kos uniek is.”

Sowat drie weke gelede het hy sy resepteboek by die Centurion-teater bekendgestel. Uitgelese gaste is getrakteer op musiek, staaltjies en kosstories. Hulle is ook getrakteer op bobotie, hoenderpasteitjies, en sy melkterte. Dié is so gewild dat die sanggroep Die Grafsteensangers ’n liedjie daaroor geskryf het: Willie wil ’n stukkie van sy melktert hê, sy melktert hê …”

“My melktert is lekker, maar dit is eintlik my vrugtekoek wat almal aan die praat het.” Sy nie-tradisionele sjokolade-vrugtekoek wat van almal vrugtekoek-bekeerdes maak. Selfs Matrone het op die Afrikaanse sepie, 7de Laan, na Willie van Cullinan se vrugtekoeke verwys.

Van Kaap tot in Koekenaap koop die mense die vrugtekoek. “Ek koerier dit aan die mense,” vertel Willie.

Die hoender-inni-kombers stoom warm uit die oond uit. Willie dek tafel – sy fynste linne – en sit die bak neer. Die honde knor, die ganse snater, die katte spin en die mense sug tevrede. Almal saamgebondel, al etend in die nostalgiese kombuis. Willie breek nog ’n stuk brood af, doop dit in die dik sous. En iewers roer daar ’n engelvlerk in die wind.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!