Dankie – Mariska
Desember 12, 2018
Aangename kennis – Early B
Desember 12, 2018

Deur die jare moes Afrikaanse musiek onder geweldige kritiek deurloop as gevolg van bestaande wysies met Afrikaanse lirieke, oordrewe sentimentele lirieke of ’n kombinasie van die twee, wat net as onluisterbaar beskou kan word.

In 1979 het ’n subredakteur van ’n koerant in Pretoria skielik as ’n liedjieskrywer en sanger op die toneel verskyn en sedertdien was Afrikaanse musiek nooit weer dieselfde nie, hoewel nie almal die nuwe rigting wou inslaan nie. Koos du Plessis het drie albums opgeneem en sy liedjies is deur groot name in die musiekbedryf opgeneem, maar hy is in die ouderdom van 38 jaar in ’n motorongeluk oorlede.

Verskeie kunstenaars, onder meer Theuns Jordaan, Piet Smit en Johannes Kerkorrel, het al huldeblyk-albums met Koos se musiek opgeneem en die mees onlangse kunstenaar wat dit gedoen het, is Wynand Strydom. Wynand het in 2005 al die album Koos wie? met komposisies van Koos du Plessis, Koos Kombuis en Koos van der Merwe vrygestel, maar hierdie keer het hy op Koos du Plessis se musiek gekonsentreer. Wynand het dié album onder meer ter nagedagtenis aan sy pa opgeneem.

Die album begin met die titelsnit, seker van die mees neerdrukkende lirieke wat Koos ooit geskryf het, maar dit verwoord die gevoelens van iemand wat deur mense teleurgestel is en wat net in afsondering wil lewe, baie goed. “Gebed” is natuurlik een van Koos se bekendste komposisies en min mense sal glo dat hy dit nooit self opgeneem het nie; die noodlot vra egter nie of jy ’n liedjie opgeneem het, of dalk ’n ander doel in die lewe bereik het nie. Die feit dat dit nie by die Liedboek van die Kerk ingesluit is nie, is ’n skande, maar dit is intussen ook as amptelike kerklied aanvaar. “Kinders van die wind” het geen bekendstelling nodig nie; dit was die begin van ’n nuwe era vir Afrikaanse musiek. Wynand het dit in dieselfde styl as Koos gesing, en ’n mens moet mooi luister om te hoor dat dit nie Koos se stem is nie. “Jantjie van die berge” is weer radikaal anders; Wynand se weergawe is baie vroliker as Koos se oorspronklike een. “Sprokie vir ’n stadskind” is een van Koos se bekendste komposisies, en hoewel dit al gereeld opgeneem is, is Wynand se weergawe baie goed. “Kouevuur” was destyds een van Koos se mees omstrede komposisies omdat hy nie gehuiwer het om alkoholisme kaalvuis aan te pak nie. “Pretoria” is een van die meer vrolike komposisies op die album en Wynand se weergawe is baie goed. “Groet sonder woorde” is die presiese teenoorgestelde en hierin word die gevoelens van iemand wat ’n verhouding of huwelik verbreek, baie goed verwoord. Dit is dalk een van die hartseerste liedjies op die album. Diegene wat die televisiereeks Jopie Adam onthou, sal “Neem my saam (Wie weet?)” baie goed ken. Dit is ironies dat ’n reeks wat in Afrikaans oorgeklank is, ’n temaliedjie gehad het met inheemse woorde en musiek, maar dieselfde kan van “Pinocchio” van Mynie Grové gesê word. “Onthou jy nog” is al deur verskeie ander kunstenaars opgeneem en dit was die titelsnit van ’n album wat Carike Keuzenkamp in die 1980’s opgeneem het. “Skadu’s teen die muur” was die titelsnit van Koos se eerste album en dit bly een van sy bekendste, en beste, komposisies. “As almal ver is”, was die titelsnit van Koos se tweede album, en hierin het hy die gevoel van eensaamheid baie goed beskryf. “Boshoek” is een van ’n aantal komposisies waarin Koos bewys het dat hy geweet het hoe om ’n storie te vertel. Die laaste snit op die album is die pragtige liefdesliedjie “As jy my kon volg”. Dit het bewys dat Koos oor die liefde kon skryf sonder om sentimenteel te wees.

Daar is altyd ’n meningsverskil in die musiekbedryf; is dit beter om vier of vyf oktawe te kan sing maar met lirieke wat onuitstaanbaar is, of om nie eintlik meer as ’n oktaaf te kan sing nie maar tog met lirieke vorendag kom wat ’n sterk boodskap het? In hierdie geval wen ’n minder goeie stem met betekenisvolle lirieke elke keer. Wynand se stem pas perfek by Koos se musiek; tot só ’n mate dat ’n mens soms mooi moet luister om te hoor dat dit nie Koos self is wat gesing het nie. Hierdie album bewys ook dat Koos die beste liriekskrywer was wat Afrikaanse musiek tot dusver opgelewer het en dat hy nog nooit weer sy gelyke gehad het nie. As jy nog nie met Koos se musiek kennis gemaak het nie, kan jy gerus hierdie album by jou versameling voeg; later kan jy dan kyk of jy Koos se dubbele versameling, Volledig, in die hande kan kry.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!