Skielik is jy vry – Wynand Strydom
Desember 12, 2018
Frank Opperman sit en leer woorde vir ‘n lewe
Desember 14, 2018

In 1980 het die geskiedenis van musiek onherroeplik verander toe “Rapper’s delight” van Sugarhill Gang die eerste groot internasionale hip hop-treffer geword het.

Dit het ’n rukkie geduur voordat Suid-Afrikaanse hip hop-kunstenaars op die toneel verskyn het, en die eerste groep wat dié musiekvorm in Afrikaans aangedurf het, was Prophets of da city. Nou is daar ’n nuwe kunstenaar wat dieselfde rigting inslaan, naamlik Earl Swartz van Port Elizabeth. Hoewel ’n kunstenaar soos Snotkop al baie gedoen het om rymklets (rap) in Afrikaans gewild te maak, is Early B een van die eerstes wat net daarop konsentreer. Sy debuutalbum, met die gepaste titel Aangename kennis, is onlangs vrygestel.

Die album begin met ’n inleiding wat op Psalm 121 gebaseer is, en die eerste volledige snit is die eerste enkelsnit “Ben Ten”, wat gaan oor ’n vrou wat op soek is na ’n jonger man. “Filters” is dalk een van die beter snitte op die album, al kom die deurmekaar taalgebruik wat ’n kenmerk van hip hop in Afrikaans is, hierin voor. Dieselfde soort taalgebruik kan ook in “Blesser”, die kortste snit op die album gehoor word. Hierdie snit is ’n bewys dat hip hop nie vir almal is nie. Jack Parow, wie se taalgebruik nie radiovriendelik is nie, kan saam met Early B op “Potte” gehoor word, maar gelukkig vloek hy nie op hierdie snit nie. Weer eens is dit ’n aangeleerde smaak. “Bid vir pouse” is heel gepas, want as jy daarna luister, gaan jy beslis bid vir pouse. Deesdae is iemand wat net vriende wil wees, maar nie in ’n verhouding betrokke wil raak nie, kwansuis in die “friend zone”, en dit is presies die onderwerp van die snit “Friendzone”. Early B is nie bang om oor moeilike onderwerpe te praat nie, soos “Duk (sic) vir drugs” bewys. Baie mense sal hulle met die woorde van “As ek geweet het”, wat Emo Adams saam met hom sing, kan identifiseer, want dit gaan oor verkeerde lewensbesluite. Die reggae-ritme maak dit ook ’n lekker snit om na te luister. “Jy maak eyes” is heeltemal te lank.

“Plat badge” gaan oor vroue wat net die beste in die lewe gewoond is en wat uiters veeleisend is. Nog ’n voorbeeld van ’n snit waarop Early B reguit praat, is “Watch wat julle praat”. Dieselfde met “Amen”, wat gaan oor mense wat alles wat hulle hoor, sommer net glo. “In pas” is nog ’n snit wat jou laat dink; hierin praat hy van mense wat net wil inpas eerder as om hul eie ding in die lewe te doen. As daar een snit is wat ’n treffer behoort te word, is dit “Ken jou waarde”, waarop Adam saam met hom sing. Op die laaste snit, “P.E.” praat hy oor Port Elizabeth, waar hy vandaan kom.

Op die ou einde sal jou mening oor hierdie album van jou musieksmaak afhang. As jy ontvanklik is vir ’n nuwe klank in Afrikaans, en dalk ’n liefhebber van hip hop is, sal jy dit geniet. As jy egter nie van hierdie tipe musiek hou nie, kry liewer iets anders om na te luister.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!