Die Marnixring – ‘n diensteorganisasie soos geen ander

Taaltrots
November 14, 2018
Unforgettable – Jannie Moolman en Corlea Botha
November 20, 2018

Deur Jan G. Verleysen, algemene voorsitter van die Marnixring Internationale Service Club

Die naam Marnixring verwys na die 16de eeuse figuur, Philips van Marnix, heer van Sint Aldegonde, wie se persoonlikheid die doelstellings van ons organisasie    beliggaam het. Die Marnixring is ’n inisiatief van vriende wat in 1968 die behoefte geïdentifiseer het aan ’n diensorganisasie wat ook aandag aan die waarde van die taal en kultuur in die Lae Lande sou gee. Dié inisiatief het baie gou byval gevind in ’n aantal stede en vandag is daar meer as sestig plaaslike kringe wat in hul aktiwiteite groot selfstandigheid geniet, maar hulle tog aan die algemene doelstellings van die klub verbind.

Diens aan die Nederlandse taal- en kultuurgemeenskap sluit ook ondersteuning aan Afrikaans in. Dit word gedoen deur die aktiewe verspreiding en bevordering van die Nederlandse taal en kultuur. Vriendskapsbande en dienslewering onder lede –ongeag hul lewensbeskoulike of politieke opvattinge – is  van essensiële belang. Dit dra by tot solidariteit, verstandhouding en vrede deur middel van dienslewering.

In die 19de-eeuse opvatting oor maatskaplike betrokkenheid staan liefdadigheid sentraal, maar die noodsaak van liefdadigheid is in die vorige eeu geleidelik deur die versorgingstaat vervang. Die vorm wat diensbaarheid aangeneem het, het dus mettertyd verander en die 21ste eeu kon ook nie aan hierdie wetmatigheid ontsnap nie. Ook nie die Marnixring as diensorganisasie nie. Wie nou leiding neem in ons samelewing, moet ook ander leemtes en behoeftes kan raaksien. Ons stigters in 1968 het dit al baie goed aangevoel en het reeds destyds die grondslag gelê van ons unieke diensorganisasie. Dit is dus nie vreemd nie dat daar by jonger mense ’n toenemende belangstelling bestaan vir diens deur middel van lidmaatskap van die Marnixring. Die basisbeginsels van 1968, ons stigtingsjaar, is en bly dus ’n stewige fondament waarop ons werk uitgebou kan word.

Om die leemtes en behoeftes ten opsigte van nuwe ontwikkelinge van neigings raak te sien, vereis van ons almal visie en ’n  hegte verbondenheid aan ons volksgenote. Ons kan ons dus nie steur aan die staatsgrense wat ons groot kultuurnasie deurkruis nie. Ook nie aan voogdyskappe van watter aard ook al wat in die weg sou staan van die vrye ontplooiing van ons taal-en kultuurgemeenskap nie. Hierdie beginsel geld hier sowel as in Suid-Afrika. Die hindernisse oorkom ons wel.

In die toekoms sal ons meer uitwaarts moet beweeg om van die “dun grens” tussen invloedryke maatskaplike agendas enersyds en die invloed van standpunte andersyds kennis te neem. Daarom is dit belangrik dat ons respek vir die interne diversiteit van mekaar se menings sal hê en dit sal sien as waardevol eerder as strydpunte. Hoe meer gevarieerd ons opinies binne die grense van ons doelstellings kan uitspreek, hoe meer gebalanseerd en gesaghebbend sal ons as ’n sterk en gerespekteerde groep na buite kan optree en verder groei. Ons is dus nie verdeeld nie, maar dra saam by tot die ontwikkeling van ons taal- en kultuurgemeenskap.

Probleme wat in “Noord en Suid” (Nederland, Vlaandere, Frans-Vlaandere en Suid-Afrika) en in alle lae van ons bevolking ondervind word, vra vir aandag. Marnix-ring mag nie hiervoor sy oë sluit en dit agterweë laat nie.

Die diensorganisasie neem hier sy rol as denkende – en handelende – organisasie op. ’n Goeie onlangse voorbeeld is die positiewe wyse waarop ons gesorg het vir die verspreiding van die skolebaniere met die teks:

“In het belang van uw kind

Spreken wij hier Nederlands!

U toch ook?”

Ek noem ook graag die borde by sportvelde:

“Ik sport”

“Jij sport”

“Wij sporten in het Nederlands”

Ook die simposium aan die Universiteit van Antwerpen oor “Nederlands als geschikte onderwijstaal in het hoger onderwijs” is ’n vertolking van ons doelstellings.

Die vraag is nie of ons die taak wil opneem nie, maar of ons dit kan opneem. Dit is moontlik as ons rolspelers kan motiveer om ook hul kennis en kundigheid in belang van ons doelstellings beskikbaar te stel.

In die toekoms sal ons nog meer insette moet lewer vir die behoud van die funksies van Nederlands en Afrikaans as geskikte taal vir onder andere:

  • Verskaf en uitruil van inligting;
  • Oordra van kennis;
  • Onderwys;
  • Wetenskapsbeoefening;
  • Die regspraak;
  • Uitoefen van bestuurstake en
  • Die gebruik van Nederlands in die politiek en ook op internasionale vlak en by internasionale instellings.

Ook die verdediging van Standaardnederlands vanweë sy fundamentele waarde in die formulering van ons denke, in die verwerwing van kennis en die regte funksionering binne ons gemeenskap.

Taalverskraling (“taalverloedering”) en verengelsing staan in die pad van taaleenheid en groter sosiale samehorigheid in ons Lae Lande en vorm ’n struikelblok in die weg van integrasie, sowel op kulturele as ekonomiese vlak.

In die komende jare sal ons ons nog meer toespits op die aanbied van kultuur aan die breë lae van die bevolking. Die Marnixring doen dit met entoesiasme en deur die toeken van prestige-pryse. Hy sal voortgaan daarmee om aandag te gee aan verdienste uit die verlede, maar ook om jong talent te stimuleer.

Ons funksioneer al vir 49 jaar as ’n a-politiese organisasie. Om voor die hand liggende redes moet ons dit so hou terwyl ons egter steeds die belangrikheid van politieke, ekonomiese en ander maatskaplike ontwikkeling voor oë moet hou. Dat ons lede om talle redes duidelike politieke en lewensbeskoulike standpunte vertolk, hoef nie as negatief beskou te word nie, inteendeel. Binne ons organisasie bly ons ’n ontmoetingsplek waar elkeen met wedersydse respek homself moet wees sonder om veroordeel te word. In dié opsig huldig ons ook die norme en waardes van ons Westerse kultuur. Dit geld ook vir ons statute en reglemente.

Ons staan vir ’n eerbare saak en moet besef dat weerbaarheid ook belangrik is. Maar laat ons in die eerste plek innoverend, kreatief en eietyds met betrekking tot die toekoms wees.

3 Comments

  1. […] post Die Marnixring – ‘n diensteorganisasie soos geen ander appeared first on […]

  2. Dolf Wieers sê:

    Goeie More,
    Ek het in oktober op die fees van die Marnixring in die kasteel van Alden Biesen in Vlaandere dhr. Danie Langner ontmoet.
    By hierdie geleentheid het hy my sy epos-adres gegee maar daar is blykbaar ‘n probleem.
    My berig aan danie.langnerfak.org.za het geen reaksie gekry so ek dink dis nie die regte adres nie.
    Kan julle my sy regte epos adres gee asseblief.
    Baie Dankie
    Dolf Wieers
    Dolf@wieers.com

  3. Chrisna Nel sê:

    Goeiedag Dolf Wieers

    Danie Langner se adres is: danielangner@fak.org.za. Alternatiewelik kan jy skryf na samantha@fak.org.za

    Groete

    FAK-span

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!