Protea Boekhuis stel die boeke vir die feestyd voor

Penguin Random House se boekkeuses vir Kersfees
Desember 21, 2018
Mari Bosman: Die swerwer met haar kitaar en haas
Desember 21, 2018

50 Blertse Blou

50 Blertse blou is ’n keur uit Blouwillem se tong-in-die-kies-rubrieke in Beeld, Die Burger en Volksblad. Dié rubrieke het van hom ’n berugte openbare persoonlikheid gemaak. Hy spot met onder andere aktuele sake in Suid-Afrika.

Boomhuis met 13 vloere deur Andy Griffiths

Andy en Terry woon in die beste boomhuis ter wêreld! Dit het ’n geheime ondergrondse laboratorium, ’n reusetenk vol haaie en ’n malvalekker-masjien wat oral agter mens aanrol en malvalekkers in jou mond in skiet net wanneer jy honger is! Pasop net vir die see-apies, en dié wat voorgee om see-apies te wees, en die reuse-meerminseemonster …! En tussendeur al hierdie pret, moet die twee vriende ’n boek skryf, en die sperdatum is môre!

Die Alchemis deur Paulo Coelho

Hierdie verhaal, skitterend in sy eenvoud, gaan oor ’n Andalusiese skaapwagter genaamd Santiago wat uit sy vaderland Spanje vertrek en deur Egipte se woestyn reis op soek na ’n skat wat by die piramides begrawe is. Langs die pad ontmoet hy ’n sigeunerin, ’n man wat homself ’n koning noem, en ’n alchemis. Hulle almal help Santiago om tydens sy soektog op koers te bly. Niemand weet wat die skat is en of Santiago die struikelblokke langs die pad sal oorkom nie.

Eendag in ’n woeste woud deur Chris Riddell

Groenkappie is op pad na Raponsie se partytjie, ver weg in die woeste woud. Die pad is lank en vol gevare, maar Groenkappie weet net hoe om die gevare te vermy. Op haar pad los sy sommer ’n hele paar sprokieslandprobleme op – onder andere een van ’n ondier met ’n gebroke hart. Die boek is ’n verbeeldingryke, wonderlike storie vol sprokieskarakters soos mens hul nog nie vantevore gesien het nie, soos Rooikappie, Duimelientjie, Raponsie, die sewe dwergies, Skoonlief, en nog heelwat ander.

Heerser van die ringe: Die kameraadskap van die ring deur J.R.R. Tolkien

Hoewel J.R.R. Tolkien se ikoniese Die heerser van die ringe geen bekendstelling nodig het nie, is die Afrikaanse vertaling daarvan ’n geweldig opwindende eerste.

Kerneels en die krismisengel deur Wendy Maartens

Kerneels is ’n agtjarige seuntjie met kortgeskeerde hare en ’n stukkende groottoon. Sy ma is ’n skoonmaakster by ’n winkelsentrum, en wanneer sy nagskof werk, moet Kerneels saamgaan. Hy trek dan sy pajamas onder sy klere aan, en sy ma maak vir hom ’n bed in die stoorkamer waar die skoonmaakgoed gebêre word. Dis vir Kerneels baie lekkerder by die winkelsentrum as by die huis.

Die lelike vyf deur Julia Donaldson

“Ons vyf is misbaksels, ons voel ons kan ween; so vaal en misvormd, o, waar moet ons heen?” Ontmoet die vaal blouwildebees, die giggelende hiëna, die bles aasvoël, die vlakvark met sy vratte en die vuil maraboe: alom bekend as die lelikste diere van die Bosveld … maar is hulle werklik so lelik?

Liefdegroete, Grootseun: Kronieke van ’n dominee deur Barend Vos

Die geliefde dominee Barend Vos se sketse oor die lewe van ʼn predikant en sy gesin in ʼn plattelandse gemeente het tot op hede in vyf bundels verskyn. Dié sketse verskyn die afgelope tien jaar elke maand in die tydskrif Lig, met illustrasies deur Fred Mouton. In Liefdegroete, Grootseun word ʼn dertigtal van Vos se Grootseun-stukke wat die afgelope jare in Lig verskyn het, byeen gebring as keur van die meer as 100 wat sedert sy laaste versameling verskyn het.

Die middernagbende deur David Walliams

Die middernagbende is David Walliams se negende kinderroman. Toe ’n krieketbal Tom se kop tref, moet hy Lord Funt-hospitaal toe gaan, waar hy ontvang word deur ’n man met die skrikwekkendste voorkoms wat hy nog ooit gesien het. En net toe hy dink dat dinge nie erger kan word nie, ontmoet hy die bose matrone wat in beheer is van die kinderafdeling … 

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!