Krone 5
Desember 11, 2018
Skielik is jy vry – Wynand Strydom
Desember 12, 2018

Dit duur soms jare voordat ’n kunstenaar ’n enkelsnit met ’n kommersiële debuutalbum opvolg, en dit is presies wat Mariska Reynders, wat onder haar naam sing en reeds in 2011 ’n demo-album opgeneem het, gedoen het.

Mariska is al van kleins af lief vir musiek en het al sedert die vrystelling van haar demo-album op verskeie televisieprogramme, onder meer DKNT,Jukebox, Sunrise en Hectic Nine-9opgetree.

Nou is haar kommersiële debuutalbum, Dankie, eindelik beskikbaar en sy is gereed om haar merk in die musiekbedryf te maak. Dit gebeur nie gereeld dat ’n relatiewe nuweling saam met groot liedjieskrywers werk nie, maar sy het dit sommer van die begin af reggekry. Johan Oberholzer was die komponis van die titelsnit en eerste enkelsnit van die album, naamlik “Dankie”. Nie net het Johan die liedjie geskryf nie; sy het ook saam met die musiekvervaardiger Murray Lubbe, wie se pa Andy die feesdirekteur van Innibos is, gewerk. Sommer van die begin af kom ’n mens agter dat sy ’n baie goeie stemkwaliteit het; iets wat ’n mens nie sal verbaas as jy hoor dat sy ook al ’n Enya-huldeblyk opgeneem het nie. Rudi Claase het al vir verskeie sangeresse liedjies geskryf, onder meer Juanita du Plessis, Andriëtte, Rina Hugo en Cordelia. “Ek speel ons liedjie” kom ook uit Rudi se pen, en dit kan nie anders as om ’n treffer te word nie. Mariska beskou “Woestyn”, geskryf deur Vaughan Gardiner, as ’n gunsteling op die album en dis maklik om te verstaan hoekom want dit is regtig ’n uitstekende liedjie. Johan Oberholzer het “Exodus” gekomponeer; dit kan ook dalk ’n treffer word. “Versekerseker” (sjoe!) is die tweede enkelsnit vanaf die album; Vaughan Gardiner se klavierspel op hierdie snit is uitsonderlik. Hierdie snit gaan haar in die musiekbedryf vestig, en dit lyk asof die belangrikste radiostasies dit reeds by hul speellyste gevoeg het.

“Van voor af begin” is nog ’n moontlike treffersnit; dit is nog ’n komposisie van Vaughan Gardiner. Nog ’n snit waarop Vaughan Gardiner se klavierspel ’n hoogtepunt is, is “Hardloop weg saam my”. Dis net jammer van die taalfout in die titel. Die lirieke van “Hoofrol”, geskryf deur Johan Oberholzer, is iets besonders; dit beeld ’n rolprent uit.  “Seisoene” is nog ’n baie goeie snit wat deur Rudi Claase geskryf is. Daar is net een snit wat nie ’n orspronklike komposisie is nie, naamlik “Ek gee jou my hart”. Rudi Claase het die Afrikaanse woorde geskryf vir Margaret Berger se treffer “I feed you my love” wat Noorweë se inskrywing vir die Eurovision-liedjiekompetisie in 2013 was. Die laaste snit, “Vrede”, is ook deur Rudi Claase geskryf; dit is uitgereik net voordat die album vrygestel is. Dit is ’n pragtige snit wat van voor af verdien om gewild te word.

Daar is elke jaar ’n aantal nuwe kunstenaars wat op die Afrikaanse musiektoneel verskyn en nie almal is noodwendig ewe talentvol nie. Hoewel Mariska dalk nie heeltemal ’n nuweling is nie, is hierdie album die eerste geleentheid wat die meeste musiekliefhebbers kry om aan haar blootgestel te word. Sy is ongetwyfeld een van die beste kunstenaars wat die laaste tyd tot die bedryf toegetree het en sy behoort baie gewild onder die publiek te word.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!