Jan Pierewiet
Desember 5, 2018
Hierdie hart brand liefde – Elizma Theron
Desember 11, 2018

In 1998 het ’n paar studentevriende onder leiding van Charles Smidt bymekaargekom en ’n orkes gestig wat, soos Charles dit gestel het, daarop gemik was om protes aan te teken teen musiek van kunstenaars soos Patricia Lewis en Jurie Els, wat die Afrikaanse musiektoneel op daardie stadium oorheers het.

Nou is dit 20 jaar later en ter viering van hierdie mylpaal het Beeskraal hul versamelalbum, 20 jaar in die kraal, uitgereik. Dit bevat nie net hul grootste treffers van die afgelope twee dekades nie, maar ook ’n paar nuwe snitte. Die eerste snit op die album is “Roots en boots”, die titelsnit van hul album wat in 2008 uitgereik is. Soos die meeste van die snitte op die album is dit een van Charles se oorspronklike komposisies. Die volgende snit is ’n uitsondering. Daar is min Afrikaanse groepe wat eerlikwaar kan sê dat hulle nog nooit bestaande melodieë met Afrikaanse woorde opgeneem het nie en Beeskraal is geen uitsondering nie. “Heel somer lank” is geskryf op die wysie van Kid Rock se treffer “All summer long”, maar Beeskraal het die storie hul eie gemaak en diegene wat die Forrest Gump-geïnspireerde musiekvideo gesien het, sal dit nie vergeet nie. Dit is buitendien een van die beste Afrikaanse vertalings (by gebrek aan ’n beter woord) wat in ’n lang tyd verskyn het. Beeskraal het ook omtrent drie jaar gelede deelgeneem aan ’n projek saam met die FAK waarin Afrikaanse volksliedjies nuut opgeneem is. “Blink vosperd” was een daarvan, maar Charles het ook ’n bietjie moderne woorde bygeskryf en die vermenging van rock en Boeremusiek is tipies van Beeskraal omdat dit die tipe musiek is waarmee hulle bekendheid verwerf het. “As die holidays oor is” is een van Charles se oorspronklike komposisies, en weer eens is dit ’n kombinasie van rock en Boeremusiek. Charles beskou Anton Goosen as een van sy rolmodelle en daarom is dit geen verrassing dat Beeskraal ’n keurspel van Anton se liedjies ingesluit het nie. “Rabbedoe”, “Blommetjie gedenk aan my” en “Mari van Okakanjaberg” was treffers vir Anton as sanger terwyl hy “Byeboerwa” en “Harlekyn” onderskeidelik vir Carike Keuzenkamp en Sonja Herholdt geskryf het. “Duisend ure” was nie net ’n treffer vir Beeskraal nie, maar ook vir Bobby van Jaarsveld.

Die kitaarwerk op “Los uit” is uitstekend; dit is een van die lekkerste rock-snitte op die album.“Strate van Pretoria” is een van Beeskraal se bekendste treffers, maar dit is nuut opgeneem vir hierdie versameling. Anders as wat op die omslag aangedui word, is “Vleisbraai” nie ’n oorspronklike komposisie nie. Dit is op die wysie van Zac Brown Band se treffer “Chicken fried”, maar soos in die geval van “Heelsomer lank” is dit ’n uitstekende Afrikaanse weergawe van ’n bestaande liedjie. Die volgende snit is nog een; “Plaasdorp”, op die wysie van Tom Jones se treffer “Green green grass of home” en weer eens het hulle dit hul eie gemaak. “Lyfie” is nog ’n lekker snit wat rock en Boeremusiek kombineer. “Sonskyn Elvis” was die titelsnit van hul album wat in 2002 vrygestel is en vertel die verhaal van ’n Elvis Presley-liefhebber in Suid-Afrika wat net soos sy held optree. “Ouvrou-rock” was nog een van Beeskraal se vroeë treffers. “Zol”, wat op hul eerste album voorgekom het, was destyds dalk omstrede, maar tye het onlangs verander. Hoe ook al, dit is een van die lekkerste snitte op die album. “Daisy” is een van daardie snitte waarvan jy baie hou, of wat jy nie kan verdra nie. “Donkerpad”is ’n komposisie van Valiant Swart, en Beeskraal se opname is net so goed soos die oorspronklike een. Soos jy ouer word, sal die woorde van “Onthou jy” al hoe meer sin maak. Die laaste snit op die album is die titelsnit vanaf hul eerste album, “Huis toe”; en ’n mens kon toe al agterkom dat hulle iets besonders was.

Dis maklik om te verstaan hoekom Beeskraal na 20 jaar steeds op die musiektoneel is; hul musiek is ’n unieke kombinasie wat aanvanklik vir sommige mense effens vreemd geklink het, maar tog die toets van die tyd deurstaan het. As jy moeg is vir die kommersiële snert wat gereeld oor die radio gespeel word en op soek is na ordentlike rock wat nogtans toeganklik vir ’n groot gehoor is, sal jy van hierdie album hou.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!