Hierdie hart brand liefde – Elizma Theron
Desember 11, 2018
Net soos die sneeu – Hugo Nieuwoudt
Desember 11, 2018

Dit gebeur nie elke dag dat ’n karakter wat deur ’n akteur vertolk word, só gewild word dat ’n hele loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf daarop gebou kan word nie.

Dit is egter presies wat Sorina Erasmus reggekry het. Sy het as die Flooze in 7de Laan onder die publiek se aandag gekom en hoewel sy ook al as sangeres onder haar eie naam sukses behaal het, het die Flooze onlosmaaklik deel van haar identiteit geword; tot só ’n mate dat radio-omroepers van Sorina die Flooze van 7de Laan begin praat het, asof Sorina nie ’n mens in eie reg is nie.

Nadat Sorina ’n paar jaar gelede haar album Hoofletters, met niks anders as ernstige snitte daarop, vrygestel het nie, het sy ook nou die Flooze se eerste volledige album Die bliengmasjien, uitgereik. Sy het vir eers haar rooi leerbaadjie in die kas gehang en verruil vir ’n blink nuwe uitrusting.

Sorina het die woorde en musiek vir “VIP”, die eerste snit, geskryf en die eerste ding wat ’n mens hoor, is die geluid van ’n motorfiets. Op hierdie snit word daar gesing en gekletsrym, en dit is net die ding om ’n partytjie aan die gang te kry. “Ninja” het ’n effens Oosterse klank, en dis duidelik dat dit deur Oosterse gevegskuns geïnspireer is. Die partytjie-tema word met die titelsnit, wat sy ook self geskryf het, voortgesit. Dirk van der Westhuizen sing “Die tennis tune” saam met die Flooze, en ’n mens moet maar self besluit of jy daarvan hou of nie. Dié wat die heel tyd in die gimnasium oefen, sal van “Die gyn-minator” hou.

“Hotter as botter” sal die dansvloere vol kry, maar dit het niks om die lyf nie. “Brille en pille” is seker een van die beter snitte op die album, en sy spot lekker met die ouderdom. “Voortrekker Flooze” is ’n lekker gespot met die musiek van die Briels, maar later trek sy los met ’n vinnige ritme. Dit is een van die snitte waarvoor ’n mens maar lekker kan lag. “Hoezit my tjomma” was die snit waarmee Sorina haar naam as die Flooze gemaak het. Die laaste snit op die album is ’n nuwe weergawe van hierdie treffer.

Op die ou einde moet jy maar besluit of hierdie album vir jou snaaks is of nie. Daar is net nege snitte daarop en die album is net meer as ’n halfuur lank. As jy daarvan hou, sal jy teleurgesteld wees dat dit nie langer is nie en dat sy nie nog meer snitte ingesluit het nie. Wat hierdie album wel bewys, is dat ’n mens musiek met ’n humoristiese inslag kan maak sonder om één vloekwoord te gebruik. Hoewel die album nie noodwendig vir almal snaaks sal wees nie, is dit ’n belangrike pluspunt.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!