Alles – Riaan Grobler
November 20, 2018
Die onverkrygbare
Desember 5, 2018

♫De la Rey, De la Rey; sal jy die Boere kom lei?♫, sing ons nou al tien jaar lank, maar wie presies was De la Rey?

Jacobus Herculaas de la Rey is op 22 Oktober 1847 in Winburg in die Vrystaat gebore. Hy het bekendheid verwerf as een van die dapperste generaals tydens die Anglo-Boereoorlog wat van 1899 tot 1902 geduur het. Hy is ook beskou as een van die leiersfigure in Afrikaner-nasionalisme.

De la Rey en sy familie se plaas in die Vrystaat is tydens die slag van Boomplaats geannekseer en hulle het verhuis na die Lichtenburg-omgewing in die destydse Wes-Transvaal, vandag Noordwes.

Hoewel De la Rey ’n leiersfiguur tydens die oorlog was, was hy tot die laaste daarteen gekant. Hy is as ’n lafaard beskou , maar tydens ’n Volksraadsvergadering het hy gesê as die tyd vir oorlog sou kom, hy sou veg nadat dié wat daaroor gekoukus het, moed opgegee het. Dit het inderdaad gebeur.

Tydens die Anglo-Boereoorlog was De la Rey by verskeie veldslae betrokke. Die eerste hiervan was by Kraaipan op 12 Oktober 1899, net nadat die oorlog uitgebreek het en hy as een van genl. Piet Cronjé se veldgeneraals aangewys is. De la Rey het hom die heel tyd vir vrede beywer; die Britte het reeds in Maart 1901 voorstelle vir vrede gemaak, maar die latere Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika, genl. Louis Botha, het dit verwerp. Botha en De la Rey was op daardie stadium vyande, maar het later vriende geword en De la Rey het later al hoe meer vertroue in die Britte se vredesvoorstelle gekry. Die oorlog het tot ’n einde gekom toe die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 onderteken is.

Na die oorlog het De la Rey saam met Christiaan de Wet en Louis Botha na Europa gereis om geld in te samel vir die boere wat deur die verskroeideaarde-beleid geraak is. Hul hoofoogmerk is om met die Britse regering te vergader om die skadevergoeding te verhoog. In 1907 is De la Rey tot die Transvaalse Parlement verkies en hy was een van die afgevaardigdes na die Nasionale Konvensie wat gelei het tot die stigting van die Unie van Suid-Afrika in 1910.

Op 15 September 1914 het genl. Christiaan Beyers, ’n ou kameraad van De la Rey, sy motor gestuur om De la Rey van Johannesburg na Pretoria te bring om met hom te vergader. Hulle was op pad na die militêre kamp in Potchefstroom toe hulle verskeie polisie-padblokkades teëgekom het. Dié padblokkades is opgestel om die berugte Foster-bende te vang. De la Rey en Beyers het geweier om by dié padblokkades stil te hou, en by Langlaagte het die polisie op die motor gevuur en ’n koeël het De la Rey noodlottig getref. Sy laaste woorde aan Beyers was: “Dit is raak, Chrisjan.”

De la Rey se nalatenskap is veral in die Noordwes-provinsie duidelik sigbaar. Benewens die dorp Delareyville wat na hom vernoem is, is daar ’n lewensgroot standbeeld van hom op sy perd voor die stadsaal in Lichtenburg.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!