Mal oor jou – Tarryn Lamb
Desember 27, 2018
The country collection – Steve Hofmeyr
Desember 27, 2018

Sedert Manie Jackson omtrent tien jaar gelede ’n kontrak by een van ons land se vernaamste platemaatskappye gekry het, het hy baie gedoen om die leemte wat Bles Bridges se dood gelaat het, te vul.

Manie is een van daardie kunstenaars wat nie net nuwe Afrikaanse liedjies opneem nie, maar ook al bekende liedjies nuwe lewe gegee het. Met sy nuwe album, Op ’n hoë noot, het hy iets van albei gedoen. Die eerste snit is die eerste enkelsnit, “Donker hart”, wat deur Rudi Claase geskryf is. Dit is reeds besig om ’n treffer te word. Werner Beukes en Christiaan van Zyl het saamgespan om die volgende snit, “Vrou uit ’n miljoen”, te skryf. Dit is beslis ’n moontlike treffer. Manie het die Afrikaanse woorde vir “Onthou se jodel” geskryf; dit laat ’n mens terugverlang na die dae toe die lewe eenvoudiger was. Manie het ’n weergawe van “Die Onse Vader”, op die wysie van “Auld lang syne” ingesluit; dit is eintlik ’n vertaling van Cliff Richard se “Millenium prayer”. “Santa Maria” is nie Alan Garrity se treffer nie, maar ’n nuwe Afrikaanse liedjie. Manie het al Gé Korsten se treffer “Nicolene” opgeneem, en hierdie keer kom “Liefling” aan die beurt. Manie se stem pas baie goed by hierdie liedjie en al het soveel kunstenaars dit al voorheen opgeneem, is Manie se opname baie goed. Manie sukkel glad nie om die hoë note by te kom nie. Die volgende snit is nog ’n groot treffer van weleer, naamlik “Delilah” van Tom Jones. Hierdie liedjie is baie moeilik om te sing, maar Manie kry dit baie goed reg. Don Kelly en Adolf Vorster het “Goeie genade” saam geskryf; dit is nog ’n moontlike treffersnit. “Blue Spanish eyes” is deur die Duitse orkesleier Bert Kaempfert geskryf, en deur onder meer Al Martino en Engelbert Humperdinck opgeneem. Dit pas baie goed by Manie, en dit sal beslis by sy aanhangers aanklank vind. Ghapi het ’n paar jaar gelede ’n absoluut aaklige rock-opname van die bekende lied “Praat ek mense engele tale” gemaak, maar gelukkig het Manie die saak reggestel met ’n baie beter weergawe met ’n meer klassieke aanslag. “Cucurucucu paloma” was ’n baie groot treffer in die 1960’s en dis goed dat Manie dit in Engels eerder as in Afrikaans opgeneem het. Rudi Claase het “Lief en lewe” saam met Neil Schoombee geskryf; hier is nog ’n moontlike treffer. “Take good care of my baby” was onder meer ’n treffer vir Smokie nadat Bobby Vee dit in die 1960’s oorspronklik gesing het. Dis goed om ’n nuwe opname daarvan te hoor. “My world” is nog ’n uitstekende snit; dit is die Engelse weergawe van die Italiaanse treffer Il “Mondo”; dit is al deur Engelbert Humperdinck opgeneem maar dit word nie meer so gereeld gehoor nie. “Die hemel weet” was Manie Jackson se eerste groot treffer, en die laaste snit op die album is ’n nuwe weergawe daarvan saam met die kindersanger Keegan Rossouw.

Manie het weer met sy nuwe album bewys dat hy feitlik enige musiekgenre kan baasraak en dat hy nuwe liedjies en ou gunstelinge ewe goed kan sing. Hierdie album is op ’n breë gehoor gemik en kan baie sterk aanbeveel word.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!