Penguin Random House se boekkeuses vir Kersfees

Lapa-uitgewers se lysie van boeke vir Kersfees
Desember 21, 2018
Protea Boekhuis stel die boeke vir die feestyd voor
Desember 21, 2018

Katelknaap deur Leon van Nierop

Tristan Hansen is terug in Katelknaap, Leon van Nierop se stomendste roman nóg. Dié gigolo waarvoor Johannesburg se rykste vroue duisende rande betaal, het in Die plesierengel, sowat twintig jaar gelede, sy eerste verskyning gemaak, maar daar is veel meer oor sy lewe te vertel. Die karakter is losweg op ’n ware persoon gebaseer en die roman begin op die vooraand van Tristan se sewe-en-twintigste verjaarsdag.

Die lang man sonder skaduwee deur Antoinette Pienaar

In Antoinette Pienaar se nuwe boek, Die lang man sonder skaduwee, sit sy haar reis met Karookruie en hul genesende krag voort soos sy reeds vir baie jare in haar weeklikse program oor RSG doen. Antoinette werk al reeds vir jare in die Karoo saam met oom Johannes Willemse, die legendariese Griekwa-medisyneman. Saam gebruik hulle die helende kragte van kruie om mense se lywe en siele te dokter.

Gifbeker deur Irna van Zyl

Gifbeker volg op die sukses van haar eerste roman, Moordvis. Die roman skop af met ’n dramatiese toneel waartydens ’n omstrede kosblogger in een van die spoggerigste restaurante op Hermanus dood neerslaan – moontlik weens vergiftiging. Die boek deel juis sy naam met die wêreld se giftigste sampioen.

Patagonië deur Maya Fowler

Die skrywer en vertaler Maya Fowler se nuwe roman, Patagonië, neem die leser op reis na die hinterland van Patagonië, waar Afrikaans tot vandag toe nog gepraat word. Tertius de Klerk is ’n afgeleefde professor wat geskiedenis aan verveelde studente doseer. Wanneer sy dronk eskapade met ’n student op sosiale media verkondig word, konfronteer hy haar in haar woonstel. ’n Gruwelike ongeluk dwing hom om te vlug.

Die hond wat ophou blaf het deur Jo Nel

In Die hond wat ophou blaf het, ’n opwindende nuwe debuutroman, word jou ergste nagmerries oor bloeddorstige tandartse waar. Hoofkarakter Izak Hugo is gefrustreerd. Hy haat sy praktyk in Port Elizabeth en smag na ’n meer vervullende lewe. Sy frustrasies bou so op dat hy sporadiese oomblikke van geheueverlies ervaar. Die dokters reken daar is ’n verband tussen sy geheueverlies en migraines, maar dit verklaar nie die donker, gewelddadige beelde wat hom snags teister nie..

Wrok deur Beyers de Vos

In dié aweregse misdaadroman, breek die opwindende nuwe stem van Beyers de Vos alle reëls. Die roman speel in Pretoria af en volg vyf karakters in hul soeke na wraak en vergelding.

Aankoms en vertrek deur Pat Stamatélos

In Aankoms en vertrek blaas bobaasstorieverteller Pat Stamatélos met haar gebruiklike humor en ligte aanslag asem in ’n handvol karakters wie se lewens deur omstandighede op die spits gedryf word. Die roman is ook as ’n e-boek beskikbaar.

Ingrid Jonker – ’n Biografie deur Petrovna Metelerkamp

Metelerkamp bring nuwe inligting aan die lig wat sy neem uit onbekende nuwe briewe en dagboekinskrywings, o.m. uit die dagboeke van Jack Cope. Talle nuwe onderhoude met mense wat Jonker geken het, word in die biografie opgeneem. Sy weerlê ook die beeld van Jonker as ’n ongebalanseerde kunstenaar wat haar houvas op die werklikheid verloor het in hierdie toeganklike biografie oor een van Suid-Afrika se aangrypendste kunstenaars.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!