Die Bliengmasjien – Flooze
Desember 11, 2018
Volgende stap – Joe Foster
Desember 11, 2018

Dit is vanjaar tien jaar sedert Hugo Nieuwoudt vir die eerste keer onder die publiek se aandag gekom het met die vrystelling van sy debuutalbum, Ek wil lewe vir môre.

Die titelsnit was ’n reusetreffer op gemeenskapsradiostasies, maar hy het tot dusver nog nie regtig die verbeelding van groot radiostasies wat landwyd uitsaai, aangegryp nie. Nou is hy terug met sy nuwe album, Netsoos die sneeu, en die vraag is of dinge gaan verander.

Die eerste snit op die album, “Toekomsbladsy”, het goed op ’n paar radiostasies se trefferslyste gevaar. Johan Brits het dié liedjie geskryf en dit gaan oor hoe die seer van enige verhouding uitgevee kan word en daar weer voor begin kan word. Werner Beukes het die album vervaardig en hy het die volgende snit, “Die legende”, geskryf. Dit is nog ’n snit wat ’n treffer behoort te word! Rudi Claase is seker die voorste Afrikaanse liedjieskrywer op die oomblik, en hy was verantwoordelik vir “Oor berge en dale”. Rudi weet hoe om ’n treffer te skryf en hy ken sy mark baie goed. Werner het ook die titelsnit geskryf; dit vertel die verhaal van ’n man wat vashou aan die belofte van sy pa wat gesê het hy sou terugkom van die oorlog af. Hugo is self ’n pa van twee seuns en hy vertel dat dié liedjie vir hom ’n besondere betekenis het. Lianie May sing saam met Hugo op die volgende snit, “Ou gevoelens”; dit is een van die hoogtepunte van die album. Die rolprent War room was onlangs baie gewild, en dit was sekerlik die inspirasie agter Werner Beukes se komposisie “Oorlogkamer”. Mari Bosman is een van die beste opkomende nuwe sangeresse in die Afrikaanse musiekbedryf en haar komposisie, “Vat vas”, kan ’n groot treffer word.

Met “The better man”, ’n komposisie van Werner Beukes, wys Hugo dat hy ook rustiger liedjies kan sing, en dat hy Afrikaans en Engels ewe goed kan sing. Hugo se eie bydrae tot die album is “Bietjie meer as liefde”, en daar is geen rede hoekom dit nie ’n treffer kan word nie. “Trompie” is nie die Anton Goosen-komposisie nie; Michael Lindt het dit geskryf maar dit gaan oor dieselfde karakter en sy bende. As die televisiereeks van die vroeë 1980’s vandag uitgesaai wou word, sou dit ’n gepaste temaliedjie wees en ’n mens hoop dit gaan een van die treffers vanaf die album wees. Die patriotiese snit “Ons Suid-Afrika” is ’n komposisie van Werner Beukes; dis goed dat dit nie ’n liedjie met ’n politieke strekking is nie. Die laaste snit is ’n keurspel wat bestaan uit “Have I told you lately that I love you”, in dieselfde styl as Geraldine, “Footloose” van Kenny Loggins (hy sing ongelukkig die woorde verkeerd), “Some girls” van Racey en “Crazy little thing called love” van Queen.

Hugo is een van daardie kunstenaars wat die potensiaal het om gewild te word, maar dit nog nie heeltemal verwesenlik het nie. Nugter weet hoekom, want sy musiek val lekker op die oor, hy werk saam met goeie liedjieskrywers en hy maak hom nie skuldig aan omstrede of eksplisiete lirieke nie. Hopelik sal hy met hierdie album ’n deurbraak op die belangrikste landwye radiostasies kan maak.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!