Mari Bosman: Die swerwer met haar kitaar en haas

Protea Boekhuis stel die boeke vir die feestyd voor
Desember 21, 2018
Jaco Jacobs: “Lees verruim ’n kind se wêreld”
Desember 21, 2018

Deur Yolanda Barnard-Lemmer

Musiekskuur. Rockwood-teater.  Pretoria. 11-uur die oggend. “Ek gaan rol,” sê die kameraman. Aksie. Sy tik-tik haar voete op die maat van onhoorbare musiek. Ongeverfde toonnaels in tankleurige sandale. Die teater is donker. Stilte. “Mari, is jy reg?” vra die kameraman.

En aksie. Dié keer is daar musiek en Mari Bosman se melancholiese Lindt-sjokolade stem vul die teater.  Iemand wat my optel, my troos as ek huil. En wat weer my bootjies na stilte laat seil. Ek bid vir ’n man …. ’n man soos my pa.” Haar sterk vingers pluk oor die kitaarsnare.

En sny, sê die kameraman. “Mooi, Mari. Jy het lekker baie engergie.”

Energie, dít het die 32-jarige donkerkop van die Kaap wat met haar glimlag so wit soos die Kaapse strande en bruingebrande, stewige kuite, besig is om noot-vir-noot teen die Afrikaanse musiekleer te klim. So tikkie Laurika Rauch, beskryf die musiekkenners haar styl. Die begin van ’n nuwe musiek-en-liriek-beweging, in Afrikaans, kwyl resensente.

En ’n mens kan amper sê sy is ’n YouTube-sensasie, want toe sy op Vadersdag die akoestiese weergawe van ’n Man soos my pa op dié videokanaal gelaai het, het musiekliefhebbers gekliek en gedeel. Gekliek en gelike. Amper 200 000 keer. Sy het dié liedjie opgeneem en dit boer vandag op plaaslike radiostasies se trefferparades.

Sy vee die laat lentesweet uit haar oë en sak sugtend op die stoel neer. Die tweede toneel van haar musiekvideo van ’n Man soos my pa is pas geskiet. “Dit is ’n eenvoudige storie wat die verhaal vertel van ’n pa en dogter. Sy word ’n bekende sangeres en haar pa is haar grootste ondersteuner. Dit is ook ’n liedjie wat goed opsom wat ek eendag in my lewensmaat soek.”

Het sy al ’n man soos haar pa gekry? Voordat sy die vraag kon beantwoord, verskyn Marcus Muller, wat die rol van André Vosloo in 7de Laan vertolk, in die deur wat uit die teater loop. Sy swart hare deurspek van wit lyfpoeier. “Jy moet onder die stort kom,” lag Mari. “Ons moes hom ’n bietjie ouer laat lyk vir sommige van die tonele. En nee, ons is net goeie vriende …”  Marcus se oë skuif waarderend oor die bruin kuite wat onder die rok uitloer.  Mari rem die geblomde rok oor haar knieë. “Ek het eintlik nooit rokke nie. Ek is maar ’n denim- en leerbaadjiemeisie. “Jy lyk goed in rokke,” fluit Markus.  

“Nee,” sê sy, toe Markus ’n draai gaan loop, “ek is enkellopend. Ek het altyd gedink ek sal my trouman in die Pretoria kry, want die Kaapse mans is maar dun gesaai. Nou is dit maar net ek en Pokkels, my troetelhaas wat in my tuinwoonstel bly.  Pokkels se asempie is darem daar.”

Sy is nou al ’n jaar in Pretoria, dié boorling van die Paarl wat op ’n dag iewers in die somer besluit het om haar aardse besitting in haar motor te laai en Pretoria toe te ry. “Ek het niemand híér geken nie. Ek het my kitaar gevat en van kuierkroeg tot kuierkroeg gegaan. Vir die eienaars ’n liediie gespeel en hulle het my bespreek.”

Die geld was min, die ure lank. Teerpaaie uitgestrek. Kilometer na kilometer vir R500 en ’n glas wyn per aand gespeel. “Die musiekbedryf is moeilik,” sê Mari, “daar is so baie gevestigde kunstenaars – maar ek is stadig maar seker besig om uit die kuierkroeë te beweeg en hopenlik sal ek binnekort dié teater kan volmaak.”

Mari het ’n BSc-graad met spesialisering in Marinebiologie aan die Universiteit van Stellenbosch behaal, maar het tydens haar studentejare in kuierkroeë begin sing. Daar was die Dorspteater waar sy in voorprogramme vir sangers soos Valiant Swart en Koos Kombuis opgetree het. “Ek het ’n nagraadse diploma in onderwys gedoen omdat ek wou sing. Ek kon dus ’n jaar langer op universiteit bly.”

Naweke het sy die branders gaan ry. Elke golf ’n groter uitdaging as dáárdie eerste een.  En kitaar gespeel. “My ma het, toe ek in graad 3 was,  kitaarlesse geneem. Sy het ’n paar jaar later ophou speel en ek het besit van haar kitaar geneem. Ek het myself leer speel.”

Na haar studies het sy aan die Paarl Gimnasium, op haar tuisdorp, begin skoolhou.  Biologie en Wetenskap aangebied. Maar ses jaar later het die gekrys van die wit kryt op die bord té veel geraak. “Ek het toe besluit om op te pak en Pretoria toe te kom. Die Kaapse musiekkultuur het homself begin doodbloei. Teaters, soos die Dorpsteater op Stellenbosch, het toegemaak. Teaters loop leeg. In Pretoria is die musiekbedryf darem nog lewendig. Ek weet sukses gaan nie oornag gebeur nie, maar ek kan en wil nie opgee nie. Ek doen darem al hoe meer voorvertonings vir bekende sangers soos Theuns Jordaan.”

Die regisseur, die kameraman en die akteur (dit is nou Markus) begin hulle parafernalia bymekaar kry. Toneel drie word nou geskiet. Mari gooi haar donkerbruin hare oor haar skouer. Blaas haar kuif uit haar oë.  Sy is nice, sê die ander sangers. Onopgesmuk. ’n Meisie met ’n kitaar oor haar skouer, fris kuite en ’n ballade in die hart.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!