Frank Opperman sit en leer woorde vir ‘n lewe

Aangename kennis – Early B
Desember 12, 2018
Lapa-uitgewers se lysie van boeke vir Kersfees
Desember 21, 2018

Deur Seugnet van Zyl

Dat mense hom ná byna 30 jaar steeds met die rol van Ouboet in Orkney Snork Nie assosieer, pla hom gladnie. Tog het hy nooit gedink dat dié rol só lank by hom sou bly nie.

Frank Opperman is glad nie soos dié Ouboet nie. Ja, jy kan Ouboet in hom herken, maar die man wat oor die straat in ’n denim, blou knopieshemp en baadjie in Melville, Johannesburg aangestap kom, is byna te koel vir Ouboet.

Vir ’n oomblik moet jy jouself knyp met die besef dat hierdie die einste man is wat die rol van Ouboet van Tonder in Orkney Snork Nie in die laat 1980’s vroeë 1990’s op TV vertolk het en waarmee jy grootgeword het, voor jou sit.

Hy is nou ouer en sy stem baie dieper as dié van Ouboet s’n destyds.

Dan lag hy met dieselfde diep lag.

“As ek vandag daarna kyk, kan ek sien hoekom dít stick. Orkney (Snork Nie) was hierdie beautiful stories. Dit was sulke great family entertainment gewees. Dit is hoekom mense steeds daarna kyk, want dis goeie familiewaardes. Dis waaroor dit gaan en mens kry nie meer vandag sulke reekse nie.”

Kan hy asseblief die bekende frase sê wat hom só bekend in dié reeks gemaak het?

“Poeksie Woepsie se Worsie Wapsie is nog baie lief vir hom,” gly dan oor sylippe. 

Hoe het hy destyds sy lag gehou as hy dié frase herhaaldelik moes sê?

Met dié diep stem sê hy dan weer: “Komedie is ’n ernstige ding.”

Jy besef dan meteens dat daar veel meer agter Frank steek.

’n Geloofwaardige karakter is wat hom na ’n rol, hetsy dit nou ’n humoristiese of meer ernstige rol is, aantrek.

“Solank ’n ou ’n geleentheid kan kry om ’n geloofwaardige mens te kan speel met beautiful dialoog, dis waarvan ek hou. Dit maak nie saak of dit ’n tragedie, komedie of wat ook al is nie.”

Dis juis daarom dat Frank sedert Orkney Snork Nie in ’n magdom ander TV-rolle, verhoogproduksies en rolprente opgetree het.

Dit sluit onder meer Die Vierde Kabinet, Gautengeleng, Pandjieswinkel, Munisipaliteit van Gwara Gwara, Vlug na Egipte en Ouboet en Wors in, om maar net ’n paar te noem.

Volgens Frank is The Big Time, waarin hy die Griek Chris Karedes kort na Orkney Snork Nie gespeel het, ná al die jare by verre sy gunstelingtelevisierol gewees. Dié televisiereeks is destyds ook met verskeie toekennings bekroon.

Hy verkies egter teater.

“Dit is vir my die lekkerste vorm, want jy kan hom altyd weer môreaand beter doen.”

Dit is hierdie uitdaging wat hom aantrek om dit oor en oor en sodoende beter te doen.

Frank repeteer tans aan sy sesde soloverhoogstuk, O, die donkie, in samewerking met die skrywer Dana Snyman.

Hy vertel hoe hy 14 jaar gelede vir Dana “oortuig” het om hulle eerste eenmanstuk te skryf nadat hy sy berigte as misdaadverslaggewer in Beeld gelees het. Die Uwe Pottie Potgieter was ’n dawerende sukses en is intussen deur Wyk 14, Rooi Kaart, Die Klaagliedere van ds. Tienie Benade en Hond opgevolg. Dana se skryfwerk gekombineer met Frank se talent op die verhoog, maak dit elke keer ’n wenresep.

“Dis wat ons doen,” sê Frank.  Hulle besluit elke keer saam op die tema en storielyn van dié toneelstukke.

Die Uwe Pottie Potgieter is later ook in ’n gewilde televisiereeks omskep en Dominee Tienie, gebaseer op Dana se verhoogstuk, sal van 25 Januarie volgende jaar op die grootskerm te sien wees. Dominee Tienie het in Augustus vanjaar by die kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai gedebuteer. Nog ’n fliek, ’n Ander mens, waar Frank sy toga verruil en ’n boef speel, het gelyktydig by die Silwerskermfees gewys. Dié rolprent sal in April 2019 in teaters wys.

Nog ’n toneelstuk waarin Frank by Aardklop vanjaar te sien was waar hy saam met Joanie Combrink ’n ouerpaar, wat agterbly as hul kinders die land verlaat, gespeel het, is Toutjies en Ferreira deur Saartjie Botha. Dit loop tans voor met agt benoemings vir kykNET se Fiësta-teaterpryse. Tussendeur het hy ook aan die tweede seisoen van Ouboet en Wors geskiet.

 “Dis wat ek vir ’n lewe doen ­­– sit en woorde leer. Jy lees so woord, terwyl jy die res van jou lewe doen. Ek het gelukkig ’n dogtertjie (Ena) wat in ’n Engelse skool is, wat saam met my, my woorde leer. Dis haar Afrikaanse oefening.”

Om musiek te maak, is wat hy eintlik die meeste geniet om te doen. Hy beskou homself as ’n closet rock star.

“Dis eintlik my ding.”

Met die tweede seisoen van Die Ooms se band tans op TV, leef hy ook dié droom uit. In dié werklikheidsreeks word Frank en Pierre van Pletzen se droom saam met die musikante Anton L’Amour en Leon Ecroignard waar, waar hulle ’n rockgroep Harrebaard stig.  Frank het 25 jaar gelede vir Pierre gesê hulle karakters Ouboet en Spike in Orkney Snork Nie gaan nog ’n band begin.

Frank (58) het aanvanklik regte studeer aan die Universiteit van Pretoria, maar hy het gou belangstelling verloor en in 1980 by die Suid-Afrikaanse weermag aangesluit waar hy in ’n marsjeerorkes gespeel het. Nadat hy die weermag verlaat het, het die dramagogga hom gebyt waarna hy ’n nasionale diploma in drama aan die destydse Technikon Pretoria verkry het. Vir die volgende twee jaar het hy vir die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (Truk) gewerk en in vele produksies gespeel. Hy het ook saam met die Suid-Afrikaansgebore Arnold Vosloo in ’n vollengte rolprent, Boetie gaan border toe, gespeel. Frank se gewildheid het egter regtig eers as Ouboet in Orkney Snork Nie begin toeneem.

By die huis in sy tuisdorp, Melville, is Frank vandag ’n pa van twee, oupa van een en ’n lewensmaat.

Hy en Esmarie Meyer, sy lewensmaat, en hulle dogter, Ena (12), bly langs sy seun, Frankie (31) en dié se seun, nog ’n naamgenoot, Frankie (10 maande).

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!