Unforgettable – Jannie Moolman en Corlea Botha
November 20, 2018
Sous – Snotkop
November 20, 2018

Te midde van al die vertaalde gemors wat in die 1970’s in die keelgate van luisteraars van Afrikaanse musiek afgedruk is, het ’n neiging wat Afrikaanse musiek in ’n nuwe rigting sou stuur en as die begin van die luisterliedjie-beweging beskou kon word, sy kop uitgesteek.

Daar was destyds heelwat Afrikaanse gedigte wat getoonset is, en sommige daarvan, soos “Toe maar die donker man” van Laurika Rauch (geskryf deur Ingrid Jonker), “My nooi is in ’n nartjie” van Jan de Wet (geskryf deur DJ Opperman) en “Wys my die plek” van Jannie du Toit en “’n Handvol gruis” van Marlene (albei geskryf deur C Louis Leipoldt) het groot treffers geword.

Chris Chameleon het ook groot sukses met twee albums waarop toonsettings van Ingrid Jonker voorgekom het, behaal, maar sedertdien was daar nog nie weer iets soortgelyks in Afrikaans nie. Dit het egter nou verander. Leon Gropp het aanvanklik deel gevorm van die seunspopgroep Hi-5 en hy was ook ’n lid van die kitaarduo CH2 en die kontemporêre Christelike orkes (gospel is ’n heeltemal ander musiekgenre) Vertikaal, saam met Jattie de Beer en Zander van der Westhuizen. Nou het hy egter sy eerste solo-album, Rooidag, vrygestel, en dié album bevat niks anders as toonsettings van gedigte van NP van Wyk Louw nie.

Met die titelsnit, wat heel eerste op die CD voorkom, besef jy al dat hierdie album iets besonders is. CH2 het al ’n aantal toekennings gewen en daarom kan ’n mens die feit dat die kitaarspel op dié album uitsonderlik sal wees, as vanselfsprekend aanvaar. Dieselfde geld die lirieke; Van Wyk Louw was immers ’n legendariese digter. Die gedig is kort en die snit is meer as vier minute lank, maar ’n mens raak nooit verveeld nie. Die tweede snit op die album is “Ons liefde is ’n uur se ydelheid”, en dit is opvallend dat liefde op ’n minder sentimentele manier beskryf word. Daar is vier duette op die album, almal saam met kunstenaars wie se musiek self van hoogstaande gehalte is. Die eerste hiervan is “Kom vannag in my drome”, waarin Anna Davel saam met hom sing. Dit is een van die hoogtepunte vanaf die album.

“Die speelman” het ’n baie lekker jazz-ritme en is seker een van die bes verwerkte snitte op die album. Christiaan Baartman het homself ook al as sanger en liedjieskrywer gevestig en hy sing saam met Leon op “Daar is geen word”. Christiaan het ook agter die skerms op die album gewerk; die album is in Christiaan se ateljee opgeneem en hy was ook by die redigering betrokke. Op “Voordag” kan die stem van Richard van der Westhuizen gehoor word, maar hy praat op hierdie snit eerder as om te sing. Coenie de Villiers sing saam met Leon op “En nou dat ons gaan”, een van die hoogtepunte van die album. Die kitaarspel op “Miskien ook sal ons sterwe” is iets besonders; soos wat ’n mens kan verwag. Die laaste snit op die album, “Gebed”, is ’n hoogtepunt, veral as gevolg van die gestroopte musikale verwerking.

As jy op soek is na ’n album wat op die kommersiële mark gemik is en wat vol radiotreffers is, gaan jy dit nie hier kry nie. Leon het bewys dat hy tot veel beter in staat is as die musiek wat hy gemaak het toe hy deel van Hi-5 was en dat sy musiek eerder gemik is op dié wat op soek is na musiek met inhoud. Rooidag is meer as net ’n album; dit is ook ’n verhoogproduksie wat baie goeie resensies op kunstefeeste gekry het en volgens Leon was dit ’n hartsprojek, aangesien Van Wyk Louw se intellektuele nalatenskap vandag nog relevant bly. Dit kan sterk aanbeveel word vir diegene wat op soek is na musiek wat die toets van die tyd sal deurstaan.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!