Flink se medewerker wen Persklub-prys
Desember 21, 2018
Mal oor jou – Tarryn Lamb
Desember 27, 2018

Nadat Romanz ’n paar jaar gelede ontbind het, was daar nog nie weer ’n mans-sanggroep wie se musiek gemik was op ’n gehoor wat op soek was na iets wat meer om die lyf het as die gewone kommersiële musiek wat elke dag op die radio gehoor word nie.

Die groep bestaan uit vier lede, Mynhardt Kruger, Dawid de Wet, Juandré van den Berg en Frederic Dacomb, en hul eerste album, Bly lief vir my, is in 2018 vrygestel. Die titelsnit is die eerste snit op die album, en dis van die begin af duidelik dat hulle regtig kan sing. Rudi Claase en Neil Schoombee het dit geskryf. Hierdie snit behoort ’n groot treffer te word. “Grootste liefde”, met Afrikaanse woorde deur Neil Schoombee, is nog ’n moontlike treffer. Dis duidelik dat hulle sangopleiding gehad het, want hul tegniek is besonder goed. Dis ook lekker om ’n sanggroep te sien waar tenoor- en basstemme ewe belangrik is, aangesien daar min basstemme is wat op CD opgeneem word. Serenade het egter nie net hul eie snitte opgeneem nie, maar ook ’n aantal bekendes. Die eerste daarvan is Kurt Darren se groot treffer “Hemel op Tafelberg”. Hulle maak dat ’n mens van voor af luister na ’n liedjie wat gereeld oor die radio gehoor word. “Hier is my siel” is ’n mooi snit wat bewys dat hulle ook rustige musiek kan sing. Neil Schoombee en Rudi Claase het saamgespan vir “Picasso”, nog ’n moontlike treffer. “Barcelona” het ’n baie groot gunsteling geword onder kunstenaars wat ligte en klassieke musiek kombineer; Serenade sing dit saam met Erin Beck. Die grootste verrassing op die album is egter die volgende: wie het gesê ’n liedjie is te nuut om weer opgeneem te word? Jo Black het verlede jaar ’n reusetreffer met “Bring die hoop weer terug” gehad, en Serenade het dit nou ook op hierdie album ingesluit. Serenade se weergawe is skitterend; dit wys dat hierdie liedjie ewe geskik vir ’n groep as vir ’n solokunstenaar is. Neil Schoombee en Rudi Claase het saamgespan vir “My stukkende wens”; nog ’n baie goeie snit.

In 1994 het Bryan Adams, Rod Stewart en Sting ’n groot treffer gehad met “All for one”, uit die rolprent The Three Musketeers. Serenade se weergawe is uitstekend; enige tyd net so goed soos die oorspronklike een. “As die waarheid vir my skree” is nog ’n uitstekende nuwe komposisie van Rudi Claase en Neil Schoombee. “Somerserenade” is ’n komposisie van Don Kelly, Sean Butler, Neil Schoombee en Nerine Gardiner; dit is beslis ’n snit met trefferpotensiaal! “Lugballon” is ’n komposisie van Sean Butler; nog ’n baie goeie snit! Die laaste oorspronklike snit, asook die laaste Afrikaanse een, is “Met nuwe oë”. “Go the distance” is oorspronklik deur Michael Bolton vir die rolprent Hercules opgeneem; Serenade se weergawe is uitstekend.

Te midde van musiek wat in massaproduksie opgeneem word, kunstenaars wat van “auto tune” gebruik maak en oppervlakkige lirieke, is dit goed dat daar weer ’n groep is wat regtig kan sing en wat musiek van hoogstaande gehalte voortbring. Hopelik sal Senerade net so gewild soos Romanz word, indien nie méér nie!

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!