Op ’n hoë noot – Manie Jackson
Desember 27, 2018
Mis eet slaap herhaal – Demi Lee Moore
Desember 28, 2018

Die afgelope dertig jaar is Steve Hofmeyr een van Suid-Afrika se bekendste persoonlikhede in die vermaaklikheidsbedryf, en hy het al meer as een keer bewys dat hy ’n ewe goeie akteur en sanger is.

Steve handhaaf ’n balans tussen oorspronklike komposisies en bekende snitte en nadat hy verlede jaar sy jongste Afrikaanse album, Skree, vrygestel het, het hy hierdie keer besluit om weer ’n album met bekende snitte op te neem.

The country collection volg op sy suksesvolle album If you could read my mind, wat omtrent twee jaar gelede verskyn het. Soos hy self sê, bevat dit liedjies wat sy aanhangers aangevra het. Die eerste snit is deur ’n kunstenaar wie se musiek perfek by Steve se stem pas. Kenny Rogers se eerste groot treffer in Suid-Afrika was “Lucille”, en Steve se weergawe is omtrent net so goed soos die oorspronklike een. Die volgende snit is ’n klassieke country-liedjie, naamlik B.J. Thomas se (Hey won’t you play another) “Somebody done somebody wrong song”. Steve kan klassieke country ook baie goed sing. Bruce Springsteen se groot treffer “Dancing in the dark” is dalk nie country nie, maar wat maak dit saak? “The ballad of the green berets” van Sgt. Barry Sadler was ’n reusetreffer in Suid-Afrika en is die afgelope vyftig jaar al verskeie kere opgeneem, maar Steve se weergawe is een van die bestes tot dusver. Steve wys ook op hierdie snit dat hy baie goed kan fluit. “Woman (beautiful woman)” van Don Gibson was seker een van die heel grootste country-treffers ooit in Suid-Afrika; dit was byna sewe maande lank op Springbok Radio se Top 20. Weer eens het Steve ’n baie goeie weergawe daarvan opgeneem. Nog ’n reusetreffer wat Steve ingesluit het, is “Baby makes her blue jeans talk” van Dr. Hook. Dit is seker die eerste nuwe opname van hierdie liedjie sedert dit ’n treffer geword het, en baie mense sal bly wees dat Steve dit ingesluit het.

Bob Seger and the Silver Bullet Band se musiek is nie heeltemal so gewild in Suid-Afrika soos dit moet wees nie, en daarom is dit goed dat Steve hul treffer “You’ll accompany me” ingesluit het. “Kiss you all over” van Exile was ’n reusetreffer, en Steve stel sy lae en hoë register baie goed ten toon op hierdie snit. “Crossfire” was een van The Bellamy Brothers se groot treffers en Steve het ’n baie goeie weergawe daarvan opgeneem. Steve het vir Demi Lee Moore, die wenner van Die Kontrak, nader getrek om Don Williams se treffer “Amanda” saam met hom te sing. Demi Lee se harmonieë is regtig iets besonders en dis maklik om te verstaan hoekom sy Die Kontrak gewen het. Dan Hill se treffer “Sometimes when we touch” bly maar mooi, en Steve se opname daarvan is baie goed. “Dancing the night away” was ’n treffer vir Leo Sayer; nie vir The Mavericks soos wat dit op die omslag aangedui word nie. Wie ook al daarvoor verantwoordelik was, het hierdie liedjie verwar met The Mavericks se treffer “Dance the night away”, wat iets heeltemal anders is. Hoe ook al, Steve se opname van Leo Sayer se treffer is uitstekend. Eric Carmen se treffer “Hungry eyes” het oorspronklik op die klankbaan van die rolprent Dirty dancing voorgekom, en dit word nog gereeld oor die radio gehoor. Steve het gewaag met die laaste snit, “My way” van Frank Sinatra. Dit is nie ’n maklike liedjie om te sing nie maar Steve het dit goed reggekry.

Steve is ’n bewese liedjieskrywer wat in albei tale kan skryf en sing, en daarom hoef hy niks meer te bewys wat oorspronklikheid betref nie. Hy is seker een van die mees produktiewe Afrikaanse liedjieskrywers tot nog toe, en sy komposisies is al deur verskeie kunstenaars opgeneem. Hierdie album is egter Steve op sy beste; hy het die snitte daarop sorgvuldig gekies en sy vertolking van feitlik elke snit is baie goed. Die feit dat dit dadelik so gewild geword het, behoort niemand te verbaas nie.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!