Volgende stap – Joe Foster
Desember 11, 2018
Dankie – Mariska
Desember 12, 2018

Die afgelope vyf jaar het die reeks Krone-konserte groot byval by die publiek gevind, veral omdat dit die gehoor laat saamsing het en meer was as net ’n musiekfees met optredes deur verskeie kunstenaars.

Die vyfde konsert is onlangs in Kaapstad en, vir die eerste keer, in Pretoria, gehou, maar voor die tyd het die kunstenaars opnames van die verskillende keurspele in die ateljee opgeneem, met die gevolg dat die album nie soos ’n konsertopname klink nie.

Daar is vir omtrent alle musiekliefhebbers voorsiening gemaak, soos wat ’n mens dadelik met die peningskeurspel kan agterkom. Dit begin met Michael Jackson se “Black of white”, gesing deur Nicholis Louw, Ray Dylan en Kurt Darren, en sluit ook snitte in soos “Voulez-vous” van ABBA (gesing deur Liezel Pieters, Nadine en Elizma Theron), “When love takes over” van David Guetta en Kelly Rowland (gesing deur Nadine) en “Moves like Jagger” van Maroon 5 (gesing deur Kurt Darren, Ray Dylan, Nicholis Louw en Snotkop). Die volgende snit is ’n naweeksokkie-keurspel, met “Rooi rok bokkie” van die Campbells (gesing deur Snotkop), Nicholis Louw wat sy eie treffer, “My hart is aan die brand”, sing, Kurt Darren wat ook sy eie treffer sing, naamlik “Sê net ja”, en “Naweeklyfie” van Jay en Lianie, gesing deur Ray Dylan en Elizma Theron.

Die diskotreffers van die 1970’s kom voor in die “Boogie Medley”, met onder meer “I will survive” van Gloria Gaynor (gesing deur Liezel Pieters), asook ’n paar wat Liezel saam met Elizma Theron en Nadine sing, soos “We are family” van Sister Sledge, “Hot stuff” van Donna Summer, “Tragedy” van die Bee Gees en “Blame it on the boogie” van die Jacksons. Die “Kom-’n-bietjie-hier-keurspel” is ’n kombinasie van ou bekende Afrikaanse liedjies, soos “Daar kom die Alibama” (gesing deur Kurt Darren), “January, February, March” en Piet Pompies se treffer “Kaboemielies” (albei gesing deur Snotkop) en moderne liedjies soos Kurt Darren se treffer “Kom ’n bietjie hier”, wat hy self sing, en Emo Adams se “Gums kawielie wams”, gesing deur Snotkop.

Daar is ander kunstenaars wat op die akoestiese rock-keurspel, bekend as “More than words” (na aanleiding van Extreme se treffer) sing, soos Brendan Peyper op “More than words”, Elandré op Don McLean se treffer “Vincent en Refentse”, saam met Nadine op “A great big world” en Christina Aguilera se treffer “Say something”.

Die nostalgiese Afrikaanse treffers bly nie agterweë nie. Onder die liedjies op hierdie keurspel is “Haai Casanova” van Glenys Lynne (gesing deur Liezel Pieters, al het Nadine dit ook al opgeneem), “Ballade vir ’n enkeling” van Richard van der Westhuizen wat deur Ricus Nel gesing word, en Manie Jackson se eerste twee bydraes, “Nicolene” van Gé Korsten, wat hy ook al opgeneem het en “Ruiter van die windjie”, wat vir Bles Bridges ’n treffer was.

Nog ’n paar moderne treffers kom volgende aan die beurt, soos “I lived” van One Republic (gesing deur Brendan Peyper), “Castle on the hill” van Ed Sheeran (gesing deur Nicholis Louw), “Hold back the river” van James Bay (gesing deur Ray Dylan) en “Geronimo” van Sheppard, wat deur Kurt Darren gesing word. Die “Call me”-keurspel bevat treffers deur vroulike kunstenaars, soos “When the heartache is over” van Tina Turner (gesing deur Nadine), “Call me maybe” van Carly Rae Jepsen (gesing deur Elizma Theron) en “Hot ’n cold” van Katy Perry (gesing deur Liezel Pieters).

Select Musiek is vanjaar dertig jaar oud en ter viering daarvan is ’n keurspel van hul grootste treffers deur die jare ingesluit; in die meeste gevalle is dit deur die oorspronklike kunstenaars soos “My hele hart” (Romanz), “Die hemel weet” (Manie Jackson), “Cool soos Koos Kombuis” (Snotkop), “Jessica” (Ray Dylan) en “Kaptein” (Kurt Darren).

Die tweede CD bevat tien keurspele, wat wissel van “Anything for love”, met treffers soos “I’d do anything for love” van Meat Loaf, gesing deur Nicholis Louw en “Music” van John Miles, gesing deur ’n groep met die naam Serenade. Die “Suikerbossie-keurspel” bestaan uit tradisionele Afrikaanse liedjies soos “Suikerbossie”, “Bobbejaanklim die berg” en “Daar kom die wa” (gesing deur Snotkop), asook “Vat jou goed en trek Ferreira” en “Tannie met die rooi rokkie”, albei gesing deur Brendan Peyer. Nicholis, Brendan, Elandré, Ray Dylan en Ricus Nel span saam op die “Sha-na-na-keurspel”, wat liedjies soos “Marvin gaye” van Charlie Puth en Meghan Trainor, “The longest time” van Billy Joel, “That’ll be the day” van Buddy Holly (Brendan het immers onlangs die titelrol vertolk in ’n musiekblyspel oor Buddy Holly se lewe) en “Green door” van Shakin’ Stevens. Die “River of dreams-keurspel” bevat country-liedjies soos “The gambler” van Kenny Rogers en “Let your love flow” van The Bellamy Brothers (gesing deur Ricus Nel) en “Jambalaya” van Hank Williams, gesing deur een van ons land se voorste country-sangeresse, Elizma Theron. Elandré se weergawe van Kid Rock se treffer “All summer long” is die laaste snit van hierdie keurspel.

Die “Liedjie vir jou-keurspel” bevat rustige Afrikaanse liedjies soos “Bly” van Karin Hougaard, gesing deur Liezel Pieters, “Sally Williams Nougat” van Jak de Priester, gesing deur Refentse en “Blouberg se strand” van Laurika Rauch, gesing deur Nadine. Diegene wat lief is vir rock-musiek sal die “Rock it-keurspel”, met “Another brick in the wall” van Pink Floyd, “Hold the line” van Toto, “Addicted to love” van Robert Palmer, “Paradise city” van Guns ’n Roses, “Pour some sugar on me” van Def Leppard en “Any way you want it” van Journey (dankie tog iets anders as“Don’t stop believing”!).

Die “Love it-keurspel” bestaan onder meer uit liedjies soos “Love me like you do” van Ellie Goulding, “Hello” van Adele, “The story” van Brandi Carlile en “Closer” van Chainsmokers. Anneli van Rooyen is ’n legende van Afrikaanse musiek en daar word hulde aan haar gebring met treffers soos “Ek lewe”, “Neem my op vlerke”, “Seemeeu”, “Ek glo” en “Halleluja”. Die voorlaaste keurspel bevat net twee liedjies, naamlik “We are the world” van USA for Africa en “Heal the world” van Michael Jackson.

Die Krone 5 Finale Medley bestaan uit treffers deur Select Musiek se kunstenaars, onder meer “Vuil Vanderbijl” (Refentse), “Raak vir my rustig” (Snotkop), “Marilyn Monroe” (Elizma Theron), en “Die lyn” (Elandré).

Hoewel die musiekverwerkings baie goed gedoen is en sommige van ons land se voorste kunstenaars by die konsert betrokke is, voel ’n mens dat ’n CD nie reg laat geskied aan hierdie soort konsert nie, behalwe as ’n mens dalk lang pad ry, die woorde van al die liedjies ken en wil saamsing. Die werklike vertoning is op DVD uitgereik en dit sal meer sin maak om na die vertoning te sit en kyk. Hoe ook al, om ’n Krone-konsert by te woon en die kans te kry om saam met sommige van ons land se beste kunstenaars te sing, moet ’n besondere voorreg wees. Maak solank jou stem warm vir Krone 6!

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!