Net soos die sneeu – Hugo Nieuwoudt
Desember 11, 2018
Krone 5
Desember 11, 2018

Toe die sanggroep dam in 2011 gestig is, was Joe Foster een van die stigterslede.

Nadat hulle hul tweede album, Vir jou gemaak, vrygestel het, het Joe egter besluit om sy eie ding te doen, en hy het in 2014 groot sukses met die temaliedjie van die rolprent “Pad na jou hart” behaal. Joe se eerste soloalbum, Hartklank, het gevolg, en verlede jaar is dit opnuut uitgereik met ’n paar bonussnitte wat daarby gevoeg is.

Nou is Joe terugop die musiektoneel met sy jongste album Volgende stap. Soos voorheen, het Joe eers ’n enkelsnit of twee uitgereik voordat die album vrygestel is, maar meer later hieroor. Die titelsnit is die huidige enkelsnit en ’n mens kom agter dat Joe ’n effens ander rigting met hierdie liedjie ingeslaan het. Joe het die woorde en musiek geskryf en dit het ’n effens meer elektroniese klank as van sy vorige musiek. Ten spyte daarvan, of dalk as gevolg daarvan, is dit besig om ’n treffer te word. “Look away” was die eerste Engelse snit wat Joe opgeneem het; hy het dit saam met Fred den Hartog geskryf en dit het radiolugtyd op omtrent elke radiostasie in die land gekry. “Vrede maak” was die eerste Afrikaanse snit wat ’n enkelsnit geword het. Joe het weereens die woorde en musiek vir hierdie snit geskryf; die boodskap is dat mense met mekaar moet versoen. Die volgende snit, “Sal jy my nog wil hê?”, is nog een wat hy self geskryf het, en hierin sing hy van die twyfel wat daar soms bestaan onder geliefdes wat moeilike omstandighede moet trotseer. “One body” is ’n bewys dat hy ewe goed in Engels as in Afrikaans kan skryf en sing. Op “Dis wie ek is” sing hy van die stryd wat mense het om hulself te bly te midde van mense wat ander mense die heel tyd veroordeel. Op die nuwe weergawe van Hartklank is ’n duet tussen Joe en Johan C Venter, getiteld “Hoe moes ek weet?”, ingesluit. Hierdie keer het hulle weer saamgespan vir ’n duet, naamlik “Voel my pols”. Dis tyd dat Johan ook weer ’n nuwe album vrystel. “As die mure val”, is ’n hoogtepunt; hierin sing hy van dinge wat verkeerd loop in die lewe. “Dans” is ’n lekker snit, maar net effens kort. “Genoeg” is ’n pragtige klavierballade; Joe het gereeld tydens Adam se vertonings klavier gespeel toe hy nog deel van die groep was en hy weet wat hy doen. “Let me love you” is nog ’n oorspronklike Engelse snit wat Joe self geskryf het. “Liefde is ’n werkwoord” is nog ’n goeie snit wat net effens kort is. “Soos net ’n man kan” is die laaste snit op die album, en dis eintlik ’n jammerte dat dit eers aan die einde van die album voorkom.

Die afgelope tyd het Joe hom as ’n uiters gewilde en veelsydige kunstenaar gevestig, nie net as deel van Adam nie maar ook as solokunstenaar; en met hierdie album behoort sy gewildheid net verder toe te neem. Hoewel daar dalk nie ’n snit is wat kop en skouers bo die res uitstaan soos “Pad na jou hart” nie, is daar genoeg goeie snitte om dié album die moeite werd te maak.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!