Jaco Jacobs: “Lees verruim ’n kind se wêreld”

Mari Bosman: Die swerwer met haar kitaar en haas
Desember 21, 2018
Flink se medewerker wen Persklub-prys
Desember 21, 2018

Deur Seugnet van Zyl

Twee van die kinderboekskrywer Jaco Jacobs se boeke is onlangs op die jaarlikse Suid-Afrikaanse Letterkundetoekennings (Sala) bekroon nadat hy enkele dae voor die tyd ook vir Brittanje se oudste en spoggerigste kinderboekprys, die Carnegiemedalje, vir die Engelse vertaling van sy boek ’n Goeie dag vir boomklim benoem is. F

Wanneer pak die inspirasie jou beet?

Ek is allermins ’n naguil. Die meeste aande is ek teen negeuur al in die bed. Miskien is dit omdat ek op ’n Karooplaas grootgeword het, waar almal voor die hoenders opgestaan het, maar dis vir my geen probleem om soggens vieruur of vyfuur op te staan om te gaan draf of te begin skryf of vertaal nie. Daardie tyd van die oggend is my kop skoongeslaap en propvol idees. Moet my egter nie vra om smiddae ná drieuur of vieruur enige iets te doen wat kreatiwiteit of inspanning verg nie – daardie tyd van die dag is my brein broodpoeding.

156 boeke? Het jy ooit gedink dít sal realiseer?

Nee, in die beginjare van my skryfloopbaan sou ek nie eens daarvan kon droom om soveel boeke te publiseer nie. Die lekker ding van die kinder- en jeugboekgenre is dat dit baie uiteenlopend is – van prenteboeke vir kleuters tot beginnerleesboeke tot tienerboeke, van rympies tot reeksboeke en niefiksie. Omdat ek al ’n verskeidenheid subgenres binne die kinderboekgenre aangepak het, voel dit nie vir my of ek heeltyd met dieselfde ding besig is nie. Soms wonder ek self hoe op aarde dit gebeur het dat ek meer as 150 boeke gepubliseer het – die meeste van die tyd voel dit vir my of ek net lang tye na die rekenaarskerm sit en staar en sukkel en sug. Maar iewers tussen al daardie gestaar en gesukkel en gesug deur, lyk dit of ek darem soms iets geskryf kry!

Met hoeveel boeke loop jy nog in jou binneste rond?

Ek het geen idee hoeveel boeke ek nog in my het nie. Soms voel dit of my storie-idees boomskraap is … en dan begin ek maar weer met idees rondspeel totdat ek iets kry wat my opgewonde maak.

Wat sou jy sê is jou suksesgeheim?

O aarde, ek het geen idee nie. Ek het nog nooit aan my skryfloopbaan of my skryfwerk in terme van enige “suksesgeheim” of selfs in terme van “sukses” gedink nie. Ek sit maar net elke dag by my rekenaar en doen dit wat ek die meeste geniet – om stories en rympies vir kinders uit te dink, en boeke te maak wat kinders hopelik sal geniet. Ja, ek skryf beslis die soort boeke wat ek as kind graag sou wou lees. As ek stoksielalleen hier in my kantoor sit en werk en skielik hardop proes van die lag, is dit gewoonlik vir my ’n aanduiding dat ek op die regte spoor is met ’n storie …

Hoe voel jy oor jou onlangse toekennings?

Toekennings is natuurlik ’n groot eer en ’n voorreg en ’n lekkerte, maar ek is regtig doodeerlik as ek vir jou sê ek steur my nie te veel daaraan nie. Ek skryf in die eerste plek om ’n storie te vertel so goed as wat ek kan, om karakters te laat lewe kry, en om lesers te probeer vermaak – nie om pryse te probeer wen nie. As ’n boek dan wel bekroon word, voel dit altyd so half vir my asof dit nie ek is wat die eer verdien nie, maar eerder die storie self.

Hoekom is dit vandag belangrik om kinders lief te maak vir lees?

Daar is so ontsettend baie redes om jou kinders van babatyd af lief te maak vir lees en vir boeke. Die maklikste om te verduidelik is sekerlik skoolprestasie. Daar is duisende artikels op die internet beskikbaar waarin kenners verduidelik waarom dit so belangrik is vir ’n kind se ontwikkeling en latere akademiese prestasie om vroeg reeds ’n liefde vir lees en rympies en stories te kweek. Maar selfs meer as dit: Lees verruim ’n kind se wêreld, maak dit eindeloos groter as die gemeenskap of die kultuur of die land waarin hy of sy grootword; stories leer ons om die wêreld deur ander mense se oë te sien, om met empatie te leef en respek vir ander mense se binnewêreld en sienings te hê. En daarin lê die eintlike groot waarde van stories.

Watter boek/e sal jy graag in jou eie Kerskous wil hê en watter boek/e sal jy graag vir iemand anders present wil gee?

Ek het nog nie die nuwe Stephen King-boek (The Outsider) gelees nie – skimp-skimp, Kersvader. En ek sou graag David Walliams se nuwe kinderboek, The Ice Monster, in my Kerskous wil hê, maar ek is seker ek gaan nie tot Kersfees kan wag om dit te lees nie. Ek het vanjaar ’n wonderlike, prettige rympieboek deur die Amerikaanse skrywer Chris Harris en die illustreerder Lane Smith ontdek, met die titel I’m Just No Good at Rhyming – ek wens ek kon ’n kopie daarvan in elke liewe kind se Kerskous sit!

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!