Hierdie hart brand liefde – Elizma Theron

20 jaar in die kraal – Beeskraal
Desember 11, 2018
Die Bliengmasjien – Flooze
Desember 11, 2018

Daar is min Afrikaanse sangeresse wat begin het deur modelwerk te doen, later ook toneelgespeel het en tussenin ook ’n suksesvolle sangloopbaan van stapel gestuur het.

Dit is presieswat Elizma Theron reggekry het. Sy het in 2005 haar debuut as sangeres gemaak en met die rolprent Jakhalsdans gewys dat sy ook ’n goeie aktrise kan wees, aangesien sy glad nie in dié rolprent gesing het nie. Nadat sy met haar vorige album hoofsaaklik country-musiek gesing het, het sy met haar jongste album, Hierdie hart brand liefde, teruggekeer na dit wat haar in die eerste plek gewild gemaak het, naamlik Afrikaanse musiek.

Die eerste enkelsnit, “Marilyn Monroe”, was ’n treffer, en die boodskap is dat elke vrou iets moois in haar het. Daar is ’n pragtige Cadillac in die musiekvideo en dit maak dié liedjie net nog meer besonders. Die volgende snit is dalk ’n bietjie meer ernstig; Neil Schoombee het die Afrikaanse woorde vir “Roep my” geskryf en hierin sing sy van die waarde van ware vriende wat altyd daar is wanneer ’n mens iemand nodig het. “Mal liefde” is nog ’n hoogtepunt op die album, en hopelik sal dit een van die treffers vanaf die album word. Die titelsnit behoort ’n baie groot treffer te word; Elizma vertel dat veral kinders dit baie tydens haar vertonings geniet. Daarom móét dit ’n enkelsnit wees. “Waterval” is nog ’n snit wat Elizma saam met Neil Schoombee geskryf het. “Jou liefde’t my gebyt” is ’n lekker tong-in-die-kies snit wat baie gewild behoort te word. “Jy voltooi my” is ’n lekker komposisie van Neil Schoombee en Don Kelly wat ’n treffer móét word; dit het ’n lekker wysie en ritme wat die dansvloere gou vol sal kry. Met “Dit vat net een” bewys Elizma dat sy ook rustiger snitte kan sing.

“Sarajevo cello”is ’n Afrikaanse snit al laat die titel ’n mens wonder. Elizma het dit saam met Neil Schoombee geskryf en hoewel ’n mens dalk nie dadelik daaraan sal dink as ’n moontlike enkelsnit nie, verdien dit radiolugtyd omdat dit ’n dieper kant van haar wys. Elizma wys met hierdie snit sonder twyfel wat in haar steek en hopelik sal haar kritici kennis van hierdie snit neem. “It’s your turn” is die enigste Engelse snit op die album, en dis goed dat dit ’n oorspronklike komposisie is. In “Ek kies dit” weer sing sy oor die vreugde van ouerskap. Elizma het die laaste snit, “Wasem van my asem”, aan haar man opgedra; die lirieke is, volgens haar, outobiografies van aard.

Dit het lank geduur voordat Elizma weer ’n Afrikaanse album vrygestel het, maar dit was absoluut die moeite werd, want dit is ongetwyfeld haar beste album tot dusver.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!